25 Januarie 2018

Op Vrydag 19 Januarie is daar ‘n byeenkoms in ons kerk gehou wat ons almal wat daar was, baie opgewonde gemaak het. Chris het die inisiatief geneem om ons plaasmense almal te nooi na ‘n spesiale geleentheid so op die drumpel van die Parstyd, wanneer ons dit aan die Here kan opdra en sy seën daarvoor kan afbid. Hy het ‘n pragtige plakkaat opgestel om almal uit te nooi om nie net te kom nie, maar ook hulle werkers almal saam te bring.

‘n Halfuur voor die tyd was daar al vragmotors op die parkeerterrein, wat die mense aangery het, en teen die tyd dat Chris begin het, was daar sommer ‘n baie mooi opkoms. Jandré het die voorafsang gelei saam met Neil Büchner, wat ‘n studie gemaak het van die geestelike liedjies wat die werkers gewoonlik in die wingerde sing. Dit was aangrypend om te beleef hoe almal aanvanklik huiwerig ingeval, maar later met al hoe meer oorgawe gesing het. Nadat Chris ‘n treffende boodskap gelewer het, is geleentheid vir gebed gegee. Eers het een van die werkers vir sy mede-arbeiders gebid vir die tyd wat voorlê, en daarna het een van die boere vir sy mense gebid. Tannie Lerina, wat ons gemeente se gebedsgroep lei, het daarna voortgegaan, en Hannes het afgesluit.

Almal was dit agterna eens dat dit hierdie ‘n wonderlike instelling in De Eike kan word. Dankie Chris, vir jou inisiatief, dankie vir die boere wat die moeite gedoen het om hulle mense te bring, en vir Jandré en Neil vir die begeleiding. Volgende jaar sal ons graag die hele distrik wil betrek, nie net ons eie lidmate nie. En Chris, daardie botteltjies koue water vir elkeen in die voorportaal was voorwaar ‘n wenner!

Ons bid vir ons hele Bottelary ‘n baie geseënde Parstyd toe! Kiek hier vir nog foto’s.