15 Maart 2019

Liewe Vriende,

Dit is wonderlik om weer met julle te gesels. Baie dankie dat julle tyd maak om ons briewe te lees en om vir ons te bid. Ons waardeer ook elke briefie wat ons kant toe kom, so skryf asb vir ons!

Ons tyd hier in SA staan nou einde se kant toe. Rahul het net voor Kersfees by ons aangesluit en ons keer almal DV 25 Maart terug na Indië. Priyanka en Nadia het baie pligsgetrou met hulle skoolwerk voortgegaan terwyl ons hier was. Ons rus  op die oomblik heerlik by die see. Ons het nie die maklikste paar maande agter die rug nie, maar dit was ‘n absolute voorreg om hier te kon wees en ons sal die genadetyd saam met Oupa en Ouma altyd koester! Ongelukkig is hulle huis nog nie verkoop nie en is hulle dinge vir die onmiddellike toekoms dus ook nog nie gefinaliseer nie. Maar ons bly vertrou die Here vir sy perfekte wil en tydsberekening vir alles!

Ons is so dankbaar vir die Here se hand van bewaring oor ons bedieninge gedurende die afgelope maande. Alhoewel Rahul die meeste van die tyd in Indië was, weet ons dis genade as die besigheid en werk soos gewoonlik voortgaan in ons afwesigheid. Ons is opgewonde om terug te keer en om as ‘n gesin voort te gaan met dit waartoe die Here ons geroep het…

Ons dierbare Rani is ongelukkig in Desember oorlede agv komplikasies gedurende haar swangerskap. Sy is ook met TB gediagnoseer. Haar seuntjie is ‘n paar dae voor haar dood doodgebore, en die dokters het bevestig dat hy reeds ‘n rukkie dood was…  Rani was 5 jaar oud toe sy by die treinstasie in ons lewens ingehuppel het, en ons harte is stukkend oor haar! Haar tweejarige dogtertjie word nou deur haar tannie versorg, aangesien haar man nie daartoe in staat is nie.

Die algemene verkiesing vind oor twee maande in Indië plaas. Bid asb saam met ons daarvoor. Sedert die huidige regering aan bewind gekom het, het die vervolging van Christene en werkers geweldig toegeneem. So baie werkers kan nie visums kry nie, ander met geldige visums word steeds toegang geweier. Ons weet ook van gesinne wat 24 uur gegee is om die land te verlaat. Ons vertrou die Here vir ‘n wonderwerk en dat die deure na Indië weer wyd oop sal gaan.

Bid asb vir ons harte… Daar wag ‘n baie moeilike afskeid op ons! Ons keer ook terug na ‘n Varanasi met baie leemtes wat gelaat is deur vriende en spanmaats wat die stad in 2018 verlaat het.

Baie dankie vir julle liefde, gebede en ondersteuning!

Met seën,

Rahul, Lorette, Priyanka en Nadia

Selnr in SA: 0761149812; Lanlyn nr in SA: 023-4151637; Whatsapp nr: +919935012009; E-pos: rahuljaguasi@gmail.com