16 Februarie 2018
Dave het natuurlik Engels gepraat (hy kom van Engeland) maar ek het agterna sy Powerpoint-notas in die hande gekry en in Afrikaans vir ons die volgende samevatting van sy praatjie gemaak:
Dave het begin deur te vertel hoe hy as student in die St Martin-eilande in Sicilië vakansie gehou het in 1989. Aan die einde van die vakansie het hy navraag gedoen oor wat hulle met die sak vuilgoed moes maak wat tydens hulle kuier daar opgehoop het, en is hy beduie na ‘n paadjie wat hom op die ou end na ‘n reuse vuilgoedhoop gelei het. Daar het die Here met hom gepraat ek hom geroep om mense te help om beter te kyk na die skepping van God. Sedertdien wy hy sy lewe en sy bediening daaraan.
Die groot ekologiese krisis vandag is Klimaatsverandering, sê Dave. Al die ander vloei eintlik daaruit voort. Hy haal dr Kathrine Hayhoe aan wat sê: “Tackling poverty, disease, war, injustice, economic inequality, natural disasters, biodiversity loss without tackling climate change, is like trying to mop up a flood with a bucket full of holes. Climate Change exacerbates all the other problems.” Ons kan nie miskyk dat God se skepping ‘n geweldige krisis in die gesig staar nie. Klimaatsverandering is ‘n werklikheid wat ons nie kan ignoreer nie, en dit steek sy kop op verskeie terreine uit. Dit het regtig tyd geword dat die kerk helder en duidelik daaroor standpunt inneem – voordat dit te laat is…
Een terrein waar die skepping besonder verlies ly is op die terrein van biodiversiteit. Het jy geweet dat die dierelewe in 40 jaar met soveel as 39% persent verminder het, en amfibië selfs met soveel as 76%? En dit raak ons – want onthou, dis net so deel van God se skepping as ons, en Hy is ontsaglik lief daarvoor ook. Wat gaan ons daaraan doen? Om die dilemma in die kerk te illustreer het Dave ‘n plakkaat getoon wat hy by die een of ander kerk afgeneem het. Daarop staan: “The Bible: Basic Instructions Before Leaving Earth”. Dit klink baie mooi, maar skep die indruk dat die Bybel net geïnteresseerd is in die ewige lewe, en dat die aarde eintlik heeltemal onbelangrik is. Dat dit nou eenmaal geskend is deur die sonde en daarom glad nie meer tel nie.
Dis hoekom Dave vra: How big is your Jesus? Is Hy vir jou maar net ‘n persoonlike Verlosser, wat eintlik net in jou as indiwidu geïnteresseerd is? Dis vir seker nie hoe die Bybel Hom teken nie!
Die Bybel teken Jesus as :
- Die Skepper: Alles is deur Hom en vir Hom gemaak (Kol. 1:16 en Joh. 1:1-3)
- Die Onderhouer: Hy sorg steeds vir die hele skepping (Psalm 104:27).
- God wat vlees geword het: Hy het ‘n skepsel geword soos ons (Joh. 1:14)
- God se wysheid: Sy wysheid blyk uit die kleinste van sy skepseltjies (Ps 104:24)
- Die Verlosser van die wêreld (Joh. 3:16)
- Die Hoof van sy kerk: waarop die skepping wag dat hulle openbaar sal word (Rom 8:19)
- Die Regter, wat die skepping kom herstel (Openb 21:5).
- Die Here, oor alles en almal (Efes. 1:9-10).
Dís hoe groot ons Jesus is! En nou is ek seker ons sal almal op hierdie uiters Skriftuurlike uiteensetting van wie Jesus is, met oorgawe Ja! en Amen! sê. Dis immers ons belydenis!
Maar wat is die implikasies hiervan?
Dit verander:
- Jou perspektief: In plaas van egosentries kyk na die wêreld (alles draai om my, die mens), of eko-sentries kyk (ons is maar net een deeltjie van die skepping), moet ons teo-sentries daarna kyk: Ons is deur God hier geplaas met ‘n roeping om sy skepping te bestuur. Dit gaan alles immers oor God, en nie oor ons of die skepping nie.
- Ons prioriteite: Die kerk se enigste roeping is nie net om siele te red nie, of na mense se welsyn om te dien nie, maar om vir die totale skepping te sorg.
- Ons prediking en lering: Mense moet geleer word dat hulle geroep is om bestuurders van God se wêreld te wees.
- Ons gebedslewe: Nie meer net vir onsself en ander mense nie, maar vir die heelal. Dinge soos globale verhitting, waterskaarste, ens hoort op ons gebedslys!
- Hoe ons lewe: Dis nie genoeg dat ons net weet nie – wat gaan ons doen daaraan?
Hoe lewe ‘n mens in die teenwoordigheid van God?
Ek haal soos Dave die Engelse Bybel aan, uit Jeremiah 29:5-11: “Build houses and settle down; plant gardens and eat what they produce (ekologiese tranformasie). Marry and have sons and daughters; Increase in number there; do not decrease. (maatskaplike transformasie) Also, seek the peace and prosperity of the city to which I have carried you into exile (ekonomiese tranformasie). Pray to the Lord for it, because if it prospers, you too will prosper.’(geestelike transformasie) … For I know the plans I have for you, declares the Lord, plans to prosper you and not to harm you, plans to give you hope and a future.
In ‘n neutedop, kan ek dit ten slotte met die beste wil ter wêreld nie beter as Dave self stel nie:
“Jesus is either Lord of all, or He is not Lord at all…”
Die aarde en alles wat daarop is,
die wêreld en dié wat daar woon,
alles behoort aan die Here,
Psalm 24:1