8 Maart 2019
Liewe gebedsvriende
Op Sondag 3 Maart het Algerië se veteraan-president Abdelaziz Bouteflika betogers misken deur te bevestig dat hy vir nog ’n termyn sal staan – maar hy het wel gesê dat hy nie ’n volle termyn sal dien nie. Hy het in ’n brief te kenne gegee dat as hy April se verkiesing sou wen, hy toesig sal hou oor ’n nasionale dialoog wat moet lei tot ‘n volgende verkiesing wat hy nie sal teenstaan nie. Sy besluit om vir ’n vyfde termyn in die amp te staan, het aanleiding gegee tot landwye betogings. Bouteflika (82) word selde in die openbaar gesien sedert sy beroerte in 2013.
Openbare vertonings van ontevredenheid in Algerië is skaars, en hierdie protesoptrede was die grootste sedert Bouteflika 20 jaar gelede aan bewind gekom het. Betogings het sowat 10 dae gelede uitgebreek nadat Bouteflika sy planne om vir ’n vyfde termyn in die amp te staan, aangekondig het. Bouteflika se kritici hou vol dat sy swak gesondheid beteken dat hy nie sy pligte as president kan uitvoer nie. Maar ten spyte van die ontevredenheid, word Bouteflika wyd steeds beskou as die gunsteling om vanjaar se verkiesing te wen, aangesien die opposisie diep verdeeld is en daar geen besliste opvolger is nie. Algerië was tussen 1991 en 2002 vasgevang in ’n burgeroorlog wat tussen die regering en verskeie Islamitiese rebelle groepe gewoed het. Bouteflika wat in 1999 aan bewind gekom het, ontvang die krediet dat hy ’n einde gebring het aan die burgeroorlog wat na beraming tussen 44 000 en 200 000 mense se lewens geëis het.
Vir die gemiddelde Algeriër, beteken om ‘n Algeriër te wees, om ‘n Moslem te wees, met ongeveer 97% van die bevolking wat hulself as Moslems identifiseer. Die Christendom het ’n lang nalatenskap in Algerië wat dateer uit die Romeinse tyd en Sint Augustinus van Hippo, maar vandag is daar omtrent 99,000-100,000 gelowiges, slegs ongeveer 0,28% van die bevolking. Alhoewel godsdiensvryheid deur die grondwet gewaarborg word, word burgers wat afstand doen van Islam, oor die algemeen deur hul gesinne verstoot en deur hul gemeenskappe verwerp. In die verlede was sendinggroepe toegelaat om humanitêre aktiwiteite sonder regeringsinmenging uit te voer solank hulle diskreet was en nie openlik geëvangeliseer het nie. Daar word egter onlangs meer druk deur die regering toegepas.
Bid asseblief saam met ons vir Algerië gedurende hierdie onseker tye, en dat dit ’n geleentheid vir groei vir die Kerk sal wees.
“Mag ons nie verbaas wees as ons probleme ondervind nie. Wanneer die wind sterk teen ‘n boom waai, strek en groei die wortels sterker; laat dit so met ons wees. Mag ons nie swakkelinge wees, wat toegee aan elke wind wat waai nie, maar eerder sterk in die Gees wees om dit te kan weerstaan.” (Amy Carmichael)
Saam in Sy diens
Donnelly McCleland