GENESIS 29:13-30

Datum: 30 Julie 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

  1. Inleiding. Hierdie verhaal klink soos ‘n humoristiese sepie. Die hoofrol word deur Jakob gespeel terwyl hy vir veertien jaar met die kous oor sy kop, deur sy skoonpa ingedoen word. Maar allermins is dit ‘n sepie. Hierdie verhaal is tragies. Tragies in die sin dat gesinne verinneweer word as gevolg van gulsigheid en mag.

 

  1. Jakob word in eie munt terugbetaal. “Kry vir jou Jakob! Jy wat jou pa en broer om die bos wou lei. Kry vir jou ou mamma se witbroodjie. Jy wat saam met ma gesorg het vir ‘n disfunksionele gesin. Dit is jou verdiende loon.” Dit is nie hoe ons reageer in die kerk nie. Ons moet sag wees teenoor hierdie man. Ons kan so maklik veroordelend wees. Ons moet onthou dat Jakob ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land was. Jakob het nie geweet hoe gebruike en dinge werk en gebeur in die vreemde land waarin sy oom gebly het nie. Jakob het op sy oom se integriteit staatgemaak want aanvanklik het dinge goed verloop tussen die twee. Oom Laban is enige familielid se droom-oom. So klink dit!

 

  1. Laban, die gulsige sakeman. Laban het geensins die familie of gesin in ag geneem in sy sakebesluite nie. Uitbuiting en gulsigheid ten koste van goeie verhoudinge in die gesin en familie het vir Laban gedryf om te doen wat hy gedoen het. Sy twee dogters is net twee voorwerpe waardeur hy sy doelwitte bereik. Die feit dat onbeskryflike spanning in Jakob se gesin sou plaasvind het geensins ‘n rol in Laban se besluite gespeel nie. Bitter hartseer en pyn sou hieruit voortvloei. Die resultaat van Laban se skelm skema was ‘n gebroke en disfunksionele gesin.

 

  1. Slot. Wat leer ons hieruit. Wat moet ons doen? Moenie dat gulsigheid jou lewe oorneem en beheer nie. Dink voor jy doen! Jou gesin kom altyd eerste. Maak berekende risiko’s en moenie jou gesin voor die bus gooi nie. Moenie kortpaaie kies en swak besluite maak wanneer dinge taai en moeilik raak nie. Ek weet dit is soms moeilik om aan God se beloftes vas te klou en selfs te glo wanneer omstandighede minder gunstig lyk. Wanneer dinge donker lyk is dit juis wanneer God besig is om agter die skerms te werk. Die naam van God kom nêrens in die perikoop voor nie; tog is God nie afwesig nie. Dus bestaan daar geen gevaar dat sy beloftes in ’n doodloopstraat ten einde sal loop nie. Dit is dan ’n uiters troosvolle gedagte dat God tot die uiterste sal gaan om sy beloftes aan ons te onderhou.