Handelinge 1:1-14

Datum: 4 Februarie 2018

Prediker: Jandré Viljoen

Inleiding

Hoe dink ons oor sending?  Hoe dink ons oor die werk van die Here en ons opdrag in Matteus 28?  Is sendelinge net die geroepe mense wat in 4x4’s klim en na die uithoeke van die wêreld ry?  Of bevat die opdrag ‘n inhoudelike werklikheid vir ons almal?

Ek kan onthou, as ‘n 18 jarige seun, hoe ek in ‘n blou Toyota Condor & Nissan Sani deur die velde en paaie van Botswana en Mosambiek gery het.  Ek kan onthou hoe ek na mense se stories en hartseer moes luister.  Ek kan onthou hoe ek ‘n swart plaas gemeente in die hartjie van Limpopo moes bedien.  Ek kan onthou hoe ek kos moes bedien op die ashope van Warmbad.  Dit was baie goeie herinneringe.  Herinneringe wat my lewe vir altyd kom verander het.

Ek kan ook die slegte herinneringe onthou.  Die tye wat ek voor gemeentes moes staan om bewustheid te kweek oor sending.  Met die hoop dat iemand dalk betrokke raak in ‘n gebed hoedanigheid.

Hoekom gebed?  Want dit was die anker van my bediening.  Dit was ander mense se gebede wat dit moontlik gemaak het dat God, deur my, ‘n verskil kan wees.

Met die lees en voorbereiding van hierdie boodskap het ek net weer bewus geraak van God se wonderwerke in my eie lewe oor die laaste 18 jaar in my bediening.  Hoekom?  Want mense het gebid.  Niks kon in my 18 jaar van bediening gebeur het as ander nie vir my gebid het nie.

Ek wil baie graag vanuit vanoggend se skrifgedeelte net twee punte aanraak en vanuit hierdie twee punte twee praktiese uitdagings vir julle los – uitdagings waarby julle kan betrokke raak.

So, wat hou hierdie skrifgedeelte vir ons in?  Hoe kan ons betrokke raak?  Wat hou Jesus se opdrag vir ons ook in?

1) Jesus se opdrag bevat beloftes

As ons Handelinge 1: 8 lees, openbaar Jesus sy beloftes aan die dissipels – ‘n belofte wat ons kan terug trek na ‘n vroë opdrag:

“…maar Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Jude?a en Samari?a en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”

Dit is so mooi om te sien hoe die toekoms gerigte taak en toerusting van die dissipels hier ‘n werklikheid raak.  Die krag van die Heilige Gees is ‘n belofte dat hulle krag sal ontvang om goed te doen wat hul in die verlede nie voor kans gesien het nie.

Hulle sou naamlik getuies van Jesus wees.  Alles wat hulle sou doen en sê, sou in die toekoms saam gevat word in die woorde: Getuies van Jesus.  Hierdie werklikheid van om ‘n getuie te wees, sou later omtrent al die dissipels se lewens kos.

As jy kyk na die historiese boeke kan mens nie anders as om te sien hoe hierdie werklikheid – van om ‘n getuie te wees van Christus – ‘n radikale werklikheid was nie.

In die eerste 400 jaar van Christenskap, het die kerk se ontstaan 4 groot vervolgings oorleef.  Jy lees stories van Petrus en sy dood onder Nero se leierskap.  Jy lees van Ignatius en Athanasius en vele ander gelowiges.

Een van die hartseerste stories was ‘n verhaal wat afgespeel het in 200 jaar na Christus en hoe 120 mense aan mekaar gebind was in die winter en verkluim het.  Dit bloot net omdat ander gedink het hulle was Christene.

Die woord Christen was ‘n ander realiteit in die antieke kerk.  Dit was ‘n woord wat gebruik was binne ‘n martel konteks.  Mense was vervolg tot die dood toe as gevolg van Christenskap, maar binne ons moderne konteks beteken Christenskap ‘n merkie op ‘n papier.

Wat die eerste 400 jaar na Christus se Christene vir my los is egter ‘n ander werklikheid.  Hulle bestaan was gebou op die belofte van Handelinge 1: 8 – Julle sal krag ontvang.  Julle sal krag ontvang om ‘n getuie te wees van my liefde.  As jy na die geskiedenis boeke kyk kan jy sien waaroor die belofte gaan.

