Matteus 21:1-11

Datum: 5 April 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Is Jy Bereid Om ’n Donkie Te Wees?

’n Tyd gelede was ek en Carina saam aan tafel met seker een van die interessantste mense wat ek in ’n lang tyd ontmoet het. Magdy is sy naam. ’n Egiptenaar, wat onbeskryflik lief is vir Jesus.

Toe ek hom uitvra oor sy bediening in Egipte was sy enigste antwoord die volgende gewees: Chris, ek is net die donkie wat die boodskap dra. Dis al wat ek wil wees.

Ek weet nie van jou nie maar my herinneringe aan ’n donkie is nie goeie herinneringe nie. Ek onthou dat die stout kinders in die klas gewoonlik nagemaakte donkie of esel-ore moes dra. Wanneer iemand op ’n negatiewe manier na ’n persoon verwys, word daar na daardie persoon as ’n donkie verwys. Daardie persoon is net so steeks soos ’n donkie, word gesê wanneer ’n persoon weier om iets te doen. Ek wou nooit ’n donkie genoem word nie.

En vanoggend lees ons van die eselin en haar vulletjie wat stil-stil deel word van hierdie intog na Jerusalem.

Mens kan so maklik weggevoer word deur die feesvieringe tydens Jesus se aankoms in Jerusalem dat dat dit waaroor dit werklik gaan by mens verbyglip. Want vir ’n slag wil dit voorkom asof almal vir Jesus op die hande dra. Vir ’n slag wil die voorkom asof almal opgewonde is oor Jesus se teenwoordigheid. Vir ’n slag wil dit voorkom asof die skare vertroue het in Jesus se vermoëns.

Maar...die skare se geskreeu en hulle opwinding sê vir ons dat daar steeds ’n wanindruk bestaan oor Jesus se ware identiteit.

Ons luister na wat die mense uitbasuin: : Seun van Dawid, die een wat in die naam van Here kom, daar word selfs na Jesus as ’n profeet verwys

Deur Sagaria 9:9 aan te haal plaas Matteus die waarheid van die Messias binne hierdie dramatiese toneel.

9  VERHEUG jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel—op ’n jong esel, die vul van ’n eselin.

Matteus wil hê dat ons as lesers bewus sal wees van die teenstrydigheid  tussen die geskreeu van die skare  en die nederige, eenvoudige jong pakesel waarop Jesus ry.

Esels was in daardie tyd werktuie gewees. Die eenvoudige dier wat gebruik was deur handearbeiders, grondeienaars en handelaars.

Meer eksotiese, lang-afstand vervoer was met kamele onderneem. Die donkie was ’n eenvoudige, onindrukwekkende werkesel. Die esel was gebruik vir die mees eenvoudige en daaglikse take in die klein dorpies sowel as in die stede.  Grys en onaansienlik, maar tog noodsaaklik vir al die harde donkiewerk.

En dit was Jesus se keuse as sy vervoermiddel om Jerusalem binne te ry. Deur op ’n nederige eselin se vulletjie te ry kom Sagaria se profesie in vervulling.

Koning van die konings. Regverdig. ’n Oorwinnaar.

Maar ook dienskneg vir diensknegte, ’n werkesel, ’n helper vir helpers.

En dan hoor ek weer Magdy se woorde wanneer hy saggies aan tafel vir ons vertel wat hy in Egipte tussen die ongelowiges doen. Dat dit sy missie is om ’n donkie te wees.

Is dit nie ook die missie van die kerk nie?

Om Christus in die wêreld in te dra nie?

Dit beteken dat ek en jy geroep is om ’n donkie te wees.

Daar is geen besondere eer daaraan verbonde om ’n donkie te wees nie. Daar is baie lang  roetes, opdraandes, swaar vragte en bitter weinig of geen erkenning vir goeie werk wat gedoen word nie.

Maar KYK, wie is ons besig om te dra!

Die Koning van Konings.

Die Prins van Vrede.

Die Leeu  van Juda, die Lam van God wat die wêreld se sonde wegneem.

Ons is geroep om donkies te wees. ’n Donkie is bekend vir sy sterk rug en bene wat nie struikel nie. ’n Donkie kan ’n swaar vrag gemaklik op plekke dra waar dit vir ander  te gevaarlik is om te loop.

Ons begeef ons tans op rowwe en gevaarlike terrein. Hoe lyk die vrag wat jy in die Corona gebergtes dra? Dra jy vir Jesus in hierdie tyd? Waar ook al Hy wil gaan? Is jy bereid om ’n donkie te wees?Sal jy langs afgronde jou vrag kan dra? Sal jy nederig genoeg kan wees om net ’n pakesel te wees? Sal jy ander se laste kan dra? Sal jy jou kruis kan dra?

Karl Barth, die baie bekende teoloog het op sy 80ste verjaarsdag die volgende gesê:

In die Bybel word daar na ’n donkie, of om meer korrek te wees, ’n esel verwys. ’n Esel was gebruik om Jesus Jerusalem in te dra. As ek enigiets in hierdie lewe kon bereik het, dan is dit om familie van die esel te wees wat in daardie tyd ’n belangrike vrag gedra het.

Die dissipels het vir die eienaar gesê: Die Here het hulle nodig, En dit lyk asof God tevrede was om my as esel in Sy koninkryk te gebruik. Ek het na die beste van my vermoë my vrag gedra tot eer van die Here.

Kom ons dra in hierdie onsekere tyd ons vrag na die beste van ons vermoë. Kom ons dra in hierdie Corona besoedelde landskap  die WAARHEID, die wêreld in.

Ons vrag wat ons dra is Jesus....die opgestane Here.

Die Here het jou nodig!

AMEN