30 November 2018
Liewe gebedsvriende
Die parlement van Oekraïne oorweeg of hulle ‘n krygswet gaan afkondig weens geweld wat in die strate van die hoofstad, Kiëf, op Sondagaand (25 November) uitgebreek het, nadat Rusland drie van hul vlootvaartuie aangekeer het. Betogers het buite die Russiese ambassade vergader waar hulle ‘n voertuig aan die brand gesteek en fakkels afgevuur het.
Gemoedere tussen Rusland en Oekraïne loop die afgelope maande reeds hoog rondom die kus van die Krim-skiereiland. Volgens ‘n verdrag wat in 2003 tussen Moskou en Kiëf onderteken is, is die Kerch-seestraat en die see van Azov as gedeelde territoriale waters verklaar. Rusland het egter onlangs begin om inspeksie op alle vaartuie te doen wat van of na Oekraïnse hawens vaar. Dié krisis het Sondag begin toe Rusland die Oekraïnse skepe beskuldig het dat hulle sy waters onwettig binnegevaar het. Oekraïne beweer die Russe het probeer om die skepe te onderskep, waarna skote afgevuur is (en van die bemanning beseer is) en al drie skepe beslag op gelê is. Die Kerch-seestraat is ‘n belangrike handelsroete vir Oekraïne, aangesien dit skepe toegang tot Mariupol gee, wat ‘n belangrike hawestad in die See van Azov is. Die toenemende onbestendigheid naby die Kerch-seestraat, is die nuutste skermutseling tussen Rusland en Oekraïne in die voortslepende konflik wat na afloop van die oorname van die Krim vier jaar gelede begin het.
Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies gaan op versoek van Rusland dié verwikkelinge bespreek. In ‘n verklaring wat Sondag laat deur NAVO uitgereik is, gaan die verwikkelinge noukeurig dopgehou word en ? beroep tot selfbeheersing en bedaring van gemoedere is gedoen.
Bid asseblief saam met ons vir Oekraïne en Rusland; dat hierdie afgelope geskilpunt sal lei tot gesamentlike pogings tot vrede in die streek.
“En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.” (Jakobus 3:18)
Saam in Sy diens.
Donnelly McCleland