PSALM 62

Datum: 24 Januarie 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk” 

Waar vind jy jou rus? Waarin plaas jy jou vertroue? Wie is jou rots en veilige vesting? Wie is jou toevlug? By wie stort jy jou hart uit? Wat is jou belydenis?

  1. ONSEKERHEID IS DIE TEELAARDE VAN VREES

Onsekerheid in ons lewens is die teelaarde van vrees. En wanneer vrees jou lewe oorheers begin die ratwerke van jou lewensbestaan vasroes. Onsekerheid skep afstand, ons onttrek en isoleer onsself.

 

Almal van ons beleef die afgelope tyd baie onsekerheid. Ja, en net toe dinge weer beter begin lyk, voel dit dan nou asof ons mure weer wankel. Wat eers net getalle was, het nou name gekry. Name wat aan ons bekend is. Ons is soos mure wat wil omval. ‘n Klipmuur wat omgestoot word want jy is besorg oor jou mense wat ver van jou is. Dalk voel jy onseker oor jou kinders en kleinkinders se welstand wat doer ver anderkant die waters is. Jy kyk en luister na vanoggend se boodskap met die wete dat jy dringend ander werk sal moet soek. Jy doen alles in jou vermoë om die virus van jou voorstoep af weg te hou. Jy was hande, handhaaf afstand en besoek die winkels net wanneer dit noodsaaklik is. Skuldgevoelens kry soms die oorhand en jy sê vir jouself: “Ek moet net nie iemand aansteek indien ek positief toets nie.” Dalk het jy ‘n geliefde aan die dood afgestaan en daar was nie tyd om totsiens te sê nie.

 

daar is ‘n onsekerheid wat diep aan jou knaag en vrese aanwakker. Vrese wat jou snags laat rondrol. Ons bevind onsself binne ‘n dubbele isolasie as gevolg van hierdie voortslepende virus wat nie einde kry nie.

  1. SOMMIGE MENSE BUIT DIT UIT 

En dan is daar mense wat behae daarin vind om ons broosheid uit te buit. Hulle skep behae in leuens. Dit is mense wat agter hulle hande lag wanneer hulle nadelige gerugte in hierdie onseker tye versprei wat onsekerheid en vrees aanjaag.

 

‘n Gerugte beskik mos oor ‘n mate van waarheid  en ons eet dit soos soetkoek op en gaan op hol oor alles wat op sosiale media versprei word. Ek het nog nooit in my lewe soveel boodskappe gekry met doemprofesieë en samesweringsteorieë oor die einde van die wêreld soos nou nie. Dit is oral en ons kan dit nie ignoreer nie. Dit is al waaroor mense praat op Facebook. Dis in die nuus. Ons ontvang WhatsAppboodskappe met video’s wat in dubbelkajuitbakkies afgeneem word. Almal het mos ‘n eiertjie te lê in hierdie tye. Dit is asof die hele wêreld mal geword het.

 

Almal soek sekerhede. In die afwesigheid van vertroude waardes wat nog altyd gewerk het, gryp mense na strooihalms van waansinnige voorspellings en samesweringsteorieë. Enigiets wat hierdie onsekerhede kan verduidelik en vereenvoudig. Wanneer gaan hierdie nagmerrie einde kry?

 

Onlangs gesels ek met ‘n persoon wat vir my sê dat hy sy Bybel uit “storage” gaan haal het, afgestof en weer op sy bedkassie geplaas het. Ek bid weer want dinge lyk nie goed nie. Chris, ek is verskriklik bang! Ek is vol vrees! Wie van ons is nie bang nie? Natuurlik is ons bang.

