26 April 2019

Liewe gebedsvriende

Op Paassondag [21 April] het agt verwoestende bomontploffings verskeie luukse hotelle en drie kerke, wat besig was met Paasfeesdienste, in Sri Lanka geruk. Dit het die lewens van meer as 300 mense geëis en 500 ander is gewond. Dit was die eerste groot aanval op dié eiland in die Indiese Oseaan sedert die einde van die burgeroorlog, 10 jaar gelede. Niemand het onmiddellik aanspreeklikheid aanvaar nie, maar Sri Lanka het die afgelope paar jaar stygende sektariese spanning ervaar. Die regering het ’n aandklokreël in die land se hoofstad, Colombo, ingestel en toegang tot sosiale media tydelik beperk.

’n Aantal mense is in verband met die aanvalle in hegtenis geneem. Drie beamptes is dood toe een van die verdagtes tydens ondervraging plofstof laat ontplof het. ’n Top Sri Lankaanse polisiebeampte het op 11 April ’n brief aan die veiligheidsbeamptes van die regering gerig en gewaarsku teen moontlike selfmoordaanvalle wat by Katolieke kerke beplan word.

Ongeveer 1.2 miljoen van Sri Lanka se 21 miljoen inwoners is Katolieke, en dit sluit lede van beide groot etnisiteite, die Singalese meerderheid en die Tamil-minderheidsgroep, in. Oor die afgelope paar jare was daar botsings tussen die Boeddhistiese meerderheid en Moslem-minderheidsgroep. In Maart verlede jaar het die regering ’n 12 dae lange noodtoestand ingestel om anti-Moslem-onluste te demp. Christen-groepe het ook melding gemaak van verhoogde teistering deur radikale Boeddistiese groepe.

Bid asseblief saam met ons vir Sri Lanka.

“God fluister vir ons in ons plesier, praat in ons gewetes, maar skree in ons pyn. Dit is sy megafoon om ’n dowe wêreld te laat ontwaak.” (C.S. Lewis)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland