13 April 2018

Liewe gebedsvriende

Die oorlog in Sirië is weer in die kollig na berigte van chemiese aanvalle deur Siriese magte in Douma, ‘n voorstad van Damaskus, kort nadat die Amerikaanse president Donald Trump aangekondig het dat hy Amerikaanse troepe uit Sirië wil onttrek, in lyn met sy “Amerika Eerste-beleid”. Die aanval is dadelik deur die Verenigde State en die Europese Unie veroordeel, maar Bashar Al-Assad (Sirië se president) en sy bondgenote in Rusland en Iran het die bewerings van ‘n chemiese aanval ontken en die Islamitiese rebellegroep wat die voorstad, Douma, beheer daarvan beskuldig dat hulle beeldmateriaal fabriseer om internasionale ondersteuning te kry, aangesien hulle ‘n nederlaag in die gesig gestaar.

Reddingswerkers het berig dat minstens 85 mense op Saterdag 7 April gesterf het a.g.v. die chemiese aanval. Die Siriese Amerikaanse Mediese Vereniging het in ‘n gesamentlike verslag gesê dat meer as 500 mense na die aanval na die mediese sentrums gegaan het, “met simptome wat dui op die blootstelling aan ‘n chemiese stof”.

Baie vrees dat Mnr. Trump se plan om Amerikaanse troepe uit Sirië te onttrek, kan lei tot meer verwoesting in sommige dele van die land. Bid asseblief saam met ons vir Sirië – vir almal wat ly, vir wysheid vir al die betrokke leiers, en dat die waarheid reg en regverdig gekommunikeer word in die media en elders.

“Ek weet dat die Here altyd aan die regte kant is; maar ek is deurgans angstig en dis my voortdurende gebed dat ek en hierdie nasie aan die Here se kant is.” – Abraham Lincoln

Saam in Sy diens
Lucilia Moleko (namens Donnelly McCleland)