22 Februarie 2019

Liewe gebedsvriende

Op Sondag 17 Februarie het die Soedannese polisie na bewering van traangas gebruik gemaak om ’n anti-regeringsoptog in die hoofstad op te breek, terwyl betogers hul veldtog teen die regering van president Omar al-Bashir voortgesit het. Die byna daaglikse protesoptrede duur reeds vir twee maande voort. Hierdie protesoptredes is die grootste uitdaging van al-Bashir se byna 30-jaarlange regering. Wat begin het as ’n reaksie op ’n dramatiese styging in broodpryse, het spoedig in landwye betogings teen al-Bashir se outoritêre regering ontaard. Al-Bashir het egter alle eise dat hy moet bedank ten sterkste teengestaan, en gesê dat slegs die stembus Soedan se leierskap kan bepaal. Verkiesings is geskeduleer vir 2020 en al-Bashir het aangedui dat hy oorweeg om vir ’n derde termyn te staan. Al-Bashir word deur die Internasionale Strafhof in Den Haag gesoek vir oorlogsmisdade en volksmoord wat na bewering in Darfoer gepleeg is, waar ’n brutale konflik in 2003 uitgebreek het.

Sekuriteitsmagte het van traangas, donderbuise en lewendige ammunisie gebruik gemaak om betogers uitmekaar te jaag, en honderde betogers en lede van die opposisie is in hegtenis geneem. Amptenare sê 31 mense het tot dusver in protesverwante geweld gesterf, terwyl Human Rights Watch beweer dat minstens 51 mense al gesterf het.

Soedan se vernaamste opposisiegroepe het verlede week vir die eerste keer sedert betogings in Desember 2018 regoor die land uitgebreek het, ’n gesamentlike beroep op al-Bashir gedoen om te bedank. Hulle het die regering versoek om af te staan en stel voor dat ’n vier-jaar interim-regering op die been gebring moet word, gevolg deur ’n verkiesing.

Van Soedan se 43.1 miljoen inwoners, is ’n beraamde 90-95% Moslem, terwyl 1,5-3% as Christene beskou word. Alhoewel die 2005 Interim Nasionale Grondwet vir godsdiensvryheid dwarsdeur Soedan voorsiening maak, word sjaria (oftewel Islamitiese wette) as ’n bron vir wetgewing gebruik en die amptelike wette en beleid van die regering is ten gunste van Islam.

Bid asseblief saam met ons vir Soedan.

“Wêreld-wye evangelisasie is eerstens afhanklik van ‘n herlewing van gebed. Dit is iets wat dieper  lê  as bloot die behoefte om die mensdom te bereik – inderdaad, selfs dieper op die bodem van ons geeslose lewens, is die hunkering na die vergete geheim van vermoeiende, wêreld-wye gebed.“ (Andréw Murray – geparafraseer)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland