Markus 6:14-29
Datum: 15 Julie 2018
Prediker: Johan Morkel
Die koninkryk van God en die koninkryk van die wêreld.
Ons is die afgelope tyd deeglik bewus van tweestryde wat op die sportveld afspeel: die Wimbledon-eindstryd(Anderson), die Wêreldsokkerbeker,(Frankryk teen Kroasië), krieket(Proteas teen Sri Lanka), die Tour de France, die Bergrivier kanomarathon en die Cravenweek rugby in die Paarl. Skrifverklaarders wys daarop dat Markus baie sterk met teenpole of teenstellings werk. Hulle wys die teenstellings dan ook vir ons uit: arm en ryk, geloof en ongeloof, vertrou en wantroue, oorvloed en gebrek, gesond en siek, rein en onrein, liefde en haat, lewe en dood.
Ons vind ook in die gedeelte wat ons gelees het, teenpole, teenstanders, teenoorgesteldes,
verteenwoordigers van twee koninkryke wat teenoor mekaar staan: Herodes en Johannes die Doper. Herodes verteenwoordig die koninkryk van hierdie wêreld, Johannes die Doper verteenwoordig die koninkryk van God. Herodus is die voorbeeld van die tipiese wêreldling. Johannes die Doper is die gelowige, die een wat die pad vir Christus kom voorberei het. Herodus is die prins van die wêreld, Johannes die Doper die profeet van God, die geestelike leier. Herodus die immorele mens, die swakkeling, Johannes die Doper die vreeslose een wat nie terugdeins vir die waarheid nie. Dié twee pole(teenstanders) bestaan vandag steeds! Die kerk en die wêreld. Die gelowige(ons) en die ongelowige. Die koninkryk van God en die koninkryk van die wêreld. Dit waarvoor ons as gelowiges staan: Bybelse waardes en waarhede, die boodskap van Jesus Christus as Verlosser, die liefde, die genade en redding van God. Daarteenoor staan dié dinge wat in die wêreld aan die gebeur is: onrus, haat, rusie en oorlog, korrupsie en valsheid, misdaad, moord en doodslag.
Die volgende punt is eintlik logies. Teenstanders op die sportveld gaan oor tot aksie, vat mekaar aan, sê mekaar die stryd aan. Dit is tog onvermydelik, dit is waaroor dit gaan! So gebeur dit dan ook in hierdie gedeelte: Herodus en Johannes die Doper se weë kruis! Herodus sou reeds vroeg van Johannes die Doper kennis geneem het. Hy het immers regeer in die gebied waarin Johannes die Doper opgetree het. Dit was ook die gebied waarin Jesus se bediening was en waarheen Jesus sy dissipels uitgestuur het in die vorige hoofstuk. Ons lees hier verder van interaksie tussen dié twee: Herodus het Johannes in die tronk laat gooi. Tog het Johannes ‘n groot indruk op Herodus gemaak terwyl hy in die tronk was. Hier staan selfs Herodus het Johannes onder sy beskerming geneem. En verder in v.20: Herodus het besef Johannes is ‘n opregte en Godvresende mens! Herodus en Johannes het ernstige gesprekke gehad. Herodus het graag na Johannes geluister. Herodus “was bang” vir Johannes, ‘n aanduiding dat hy Johannes buitengewoon gevind het, anders gevind het as die res! So vriende, ten spyte daarvan dat daar so ‘n groot verskil tussen dié twee karakters was, dat hulle in werklikheid teenstanders was, teenpole, dat hulle verteenwoordigers van verskillende wêrelde was, is dit tog duidelik dat Johannes ‘n groot indruk op Herodus gemaak het. Herodus het van Johannes gehou en graag met hom gesels, hy het selfs vir Johannes onder sy beskerming geneem. Herodus het Johannes se godvredendheid, sy geloof, die feit dat hy verteenwoordiger van die Koninkryk van God was, waargeneem!