  1. ONS HET HOOP BROODNODIG 

Wanneer ek aan vrees dink, dink ek onmiddellik terug aan die DUNKIRK onttrekking wat 81 jaar gelede op 26 Junie 1940 plaasgevind het. My hare staan regop op my arms wanneer ek daaraan dink. Verbeel jouself dat jy daar was. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, nadat Hitler Frankryk platgevee het, eis hy  dat die Geallieerde Magte in Europa moet oorgee. Duisende Britse en Franse troep grawe hulleself in langs die Noordelike kus van Frankryk, in ‘n laaste poging om die Duitsers van hulle lywe af weg te hou. Die Franse en Britse troepe het geweet dat hulle turf sit. Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat hulle deur die Nazi’s uitgewis sou word. Plaas jouself in die skoene van ‘n troep wat in die doods-akker lê en weet dat daar geen uitkomkans is nie. Aan die een kant was die Franse seekus en die anderkant gewetenlose Nazi troepe wat bloed ruik.

 

Terwyl hulle daar in die loopgrawe lê en wag vir die dood, ontvang die Britse troepe ‘n drie-woord boodskap van anderkant die Engelse kanaal. Die drie-woord boodskap was: “And If Not.” Weer slaan ek hoendervleis uit.

 

Die soldate het onmiddellik geweet wat dit beteken want daardie soldate het hulle Bybels geken. Hulle was nie blootgestel aan fopnuus, doemprofesieë of samesweringsteorieë nie. Skielik is daar hoop en sê hulle blinkoog vir mekaar: Ons God het die vermoë om ons te red, en Hy sal ons red, en as dit nie gebeur nie sal ons steeds getrou bly aan Hom.

 

“And If Not.” Wat ‘n vreemde boodskap was dit nie? Was dit ‘n geheime kode? Glad nie. Dit was ‘n verwysing na die tyd toe Sadrag, Mesag en Abidnego voor Nebukadneser gestaan en gesê het: Ons God sal ons red en selfs as dit nie gebeur nie, sal ons steeds in Hom Glo (Vry vertaal Daniël 3:17-18)

 

In die dae wat gevolg het, het ‘n flottielje  van die Engelse Vloot vanuit Engeland vertrek en 338 000 Geallieerde troepe gaan red. Ses en half stampvol Nuweland stadions! Kan ons onsself indink wat deur die troepe se gedagtes daardie dag gegaan het? Vrees verander in hoop. Onsekerheid word ‘n vaste geloof. En al wat die Nazi’s op beslag kon lê was leë loopgrawe.  Die 338 000 Geallieerde soldate was veilig seewaarts op pad na Engeland.

 

Wat sê ons vir mekaar vanoggend? In die aangesig van onsekerheid, gevul met vrees, is daar net een boodskap: Die Here is by ons in hierdie moeilike tyd waarin ons onsself bevind. Moenie luister na mense se samesweringsteorieë en doemprofesieë nie. Moet jouself nie daaraan blootstel nie. Verdiep jouself en spandeer tyd aan dit met ewigheidswaarde. Vers tien sê :10Mense is verganklik, mense is niks: op ’n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks. Wees versigtig om ten volle op mense staat te maak.

Net God beskik oor die mag. En ons as mense kan net op die Here vertrou.

SLOT 

Ek eindig met dit waarmee ek begin het:

Waar vind jy jou rus?

Waarop plaas jy jou vertroue?

Wie is jou rots en veilige vesting?

Wie is jou toevlug?

En by wie stort jy jou hart uit?

Wat is jou belydenis? Lees weer Psalm 62 en kom tot rus by die voete van ons lewende almagtige God!

AMEN  

ONTVANG DIE HERE SE SEËN EN GAAN LEEF DIT UIT MET VREDE, VERTROUE EN ENTOESIASME

DIE GENADE VAN ONS HERE JESUS CHRISTUS,

DIE LIEFDE VAN GOD ONS VADER,

EN DIE TROOSVOLLE TEENWOORDIGHEID VAN DIE HEILIGE GEES.

AMEN

DIE WERK VAN DIE HERE MOET VOORTGAAN IN HIERDIE GRENDELTYD.

MAAK GEBRUIK VAN SNAPSCAN, OF DOEN ‘N INTERNET-OORPLASING OF BESOEK DIE KERKKANTOOR OM JOU OFFERGAWE TE GEE.

BANKBESONDERHEDE VIR EFT

Absa Bank – takkode 632005

Rekeningnommer – 3010590069

Verwysig – offergawe

SNAPSCAN QR KODE