15 Maart 2019
En so het ons eindelik aan die einde gekom van ons gesprek oor die lees en verstaan van die Bybel. Miskien is dit ten slotte dan net ‘n goeie tyd om ‘n oomblik stil te staan by verskillende maniere waarop mense in die verlede die Bybel gelees en verstaan het, en vandag nog lees.
Verskillende maniere van verstaan in die verlede
- Letterlike uitleg: Ons hoor dikwels lidmate sê: Ek verstaan die Bybel letterlik. Ek lees dit presies net soos dit daar staan. By die eerste aanhoor klink dit na ‘n baie goeie en veilige standpunt, wat vir die grootste deel van die Bybel dalk goed werk ook. Maar dan kom jy by iets soos die fabel van Jotam, waarna ons verwys het toe ons van die verskillende genres in die Bybel gepraat het. Glo jy regtig dat die bome letterlik met mekaar gepraat en ‘n vergadering belê het? Tog sekerlik nie… Daarby is daar ook ander dele van die Bybel wat ons nie letterlik kan neem nie, soos om “heilige oorloë” te voer of opstandige kinders te stenig. Dis dus duidelik dat dit nie altyd ‘n goeie plan is om die Bybel 100% letterlik op te neem nie.
- Midrasj: Dit is die manier waarop die rabbi’s van Jesus se tyd die Ou Testament uitgelê het. ‘n Mooi voorbeeld van daardie tipe argumentasie sal jy kry in Paulus se hantering van die Ou Testament in ‘n gedeelte soos Romeine 3:1-12. Hulle was lief om veral opdragte tot in die fynste detail te analiseer, bv rondom iets soos dagreise (hulle slotsom was dat enigiets tot by 2000m wel toelaatbaar, was, maar niks verder as dit nie) waarvan ons in Eksodus 16:29 lees.
- Pesjer: (“Die uitleg van geheimenisse”): Die skrywers van die Bybel gebruik soms kodetaal om te verseker dat hulle politieke teëstanders dit nie kan verstaan nie (dis hoekom jy byvoorbeeld in Openbaring 13:18 lees van die getal 666, wat simbolies verstaan moet word). ‘n Moderne weergawe hiervan kry jy wanneer mense die Ou Taestament lees en enige profesieë sonder meer op Jesus van toepassing maak, asof dit in die Nuwe Testament staan. ‘n Goeie voorbeeld is die sg. “Die Kneg van die Here”-gedeeltes van Jesaja, wat wel in Jesus vervul is, maar sekerlik nie in die eerste plek net oor Hom praat nie).
- Allegorie: ‘n Goeie Afrikaanse woord hiervoor is “vergeesteliking”. Dit was vroeër nogal baie algemeen. Daar is ‘n geestelike interpretasie aan heel letterlike gegewens gekoppel, asof dit so daar staan. Paulus doen dit self ook, in gedeeltes soos Galasiërs 4:22-26, waar hy oor Abraham en sy twee seuns skryf. ‘n Mens moet egter oppas om ‘n “dieper” betekenis in elke teks te soek. Onthou jy nog die vyf klippies wat Dawid opgetel het, en wat alles daaraan gekoppel is? (mense was ook baie lief om dit met die gelykenisse van Jesus te doen).
- Tipologie: Dis die gebruik om ‘n reguit lyn te trek tussen persone en gebeure in die Ou en Nuwe Testament en vandag. Alhoewel bv. Abraham vir seker vir ons ‘n voorbeeld is, is ons eintlike Rolmodel mos Jesus, en wil die Here nie hê jy moet “‘n Abraham” wees nie.
- Historiese uitleg: Hierdie benadering lê geweldig baie klem op die agtergrondsgeskiedenis van die teks, en die tyd toe dit ontstaan het. Hoewel dit natuurlik vir ons waardevolle insigte gee, moet ons tog ook net luister na wat die teks nou vir ons deur die Gees wil sê – in ons eie konteks!
- Histories-kritiese uitleg: In die afgelope tyd was hierdie benadering baie prominent. Dit beteken dat jy nie sonder meer die historisiteit van teks aanvaar nie. Vir ons is dit baie problematies, want ons bely dat die hele Bybel Woord van God is. Dit het wel deur ‘n proses ontstaan, maar dis nie vir ons so vreeslik belangrik om te weet wie almal daarin ‘n rol gespeel het, en wat in die Evangelies letterlik herlei kan word tot Jesus se woorde en wat deur latere redakteurs of teoloë ingevoeg is nie. Ons bely dat wat ons in ons hand het, Woord is, en geïnspireer is deur die Gees.
Volgende keer gaan ons nog net vir oulaas saamvat wat ons geleer het.