3 Mei 2019
Liewe gebedsvriende
Op 8 Mei word algemene verkiesings in Suid-Afrika (SA) gehou om ’n nuwe Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers in elk van die nege provinsies te kies. Volgens die verkiesingskommissie van SA (OVK) sal daar vanjaar vier-en-veertig partye op die nasionale stembrief verskyn – dit is 19 meer as die aantal partye wat in 2014 aan die algemene verkiesing deelgeneem het. Dit sal die sesde nasionale verkiesing wees sedert die einde van apartheid in 1994. Verkiesings word elke vyf jaar gehou, met nasionale en provinsiale verkiesings wat gelyktydig plaasvind, terwyl munisipale verkiesings twee jaar later geskied.
Die OVK het berig dat daar nét meer as 26 miljoen geregistreerde kiesers is; ’n toename van die 25.4 miljoen geregistreerde kiesers in die verkiesings in 2014. Volgens SA Citizen Surveys (SACS) is minstens 11.2 miljoen Suid-Afrikaners nie geregistreer om te stem nie en die meerderheid van hulle is tussen 19 en 34 jaar oud.
Baie Suid-Afrikaners word geteister deur vrees en hopeloosheid, maar dit hoef nie die geval te wees nie. Volgens Joshua-project beskou amper 78% van Suid-Afrikaners hulself as Christene (21.3% evangelies). Die Skrif moedig gelowiges aan om moedig te wees en om instrumente van genesing en versoening in die land waar die Here hulle geplaas het, te wees. Deur gebed, visie en hoop, kan die droom van ’n ‘reënboognasie’ (een waar diversiteit gevier en omhels word, en nie gebruik word om verdeeldheid en twis te bring nie) ’n werklikheid word. Christene het ’n geweldige verantwoordelikheid om na ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners te streef en te werk. Dit is belangrik om te bid dat die Here leiers sal aanstel wat deur geloof leef en die toekoms vanuit God se perspektief, nie vanuit die wêreld se perspektief sien nie.
Bid asseblief saam met ons vir Suid-Afrika.
“EK HET HOOP, want ons woon in ‘n land met DAPPER en PASSIEVOLLE MENSE – selfs hul idealisme, wat ongelukkig soms as pessimisme manifesteer, het die potensiaal om ons te onderskei van ander en uitnemendheid te bereik as ons net lank genoeg kan opkyk om te kan sien wat ons reeds bereik het.” (Cheryllyn Dudley)
Saam in Sy diens
Gigi Kotzé en Donnelly McCleland