Hebreërs 4:12-16

Datum: 14 Oktober 2018

Prediker: Hannes Burger

Die teksvers wat ons vanoggend saam gelees het, hoor ’n mens nogal meermale hierdie tyd van die jaar. Want einde Oktober elke jaar is altyd Bybelsondag, en dis mos net om die draai. En dan praat ons oor die Bybel, en dink na oor die rol wat die Bybel in ons lewe speel en behoort te speel. Dis altyd die ideale Sondag om Hebreërs 4 te lees. Hier hoor ons dat die Bybel somtyds ongemaklik diep sny in ons lewe, selfs pynlik diep, maar dat dit genesing bring. Dat dit heel maak, want dis geen gewone boek nie. Dis God se Woord. En dié Woord is lewend en kragtig, presies net soos hier staan.

In ‘n neutedop kan jy sê Hebreërs 4 gaan bo alles oor die onweerstaanbaarheid van die Woord. Die Woord is soos die chirurg se skalpel. Dit lê eenvoudig alles bloot. Ook dit wat jy dalk regtig eerder sou verkies verborge moes bly. Ook dit wat jy veel eerder sou wou wegsteek vir God. Hierdie Woord is bo-natuurlik. Dis lewend en kragtig. Dis totaal onweerstaanbaar....

Maar nou is dit nog nie vandag Bybelsondag nie. So ons bêre eers daardie preek. Want vir vandag het die Here deur sy Gees in hierdie week iets heel anders in hierdie teks op my hart gedruk. Iets anders wat jy moet raaksien, en waaroor ons bietjie moet nadink. Wat beteken dit as hierdie teks sê: “Daar is niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë”? Wat wil die Here vandag uit sy Woord vir ons hierdeur sê, dat ek en jy totaal blootgestel staan voor God.

  1. God het die mens geskape om in ‘n oop verhouding voor Hom te staan.

Kom ons begin soos verlede week by die begin. Daar is Genesis 2 lees jy iets waaroor baie al gesê en geskrywe is. Die Bybel sê baie spesifiek dat die mens aan die begin nie skaam was nie. Natuurlik veral was hulle nie skaam vir mekaar nie, maar ek dink dis baie meer as dit. God het die mens van die begin af gemaak om in ‘n oop verhouding met Hom en mekaar te staan. Hulle was nie skaam vir God nie, want hulle het niks gehad om weg te steek nie. By Hom kon hulle absoluut hulleself wees. Ek dink die woord wat ons vandag sou gebruik, is “geborge”. Hulle het veilig en op hulle gemak gevoel by God.

Maar jy weet wat gebeur toe. Toe kom die sonde en toe dit deel raak van ons DNA, krap dit alles deurmekaar. Om mee te begin, moet ek erken, wonder ek regtig oor klere uit vyeblare. Dit klink net op geen manier soos ‘n goeie plan nie. Maar dis eintlik maar net die begin. Want die mens se ongehoorsaamheid het sy verhouding met God vertroebel soos hy self nooit sou kon voorsien nie. Van Satan se beloftes het niks gekom nie; wat wel oor was, was vrees en onsekerheid. Ewe skielik het hulle dit ook nodig gevind om vir God weg te kruip. Ewe skielik was die mens ongemaklik in God se teenwoordigheid...

En so gaan die prentjie aan, dwarsdeur die Ou Testament. Die mens is ongemaklik met God. Want aan die een kant is ons só gemaak dat ons nie sonder God kan bestaan nie. Dis ‘n onsigbare naelstring wat die mens aan sy Skepper verbind, waarvan jy nie loskom nie. En tog spartel hy die hele tyd daarteen. Probeer hy met alle geweld losbreek van God, probeer hy bewys dat hy eintlik nie vir God nodig het nie, eintlik sy eie pad kan loop. Tot hy hom elke keer weer teen ‘n muur vasloop, en weer onthou dat hy God nodig het.

