Johannes 10:1-10
Datum: 7 Mei 2017
Prediker: Hannes Burger
Ek weet die erediens is nou nie eintlik die plek om jou vakansiefoto’s te wys nie, maar van al die baie fotos wat ons van Eurpa af teruggebring het, is daar een wat ek tog vanoggend graag met julle wil deel. Ons het dit in Maastricht geneem, wat volgens die inwoners glo die heel oudste stad in Nederland is. Of dit waar is of nie, weet ek nie, want hulle stry glo daaroor, maar een ding weet ek wel: In Maastricht kry jy seker die heel mooiste boekwinkel in die hele wêreld. Dit staan bekend as die St Dominic-boekwinkel, en dit slaan regtig jou asem weg as jy daar instap – en nie net omdat al die boeke se pryse in Euro’s gemerk is nie!
Dis dan hoe hierdie beroemde boekwinkel lyk. Maar dalk voel jy om te sê: Whoa. Wag net ‘n bietjie. Is die dominee nie dalk net alweer bietjie deurmekaar nie? En ek sou jou nie kon kwalik neem as jy daaroor wonder nie. Want hierdie lyk glad nie soos ‘n boekwinkel nie. Dit lyk soos ‘n katedraal - selfs tot by die pragtige gebrandskilderde vensters en ou muurskilderinge.
En jy sou reg wees. Want baie jare gelede was St Dominics ‘n kerk, waar mense Sondae bymekaar gekom het om die Here te aanbid. Tot in 1794, toe Napoleon die gemeente uitgejaag en daarvan ‘n militêre stoor gemaak het. En daarna is daar vir die afgelope meer as 200 jaar nooit weer ‘n erediens in St Dominics gehou nie. Dit was ‘n stoorplek waar onder andere op ‘n stadium fietse geberg is. En toe koop die Nederlandse Boekhandel die plek in 2005, sit daar rakke in en so word St Domincs toe die mooiste boekwinkel in die wêreld.
Maar terwyl ek in St Dominics se koffiewinkeltjie heerlike koffie sit en drink en my verkyk aan die pragtige gebou om my, het daar tog so ‘n melankolie oor my gekom. Want hoe pragtig dit ook al ingerig is, en hoe wonderlik dit is dat St Dominics nie meer ‘n fietsstoor is nie, is dit tog nie waarvoor hy gebou is nie. In hierdie ruimte behoort mense in verwondering stil te word voor die almagtige God, het ek gedink, en in plaas van die geroesemoes van toeriste en kopers behoort jy die orrel te gehoor het, en die gemeente wat sing, en die verkondiging van die Woord van God. St Dominic is nie gebou om ‘n boekwinkel te wees nie...
En so het ons die gebou verlaat en die stad verder verken. Maar daardie gevoel het by my gebly. Selfs tot die week nog, toe ek terug in Kuilsrivier weer agter my lessenaar sit, het dieselfde vraag weer by my gespook. Wat laat my dink dat De Eike se kerkgebou nie oor ‘n eeu of twee dalk die bekende De Eike-boekwinkel sal wees nie? Wat laat my dink dat De Eike ‘n plek sal bly waar die Here aanbid word, en waar mense bymekaar kom om Hom te dien en te eer?
Dis nie so ‘n vreeslik vreemde vraag nie. Want ek hoor somtyds ons lidmate dit ook vra. Kyk maar om jou, sê hulle. Die sneeu lê wit op die dakke in die banke op ‘n Sondagoggend. Waar is die jongmense wat hierdie gemeente die toekoms moet invat? Wat gaan word as ons nie meer daar is nie – oor tien jaar, of twintig, of honderd? Wat sal maak dat De Eike sal voortbestaan, dat dit altyd ‘n plek sal wees waar mense kan kom om te aanbid en die Here te dien?
Ons moet vernuwe, sê hulle. Ons moet dinamiese nuwe maniere bedink om mense weer te trek kerk toe. Nuwe strategie en goeie planne sal ons deurtrek, en ‘n slag ‘n jonger dominee wat weer die kerk vol jongmense sal maak - dan sal alles sommer weer reg wees. Die arme nuwe Dominee. Soos die een kandidaat wat ons die week gesien het, reguit vir ons gesê het: Hy kan nie Superman kom wees nie. Julle kan nie van ‘n jong proponent verwag om De Eike se Messias te kom wees en man-alleen alles reg te ruk nie.
Maar ons kan ook nie dink ons kan maar net voortgaan soos altyd, en alles sal sommer vanself regkom nie. Want dis immers wat die klomp mense wat na Jesus staan en luister het, ook gedink het. Hulle het nie regtig geluister na wat Hy vir hulle probeer sê het nie, sê vers 6. Daarvoor was hulle eens te seker hulle is reg, en die kerk is baie veilig in hulle hande. Hulle kon maar ontspan en aangaan soos altyd, en die kerk sou sommer vanselfsprekend vir ewig bestaan. Dis mos God se kerk!
