26 Oktober 2017
As jy al ooit gewonder het hoekom jy as gelowige ‘n dankoffer moet gee, kan ek nie beter doen as om jou na Deuteronomium 8 te verwys nie. Daar lees ek: “Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my al hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf” (Deut. 8:17-18). Die versoeking is altyd groot om te dink dat dit deur jou eie harde werk is wat jy jou suurverdiende geldjies bymekaargemaak het. Die waarheid is egter dat as God jou nie geseën het met krag en gesondheid – en geleenthede! – nie, sou jy niks daarvan kon doen nie. Op die ou end kom dit alles van Hom af.
Die volgende logiese vraag is dan seker: hoeveel? In die Ou Testament is dit eenvoudig: God het een tiende gevra van alles wat jy inkry. In die Nuwe Testament word daardie eis nie uitdruklik herhaal nie, maar hoor ons eerder by Paulus ‘n nuwe aksent: “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie” (2 Kor 8:12). Nou gaan dit nie meer oor wetlike voorskrifte nie, maar om ‘n saak wat jy saam met God moet gaan uitmaak. Moenie te gou daardie geldjie in die koevertjie sit nie – ten minste nie voordat jy dit met God uitgeklaar het nie! Jy bely dan na alles dat alles syne is…
Jesus self was baie uitgesproke daaroor dat ons nie moet toelaat dat materiële goed ons lewens regeer nie. Hy het reguit gesê: “Moenie vir julle skate op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar…. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Mat 6:19-21) – of soos Die Boodskap dit so mooi stel: “Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle ‘n bankrekening daar by God in die hemel oop. Geen dief kan ooit daar inbreek om iets te probeer steel nie. Die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.”
Van die begin af, het God gesê dat sy mense nie met leë hande by godsdienstige feeste moet opdaag nie. Hulle moes nie net ingestel wees op wat hulle kan ontvang nie! Daarom sê Deuteronomium 16: “Die volk mag nie sonder offers in die teenwoordigheid van die Here verskyn nie. Elkeen moet ‘n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het” (Deut 16:16,17). Natuurlik was Jesus se offer genoeg om die eise van die wet te vervul, en daarom bring ons vandag net ‘n OFFER VAN DANK AAN DIE HERE!
As jy dan Sondagoggend vir die Here ‘n spesiale offer bring, onthou dan wat Paulus skryf in Filippense 4: “Julle gawe is voor God ‘n offer met ‘n lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus” (Fil 4:18,19). Dis na alles waar wat Maarten Luther gesê het: “Op die geloofspad ondergaan ‘n Christen 3 bekerings: eers die verstand, dan die hart (lewe) en uiteindelik die beursie – die derde bekering is ‘n teken van ware bekering!”
Verwerk van ds. Francois se stukkies vir die aankondigings