  1. En toe kom die gebeure van vers 14

Maar toe gebeur die wonderwerk uiteindelik waarvan vers 14 praat. Onthou jy nog, ons het verlede week oor Hebreërs 1 gepraat oor die wonder dat God die mens opsoek, dat Hy bly kommunikeer selfs al probeer ons die gesprek beeïndig en afsny? Hier sien ons dit ook. In sy groot genade het God nie kans gesien om dit daar te laat nie. Daarom sorg Hy self vir die oplossing vir hierdie onmoontlike dilemma. Hy voorsien ‘n nuwe Hoëpriester, om versoening te bewerk. Maar nie sommer ‘n gewone een, wat deur mense aangestel is nie. Hy gee sy eie Seun om deur sy soendood Hy ‘n nuwe moontlikheid te open.

Jy kan eintlik maar sê dat God die horlosie kom terugdraai het. Jesus kom vat die vrees vir God, die skaamte wat ons laat wegkruip het tussen die bome van die tuin, weg, en skep vir ons ‘n nuwe vrymoedigheid. Hy herstel die paradys in ons. Jy hoef nie meer vir God weg te kruip nie. Ons kan weer vrymoedig na God se troon gaan. Trouens, die Hebreërskrywer nooi jou vandag aktief om dit te doen.

  1. Ek wonder net...

Maar op die ou end laat dit my met ‘n vraag: ek wonder tot watter mate ons nog vir God tussen die bome wegkruip? Wat help dit dat Jesus vir ons die wonderwerk bewerkstellig het, as ons steeds probeer om God in ‘n klein kompartementjie in ons lewe vas te keer, en krampagtig self beheer oor ons lewe te behou?

Natuurlik is dit ‘n enorme waagstuk om jouself so bloot te stel. In enige verhouding. Onthou jy toe jy ‘n tiener was en daai meisie wou vra om saam met jou te gaan fliek? Die kanse was altyd daar dat sy nee sou sê, en dan sou sy jou selfbeeld ‘n ernstige knou toedien. Dis hoekom ek so min meisies gevra het om te gaan fliek. Maar met God is dit tog bietjie anders. Want jy weet dat Hy jou liefhet. En vir jou net die beste gun.

Die afgelope week het ek bietjie gesukkel met my selfoon. Lyk my ek is nou op daardie stadium van my lewe. Toe sien ek op my selfoon dit het deesdae iets wat Samsung noem die “Fort Knox” van die foon. Daarin bêre jy skynbaar data en persoonlike inligting waarby geen mens ooit kan uitkom nie. Dis veilig soos in Fort Knox. Moet net nie vir my vra hoe dit werk nie. Maar toe begin ek wonder. Is dit nie presies wat ons met God doen nie? Ons gee ons lewe vir Hom, ons lê ons lewe voor sy voete neer, maar iewers is daar ‘n Fort Knox waartoe selfs hy nie toegang kry nie. Iewers bly ons wegkruip tussen die bome. Dis net vir ons soveel makliker. Soveel minder bedreigend. ‘n Klein agterkamertjie van my hart wat net aan my behoort. Waartoe selfs God geen toegang het nie...

En dan is ons verbaas dat ons God se vrede maar net so ten dele ervaar. Want jy sien, die groot probleem is presies dit wat die Hebreërskrywer hier sê. Watter soort speletjie dink jy is jy besig om met God te speel? Dis tog totaal futiel. Want God sien in elk geval alles...

Die uitnodiging staan. Ook vir jou vanoggend. Vergeet van speletjies speel. Sluit maar die Fort Knox vir God oop. Hy weet in elk geval wat steek jy daarbinne weg. En word genees. Dis tyd dat ons waag om die skerms te laat val. Dit vat nogal. Maar gelukkig kom herinner die Herbreërskrywer ons vanoggend dat die Here medelye het met ons swakhede... Hy is nie veroordelend en krities nie. Hy is dan jou Vader...

Jy kan dit waag. En so ‘n nuwe avontuur saam met God begin.

AMEN