Tog sê Jesus op ‘n ander plek in Lukas 21 van hierdie asemrowende tempel wat Salomo nog gebou het, dat daarvan eindelik nie eens een klip op die ander sou bly staan nie... Tot vandag toe. Want op Sion staan vandag ‘n Moslem-tempel.
1. Jesus se oplossing is heel anders.
Wat is dan die oplossing? Wat sê Jesus, kan ons doen om te verseker dat hierdie nie eendag die pragtige De Eike-boekwinkel sal wees nie? Die antwoord is eintlik verskriklik eenvoudig: Die kerk sal bly voortbestaan solank hy waarlik kerk bly. Want die Here sal sorg vir sy kerk. Solank gelowiges getrou bly aan Hom en getrou bly aan hulle roeping, hoef die kerk hom nie oor die toekoms te bekommer nie. Dan kan jy vir seker weet dat die Here SAL sorg vir sy kerk – solank ons sy kerk bly...
Maar nou begin dit alweer soos hogere teologie klink. Wat is dit regtig wat Jesus in Johannes 10 van ons vra? In ‘n neutedop: Die essensie van kerk-wees is om die kudde van die Goeie Herder te wees.
2. Wat beteken dit?
Dis eintlik so eenvoudig. Wat Jesus hier vir ons baie duidelik sê, is dat om regtig kerk te wees, die kerk baie fyn moet luister (v.3). Want dit is omtrent al wat die Herder van sy kudde vra. Hy vra nie van hulle fyn uitgewerkte oorlewingsstrategieë nie. Hy vra nie van hulle fyn toekomsbeplanning en dinamiese strategiese denke nie. Hy verwag dat hulle sal luister.
En nie net by geleentheid nie. Dis deel van kudde-wees. Die skaap is later so fyn ingestel op die stem van die herder dat hy niks anders hoor nie. Natuurlik is daar ‘n vreeslike gedruis rondom die watergate as al die omgewing se herders hulle skape soontoe bring – onthou dis droë wêreld daardie en daar is min sulke waterplekke. Maar vir die skaap is daar net één stem. Hy is gewoond elke dag na Hom luister en daarom hoor hy hom bo al daardie ander uit. “Ek ken my skape en my skape ken My” sê Jesus. Hulle hele lewenspatroon is om vir my stem te luister.
Dis mos iets wat ons verlede week ook so mooi saam met die Emmaus-gangers geleer het. Hulle het harte het sommer warm geword toe hulle die Herder se stem hoor, en hulle het dadelik Hom gevolg en tot aksie oorgegaan. Vandag nog praat die opgestane Here met ons vanuit sy Woord, soos Johan so mooi uitgespel het – as ons net toe stilstand wil kom en die tyd wil maak om te luister.
3. Maar dit beteken ook onvoorwaardelike navolging.
Maar dit eindig natuurlik nie by luister nie. Luister en gehoorsaam is twee verskillende goed. Die skaap hoor nie net nie; hy volg wanneer die Herder roep. Om waarlik kerk van die Here te wees, beteken dat ons sal laat gaan, ons eie agenda op die agtergrond sal skuif, en Hom toelaat om regtig Koning te wees. Dis wat dit beteken om kerk te wees. En vandag kom daag Johannes 10 ons uit om regtig vir Jesus te begin volg. Om al ons motiewe op die altaar te kom neersit. En te sterf aan onsself. Die skaap het nie sy eie planne en sy eie skemas nie. Hy volg onvoorwaardelik die Herder, en daarin lê sy sekuriteit en sy heil.
Om regtig kerk te wees, moet ons stilword en luister. En dis moeilik vandag. As daar vroeër baie stemme was, dan het dit nou duisendvoudig toegeneem met die internet en die media van ons dag. Maar ons toekoms lê daarin dat daar vir ons as kerk van die Here net een stem is: die stem van die opgestane Here uit sy Woord. Sola Scriptura...
4. Wanneer sal ‘n gemeente bly voortbestaan?
Sal De Eike oor nog veertig jaar, of nog ‘n eeu nog kerk van die Here wees? Dit sal afhang van wat ons vandag kies – wat jy vandag kies. Of ons nou kies om regtig kerk van die Here Jesus te wees. Want ‘n gemeente sal bly voortbestaan solank hy weet wie hy is en waarvoor hy hier is. Solank hy getrou bly aan sy identiteit en sy roeping.
Ons is die skape wat Hy gemerk het deur die teken van die doop. Ons is sy kudde en vir ons is daar net één stem... Dis tyd dat ons so begin lewe...