12 Oktober 2017
Vyf-en-twintig jaar is nogal ‘n lang tyd. Ek onthou hoe prof Dawid de Viliiers (die een vir wie ons altyd “Heilige Dawid” gesê het) ons atyd gewaarsku het dat ‘n dominee tog nie te lank in een gemeente moet bly nie. Julle is leraars, broers, het hy met groot nadruk gesê. Nie travelaars of setlaars nie… Maar omdat die situasie in die kerk baie verander het sedertdien, moes ek een môre wakker skrik en besef: Ek het toe sowaar na alles tog ‘n setlaar geword…
‘n Mens dink baie dinge as jy so ‘n mylpaal bereik. Jy dink weer aan mense wat die reis die moeite werd gemaak het. Mense soos oom Matie Swart, Sampie Hougaart, die Blommerusse, en nog handevol ander – maar ook mense wie se gesigte jy nog elke Sondag voor jou sit. Dankie aan elkeen van julle wat ‘n dominee se taak net só maklik gemaak het oor die afgelope kwarteeu!
Maar jy dink baie oor die gemeente. Is De Eike vandag meer wat die Here dit wou hê, as toe ons hier aangekom het? Ek weet nie. Waaroor ek wel eindeloos dankbaar is, is dat ons iets van die unieke karakter van ons gemeente kon behou ten spyte van radikaal veranderende omstandighede. De Eike is steeds bekend vir sy hartlikheid en onderlinge liefde – en dit alleen is a ‘n reuse getuienis!
Dit laat my aan nog iemand dink: oom Pietie. Hy het ons kom leer om mense welkom te laat voel by die gemeente – maar nou dat sy plek by die voordeur eers leeg is, moet ons dit nie selfs nog verder vat nie? Waar is die “oom Pieties” wat die les by hom geleer het, en ons eredienswerkers kan help om vreemdelinge (en lidmate!) welkom te laat voel by ons? Is daar regtig niemand wat die Here roep om in hierdie bres te tree nie?
Ek het verlede Sondag die kans gehad om dankie te sê, en ek kan dit maar net hier herhaal. Ek en Adri sê baie, baie dankie aan kollegas, aan kerkraadslede, aan gemeentelede, aan personeellede – aan julle amal. Dis lekker om familie van julle te wees!
Gaan kyk gerus na die foto’s hier.