12 Oktober 2018
Verlede Donderdag, 4 Oktober, het ‘n groep van ons die geleentheid gehad om ‘n gebedsbyeenkoms (of ‘n “prayer walk” soos wat dit ook genoem word) by Pollsmoor gevangenis by te woon. Die “prayer walk” vind een keer ‘n maand plaas waartydens ongeveer 1200 mense (300 per “gevangenisblok”) toegelaat word om in die gange tussen die selle te beweeg en te bid vir die wat in aanhouding is en hulle wat daar werk. Wanneer jy daar instap, word jy gekonfronteer met ‘n onbekende wêreld en vrae wat jou ongemaklik en selfs angstig laat voel. Dit laat jou wonder hoe jy verby die geweld en verkeerde keuses moet kyk om die mens agter dit alles te sien – soos wat Jesus vir elkeen van ons sien. Jy sien die selle, die tralies, die groot swaar slotte aan deure, die hande wat by vensters uitsteek en jy besef hoe groot God se genade is, hoe groot Sy liefde vir ons is en hoe onbeskryflik groot Sy Verlossing is.
Ons moet meer bid vir die gevangenes ~ Daphne
Bietjie getwyfel of ek moes saamgaan – op die ou end besluit ek dat ek ook wil ervaar en beleef hoe dit by Pollsmoor lyk en wat daar gedoen word.
Ek was deel van De Eike se groep en daar aangekom was ons deel van ‘n groep van ongeveer 300 mense uit verskillende gemeenskappe in die Skiereiland. Almal het in die binneplein bymekaar gekom en onder leiding van Mitchell’s Plein se musiek-/sanggroep die Here geloof en geprys. Daarna het ons op die stoepe beweeg. By elke sel se venster het gevangenes hul hande uitgesteek – by party vensters was sommer baie gesiggies wat probeer kyk wat/wie buite is. Enigeen het die reg gehad om by enige venster (wat baie hoog is) stil te staan en vir die gevangenes te bid. Wat my nogal getref het is toe ek by een sel kom en hoor hoe die manne geestelike liedere sing (ek het onmiddellik gedink aan die Skrifgedeelte waar Paulus ook lofliedere gesing het terwyl hy in die tronk was).
Soos ons aanbeweeg het, het ek gewonder watter toekoms wag op hulle; sal hulle die geleentheid kry om weer hul voete in die samelewing te vind; ‘n plekkie in die son te kry. Wat van hulle familie – hoe voel hulle oor die geliefde in die tronk ens.
Wat my ook opgeval het (al was die groep van verskillende kulture, was almal een in Christus), was hoe wonderlike veilig ek gevoel het.’n Swart vroutjie uit Langa het op ‘n stadium my hand vasgehou en gesels oor hoe sy alles ervaar. Elke persoon het nie net aan homself gedink nie, maar omgegee vir die persoon langs/agter/ voor hom.
Ek het ook besef dat as dit nie vir die Here se genade was nie, was ek in een van daardie selle.
Die besoek het ook vir my laat besef dat ons meer moet bid vir die gevangenes.
Jesus het ook vir hulle op Golgota aan die kruis gesterf ~ Pierre en Martie
Vir ons was dit hartverskeurend om jongmense met hulle hande deur tralies soos melaatses uitgestrek te sien, om te sê ek wil nie hier wees nie. Versugtings soos bid vir ons, glimlagte, hande wat wuif in ‘n beknopte sel. Dan wonder ek, hoe kan ‘n mens staande bly in sulke omstandighede. Dan sê ek vir myself dit is net Genade dat ek met pragtige sang, lofprysing en aanbidding hier buite in die aandlug om en om kan stap om hulle te bemoedig. Die bruinmense met pragtige begeleiding kan sing om mens in die regte stemming te bring.
Hulle daarbinne se omstandighede as gevolg van opvoeding sonder ouers se onderskraging en liefde, dwelms en jeugbendes sal net oorwin kan word deur Genade, gebede, geloof, Christelike getuienis en onderrig sodat as hulle in die samelewing terug geplaas word om in Christelike oortuigtings weerhou te word van duiwelse dwalinge.
Dankie dat ons kon beleef dat gelowiges indiens van Korrektiewe Dienste met Christelike bedienaars die Evangelie aan hulle wat minder bevoorreg is kan verkondig. Ons kan die bedienaars en hulle agter tralies maar net opdra en toevertrou aan die liefde van Jesus wat ook vir hulle op Golgota aan die kruis gesterf het.
Baie dankie Jaun vir die permitte wat gereël is en dat jy ons Donderdagaand bygestaan het. Mag jou bediening daagliks groei om al meer eks-gevangenes te help om God se droom vir hulle uit te leef.
https://midway.org.za/