Ek lees in die week weer Justo L. Gonzalez se boek oor “The Story of Christianity” en raak diep bewus van ‘n ander tipe storie.  Mense wat moes betaal het met hul lewens, sodat ons vandag vrylik Kerk toe kon kom.   Mense wat die belofte van Handelinge 1:8 op ‘n ander manier verstaan het.

Dit herinner my dan ook aan vandag se vraag:  As ek dit nie gaan doen nie, wie gaan dit dan doen?

Die realiteit is, in vandag se tyd lyk ons konteks en situasie anders.  Daar is mense wat anderste kyk na hierdie vraag en ‘n tree neem na ‘n ander werklikheid.  Ons voel dalk nie almal geroepe nie, maar ons kan wel betrokke raak.  Hoe?  Deur die volgende manier.  Dit is ‘n manier…

Opsie 1: Legkaart

2) Jesus se opdrag vra dan ook van ons om te bid

Handelinge 1: 14 vertel van hoe die dissipels na Jesus se opdrag na die bovertrek gegaan het om eendragtig te volhard in gebed.  Na hierdie gebed, wat het toe gebeur, Handelinge 2 – die uitstorting van die Heilige Gees en die ontstaan van die kerk.

Dit is soms vir my sleg om te dink dat ons so min gee vir sending.  So min van ons tyd en energie.   Geld help, maar gebede beteken baie meer.

Ons wil baie keer weet wat sendelinge doen, maar ons wil nie bid nie.  Die fondasie van enige bediening lê in die aksie van mense wat op hul knieë neerbuig en intree.  Jesus se hele bediening bevestig dit.  Dit is ons eerste “handeling.”  Deur te bid en te ondersteun raak ons die “krag” wat ander moet ontvang.

Dit bly vir my ‘n werklikheid as daar net elke Vrydag 4 vrouens opdaag om vir die gemeente se sake te bid.  Die handelinge van ons gemeente word gedra op die skouers van 4 vrouens.  Vir my is dit een van die ongelooflikste bedieninge van De Eike.  4 Vrouens wat elke Vrydag vir ‘n gemeente van 1700 bid.

Ek weet daar is ook baie ander mense wat by hul huise bid, vir julle is ons regtig ook dankbaar.  Die vrouens wat elke Vrydag bid het my opnuut kom uitdaag oor my eie bediening en hoe ek vir my Kollegas moet bid.  Hoe ek vir die kerkkantoor personeel moet bid.  Hoe ek vir ons bedieninge moet bid.  Hoe ek vir die kerk se sake moet bid.  Hoe ek vir verhoudings moet bid.

Ek wonder ook net, dat as vanoggend se erediens net bestaan het uit 1 uur se gebed vir ons kerk se bedieninge, hoe sou mense dit ontvang?

Die aksie van gebed is om terug te gee aan ander.  Die aksie van gebed is om nie te ontvang nie, maar om terug te gee.  Baie soos kerkwees moet wees.  Ons is nie hier om te ontvang nie, maar om te gee.  Gebed is ‘n manier om terug te gee aan God se Koninkryk.

Ek kan baie stories vertel van my 18 jaar in bediening op baie terreine van hoe ander se gebed my enigste anker was.  Dit is die volgende manier hoe ons kan betrokke raak.  Ons kan begin bid vir ons kerk.  Ons kan eendragtig volhard in gebed.

Dit is die ander praktiese uitdaging wat ek die week vir julle wil los.

Opsie 2: 21 dae van gebed.

Ek wil sommer ook vir Thea baie dankie sê vir die gebed brief wat ons ontvang.  Ek lees dit en bid regtig vir dit wat die Here op jou hart lê.   Dit is ‘n baie mooi bediening.   

Ten slotte

Kom ons gryp hierdie twee uitdagings aan en raak die hoeksteen van die res van die wêreld.  Ten slotte gaan ek vir Chris die geleentheid gee om ons ook te vertel van volgende Sondag se eredienste.  Dankie Chris.