25 Januarie 2018
Die dag dat die krane toegedraai gaan word
Almal het teen die tyd sekerlik al gehoor van die sogenaamde Dag Zero. Die vraag wat by meeste mense opkom is wat beteken dit presies en hoe gaan ek/ons deurdeur geraak word?
As deel van die Stad Kaapstad se gebeurlikheidsbeplanning moet daar beplan word vir die moontlikheid dat die damme wat water aan Kaapstad voorsien baie leeg sal wees en nie meer voldoende water sal kan voorsien nie.
Dag Zero verwys na die verwagte datum waarop die 6 groot damme wat water aan die Kaapse Metro voorsien (Theewaterskloof, Wemmershoek, Voëlvlei, Bergrivier, Boonste en Onderste Steenbrasdam) gesamentlik slegs 13.5% water sal hê. By hierdie vlak sal water teen hoë koste uit die damme na Kaapstad gepomp moet word om die oorblywende water te kan benut.
Hierdie 13.5% is die minimum volume wat gereserveer moet word vir baie beperkte gebruik na Dag Zero tot daar noemenswaardige winterreën geval het. Die toevoer na woonbuurtes sal dus op Dag Zero toegedraai word en ons sal geen water meer in ons krane hê nie.
Dag Zero word bepaal deur basies drie faktore en weens die veranderlikheid daarvan, kan die datum vorentoe of agtertoe skuif. Die faktore is die daaglikse watergebruik deur die Stad, die reën wat in die opvanggebiede val en die verdamping uit die damme. Indien ons dus meer water bespaar kan die datum uitgeskuif word.
Die beplanning is dat daar ongeveer 200 waterpunte versprei oor die stad sal wees waar inwoners daagliks 25 liter per persoon sal kan gaan haal vir hul primêre water behoefte. Glad nie ‘n rooskleurige prentjie en ‘n situasie waarin ons onsself wil bevind nie.
Vanaf 1 Februarie geld Vlak 6B waterbeperkings wat o.a. behels dat elke persoon slegs 50 liter water per dag moet gebruik, wat glad nie onmoontlik is om te haal nie. Met goeie beplanning en die regte ingesteldheid is dit haalbaar.
Rentmeesterskap van die baie beperkte natuurlike hulpbron water is wat van ons verwag word. In Kuilsrivier, waar baie mense “well points” of boorgate het, kan ons nie toelaat dat daar in sulke huise enige munisipale water gebruik word om toilette mee te spoel nie. Hou ‘n paar emmers well point water in die badkamer hiervoor.
Indien elke persoon slegs 50 liter water per dag gebruik (onthou dis jou totale gebruik by die huis, kantoor, gimnasium, of waar ookal) en die stad se aanvullingskemas (grondwater, ontsouting en hergebruik van gesuiwerde rioolwater) lewer die volumes soos beplan, kan die Dag Zero situasie voorkom word en ons vir onsself baie moeite, ongerief en groot ekonomiese agteruitgang spaar.
Sterkte
André Roux 021 903 5479