Dit bring my by jou en my, vandag. Die gelowige en die ongelowige leef nie in afsondelike wêrelde nie - ek in my klein hoekie en jy in joun nie. Ons het nie niks vir mekaar te sê nie, niks met mekaar te make nie. Ons leef in dieselfde wêreld. Ons kom(soos Johannes en Herodus) elke dag met mekaar in aanraking, ons skuur ons skouers. Daar is daaglikse interaksie tussen ons(die kerk) en die wêreld! Die vraag is: Het ons ook ‘n invloed op die wêreld? Watter invloed het ek en jy as verteenwoordigers van God op die wêreld(ling)? Sien hulle by ons dat ons anders is, ander waardes het? Sou hulle ook van ons sê: hulle is Godvresend, hulle is opreg, het integriteit? “Sense”(voel hulle aan) by ons dat ons verteenwoordigers van die Onsienlike God is, dat ons draers is van boodskap wat anders as die wêreld is? Sou hulle graag met ons praat om meer te hoor van die Boodskap wat ons dra? Sou hulle iets van God se liefde, God se genade, God se omgee?
Keer ons terug na die wedstryd-gedagte, sal ons moet sê: ‘n Wedstryd is tog nou ook per definisie nie maanskyn en rose nie. ‘n Wedstryd is ‘n stryd tussen partye, tussen partye wat teenoor mekaar staan. So gebeur dit ook tussen die twee verteenwoordigers van die koninkryke in hierdie gedeelte, Herodus en Johannes. Herodus en Johannes bots, die koninkryk van die Lig en die koninkryk van die duisternis bots. Johannes deins nie terug om vir Herodus te wys op wat verkeerd is in sy lewe nie. Hy staan hiermee in die tradisie van die O.T.-profete, ons dink aan Natan wat vir Dawid gesê het “jy is die man”! En aan Elia wat vir Isébel en Agab aangespreek het. So konfronteer Johannes Herodes “Jy is met jou broer se vrou, Herodias, getroud en dit is nie reg in die oë van de Here nie”. Johannes deins nie terug om op te staan vir dit waarin hy glo nie, hy is die onverskrokke krygsman van God, hy staan dapper en standvastig as verteenwoordiger vir die koninkryk van God in die aangesig van die wêreld. Kom ons vra in ‘n tweede rondte vir onsself die vraag: Is ons bereid om te doen wat Johannes gedoen het? Is ons bereid om ‘n streep in die sand te trek en te sê, “jammer, dit is teen my beginsels, jammer, dit druis in teen Gods Woord, jammer, dit wat jy/julle doen, is nie reg nie!” Of skuil ons te maklik agter woorde soos: “ek wou nie aanstoot gee nie, ek wou nie die mense afsit nie, ek wou nie die pad vorentoe toemaak nie”?
Die slinksheid van Herodias en die papbroekigheid van Herodus, onder die dekmantel van dat hy eerbaar is en nie sy woord wou breek voor hooggeplaastes nie, kos Johannes sy lewe. Kos Johannes sy kop op ‘n skinkbord. Baie Christen martelare was deur die eeue heen bereid om vir hul geloof te sterf. Baie kinders van die Here het hul geloof in die lewende God hoër geag as hul eie lewe en so die hoogste prys betaal. Dit gebeur ook nog vandag dat Christene sterf vir hul geloof! Jandré vra Vrydagoggend in die konsistorie “Wat kos ons geloof ons rêrig?“. Hoeveel is ons geloof vir ons werd? Is ons bereid om op te staan vir dit waarin ons glo, ook al boet ons populariteit in, ook al gee ons aansien prys in sekeres se oë, ook al verloor ons vriende. Is ons bereid om onverskrokke soos Johannes die Doper te staan vir dit waarin ons glo, ongeag die prys, ongeag die gevolge. Is is ons bereid om selfs te sterf vir ons geloof - sou dit daarop neerkom?
Amen