31 Mei 2019

Liewe gebedsvriende

Dit blyk of die oorlog in Sirië besig is om tot ’n einde te kom soos regeringsmagte, met behulp van Rusland, die laaste gedeelte van die opposisie in Idlib en die omliggende gebiede bestry. Dit bly ’n ingewikkelde konflik met baie rolspelers, insluitend bekende terreurgroepe, opposisievegters en ander nasies.

Die oorlog het ’n groot impak op burgerlikes en infrastruktuur gehad met meer as die helfte van die bevolking wat een of ander vorm van hulp benodig. ’n Beraamde 11 miljoen mense (insluitend soveel as drie miljoen kinders) is verplaas (beide intern en na ander nasies), en daar was in die afgelope agt jaar van oorlog ongeveer 500,000 sterftes. Baie is hoopvol dat hierdie ‘finale poging’ ’n einde aan die oorlog kan bring.

Die Siriese regering en Russiese troepe het humanitêre deurgange oopgemaak om veilige toegang aan burgerlikes te gee wat die konflik in die Idlib-streek wil ontvlug, maar baie word deur opposisie magte, wat hulle as ‘menslike skilde’ gebruik, verhinder om te vlug.

Volgens die Joshua-projek het Sirië ’n bevolking van 18.4 miljoen mense, waarvan 89.4% Moslem is en 5.7% bely dat hulle Christene is. Die Kerk het guns in Sirië gevind deur regdeur die oorlog onpartydig te bly en beide Moslems en Christene te help. Dit het die gelowiges toegelaat om die lig van Christus te midde van die duisternis te wees.

Bid asseblief saam met ons vir Sirië gedurende hierdie kritiese tyd, dat hierdie ‘laaste poging’ om die oorlog te beëindig, suksesvol sal wees en dat die land uiteindelik vrede kan ervaar en die herbouproses kan begin.

“Slegs in die duisternis kan mens die sterre sien.” (Martin Luther King Jr.)

Saam in Sy diens

Gigi Kotzé en Donnelly McCleland