9 Julie 2020
My Jabes verhaal
Tydens die Covid 19 grendeltydperk het ek my werkskontrak verloor. Ek is seker daarvan baie mense het dié seer gevoel, veral ook wanneer mens so ‘n passie vir die werk het. Ek was ‘n maand werkloos en deur die moeilike tyd het ek en my ma bly vashou aan die hoop dat die Here sal voorsien. Die maand was nog nie om nie, toe kry ek ‘n oproep van my vorige werkgewer, Durbanville Kinderhuis: Sal ek belangstel in ‘n 3-maande kontrak om met skoolverlaters te werk by een van hulle satelliethuise. Ek sal inwoon, amper soos ‘n huismoeder, en ek het naweke af.
Ek het nie lank gedink oor die voorstel nie en het “ja” geantwoord. Ek het ook nie 100% geweet waarvoor ek myself inlaat nie, maar ek het besef watter voorreg dit is om met die kinders te werk en watter stresvolle jaar dit vir hulle is (selfs vir kinders wat nie in die Kinderhuis woon nie) en ek kan vir hulle ‘n bietjie ondersteuning bied tydens die moeilike tydperk.
Ongeveer 2 weke, in bereik ek ‘n laagtepunt. Die werk is uitdagend, die huis is oud en het klomp probleempies deur die jare opgetel wat roep vir ernstige herstelwerk. Die grootste frustrasie was om vir 10 mense kos te maak op 1 plaat. Ek het ‘n mikrogolf, maar het dit voorheen amper net gebruik om kos warm te maak. Verder is daar ‘n nuwe kontrak met die internet en het ons nie internet toegang nie en die skole het alles aanlyn geplaas oor die grendeltydperk en gratis hulpbronne is ook aanlyn beskikbaar. Ons wag ook vir donasies van rekenaars en ‘n printer. Dit voel ek volg pal op en mense raak moeg om van my te hoor en ek sukkel alleen voort op ‘n eiland.
Die keerpunt was ‘n WhatsApp boodskap van Tannie Riëtta sommer net om te hoor hoe dit gaan. Toe ek my frustrasie met haar deel het sy klomp planne en vra sommer dieselfde dag op Facebook vir ‘n 2-plaat stoof en oondjie. Sy sê self sy is lief vir gesels en mense en het toe baie mense bereik om vir hulp te vra vir die satelliethuis. Met haar eerste besoek praat sy my moed in: “Ons moet Moses se hande hoog hou.” en bring groot verligting saam met die 2-plaat stoof en oondjie, resepte wat mense spesiaal uitgekies het (so kosbaar!) en nog ander klein kombuisbenodighede. Verder bring sy ook ‘n lekker bederfie: ‘n pakkie beskuit wat ons sommer saam met ons tee geniet in my aparte woonplekkie. Een van die kinders bring vir ons middagete wat Tannie Nomsa (Kinderversorger), wat die dag daar gehelp het, vir ons voorberei het. Tannie Riëtta vertel toe van almal wat so vrygewig gee van geld donasies, klere, lampies, bordspeletjies tot donasies by ons kerk se Drop & Go projek op Dinsdae. Baie wil graag help en daar is mense wat vra hoe hulle nog kan help.
Dis nou ‘n maand later en ek is oorweldig met al die hulp wat instroom van ons gemeente en vriende en selfs die emosionele ondersteuning van die oulike Kinderversorgers wat naweke hier kom help. Dit is ‘n voorreg om die omgee te ervaar. Ds Chris het gebel om ‘n voorstel te maak dat ons gemeente die LILI (Leaping Into Life Independently) huis as voog aanneem en omsien na die herstel van die huis en die geestelike versorging van die kinders wat hier woon.
Die huis is nie net om skoolverlaters toe te rus om onafhanklike jong volwassenes te wees nie, maar ook ‘n plekkie vir Durbanville Kinderhuis se kinders wat nie ander heenkome het na skool nie en kans nodig het om op hulle eie voete te kan staan. Tydens die Covid-19 virus is die LILI huis slegs vir die skoolverlaters beskikbaar, die ander jong mense het ‘n alternatiewe blyplek vir hierdie tydperk.
Wat ‘n amazing inisiatief om van deel te wees? Ek en Tannie Riëtta het weer op WhatsApp gesels en sy sê my toe dat dit is hoe die liggaam van Christus saamwerk.
Ek vertel haar dat ek ongeveer ‘n jaar terug die storie vir ons kerk se nuusbrief geskryf het, toe ek die Koordineerder was en ons die Kinderkerk se 5de verjaarsdag gevier het waar ek gepraat het van ons Kinderkerk span wat soos die liggaam van Christus werk waar ons mekaar aanvul. Dit het my aan die dink gesit en my laat terug kyk na hoe die Here al in my lewe gewerk het en hoe ek vandag hier sit by die LILI huis. Ek was so skaam op skool dat ek nooit kon dink ek sou die moed gehad het vir meeste van die dinge wat ek nou aanpak nie. Ek het nie eers gewaag om so groot te droom nie.
My ouma het destyds vir my die boekie gegee wat handel oor een versie in die Bybel wat verskuil is tussen die ander. ‘n Gebed van Jabes: “Seën my tog, maak my grondgebied groter, hou U hand oor my en hou onheil van my weg, sodat geen hartseer my tref nie.” God het hom gegee wat hy gevra het. 1 Kronieke 4:10. Min het ek geweet wat daardie grondgebied vir my beteken toe ek daardie tyd daaroor gebid het.
En dit alles is net genade. Ek ervaar die Here se hand in elke gebaar, klein donasie en bemoedigende woord. Hy sorg waarlik vir sy kinders.
Hê asseblief die moed om Jabes se gebed ook te bid vir jou lewe.
Lize Fölscher