12 April 2019

Liewe gebedsvriende

Libiese militias, wat veg vir die beheer van die land se hoofstad, Tripoli, het op Sondag 7 April wedersydse lugaanvalle geloods. Dit het ?n gevolglike eskalasie meegebring in die stryd wat sedert Donderdag woed. Rebelle magte, onder leiding van generaal Khalifa Haftar, het vanuit die ooste opgeruk met die doel om die hoofstad, Tripoli, te beset en ?n belofte om Libië onder sy beheer te verenig, te vervul. Volgens berigte, is talle mense aan albei kante reeds gedood en gewond. Die V.N. het ?n beroep vir ?n twee uur lange skietstilstand gedoen, sodat gewondes en burgerlikes ontruim kon word. Die gevegte is egter nie gestaak nie.

Volgens die V.N. se Hoë Kommissaris vir vlugtelinge (UNHCR), huisves Libië meer as 57,600 vlugtelinge (vanuit Afrika en die Midde-Ooste) wat onsuksesvol was in hul pogings om Europa te bereik. Duisende vlugtelinge en migrante word in sentra in Tripoli aangehou en vrees tans vir hul lewens, terwyl gevegte rondom hulle woed.

Libië verkeer in onrus, sedert Moeammar Gaddafi op 20 Oktober 2011 gearresteer en vermoor is. Mededingende faksies het probeer om grondgebiede en die land se ryk oliereserwes te beheer.

Volgens Joshua Project het Libië ?n bevolkingstal van 6,4 miljoen waarvan 97,1% Moslem is. Christendom het ?n skrapse teenwoordigheid met slegs 2,2% belydende gelowiges. Dit is ?n kritiese tyd vir Libië en dit is noodsaaklik dat die liggaam van Christus betrokke raak en vir hierdie volk bid.

Asseblief neem saam deel in ons gebedsaksie vir Libië.

“Dit is te midde die duisternis, waar die lig van Christus duideliker skyn.” (Gigi Kotzé)

Saam in Sy diens

Gigi Kotzé en Donnelly McCleland