1 Petrus 3:13 – 17
Datum: 17 Mei 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Ons het in die vorige hoofstukke opgemerk dat Petrus graag oor “hoop” skryf. Hy doen ook weer so in hfst.3. Daar word gesê Johannes word die apostel van liefde genoem, Paulus die apostel van geloof en Petrus die apostel van hoop!
Kom ons lees 1 Petr.3:13 – 17(15 – 16b)
Ons verstaan normaalweg onder hoop dat dit iets is wat ons doen as ons swaarkry. As ons swaarkry, hoop ons dat daar uitkoms sal kom. As ons in die moeilikheid of nood, of in ‘n krisis is, hoop ons vir uitkoms, vir antwoorde. Mense wat(byvoorbeeld in grendeltyd) hul bron van inkomste verloor het, hoop grendeltyd gaan verby sodat hulle weer kan begin verdien. Mense wat nie kos het nie, wat honger ly, hoop op ‘n kospakkie of geld om kos te kan koop. Mense wat siek is, in die hospitaal is, hoop om gesond te word, huis toe te kan gaan.
Dit is natuurlik nie verkeerd om as jy in die nood is, vir die Here uitkoms te vra nie. Baie van julle kan getuig hoedat die Here vir julle uitkoms gegee het toe julle in die nood was. Maar vriende, as Petrus hier van hoop praat, praat hy nie van dit wat ons normaalweg daaronder verstaan nie - om te hoop op ‘n oplossing van jou probleem nie! Dit is nie die hoop waarvan Petrus praat nie. Ons vind Petrus se verstaan/definisie van “hoop” in v.15 as hy sê: “Christus is die Here”. En onder “Christus is die Here” verstaan Petrus dat Jesus deur sy opstanding die dood oorwin het, dat Jesus lewe, dat Jesus regeer totdat Hy weer kom. Dit is wat Petrus onder hoop verstaan.
Kom ek sê dit weer. Die inhoud van ons hoop is: Christus is die Here, Christus het opgestaan en leef, Christus is die Here – Hy heers, regeer. Dit is tog wat ons elke Sondag bely as ons sê: En sit aan die regterhand van God die Almagtige Vader. Jesus sit aan die regterhand van God, in die regeersposisie.
Ek wil in die tweede plek vra: Watter effek, watter invloed het hierdie wete, hierdie lewende hoop, hierdie die feit dat Christus opgestaan het, dat Christus heers en dat Hy eendag weerkom, op jou lewe, jou daaglikse doen en late? Het dit hoegenaamd enige invloed op ons lewens? Kan dit wees dat hierdie hoop geen invloed op ons lewens het nie? Kan dit wees dat ons gelowiges met hierdie hoop in ons harte leef, maar ander dinge is vir ons belangriker? Ander dinge dikteer ons lewenswyse? Ander dinge bepaal ons prioriteite, ons besluite? Dan is hierdie “ander dinge” - wat dit ookal wag wees, besluit self wat dit is - mos ons hoop? Dit waarop ons ons hoop bou? Dit wat ons laat lewe, ons motiveer? Dan is hierdie dinge ons “lewende hoop”, en nie dat Christus die Here is nie! Dit kan ook in grendeltyd gebeur dat ons vrees vir die toekoms, ons bekommernis, die covid-19 virus op die ou-end ons gemoedstoestand, hoe ons oor die toekoms dink, ons lewens bepaal!
Dit kan tog nie, vriende! Ons hoop is dat Christus die Here is, dat Christus opgestaan het en leef, dat Hy heers op aarde totdat Hy weerkom. Hierdie wete/hierdie hoop moet ons met ‘n heilige eerbied vul(sê Petrus), hierdie hoop moet die Bron wees waaruit ons lewe, moet dié faktor wees wat bepaal hoe ons dink, en doen en lewe!
Petrus sê nie alleen dié hoop moet ons lewens bepaal nie. Hy sê ook verder: Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. “Rekenskap gee” dui op die gelowiges wat voor die regbank rekenskap van hul geloof moes gee. “Aan elkeen” dui op die mense wat die gelowiges ondervra het. Mense kan om verskillende redes in hierdie grendeltyd vir ons gelowiges rekenskap vra omtrent die hoop wat in ons harte leef. Dit mag mense wees wat vyandig teenoor ons is wat ons uitvra oor ons geloof, dit mag mense wees wat uit nuuskierigheid ons uitvra oor die hoop wat in ons leef of dit mag mense wees wat “die hoop wat in ons lewe” in ons lewens optel en daarin belang stel. Dan(sê die Woord) moet ons gereedwees om vir hulle te vertel van ons hoop/geloof, om rekenskap te gee van ons hoop, om vir hulle te sê wie ons is! Ons is mense in wie se harte die lewende hoop leef dat Christus opgestaan het uit die dood, dat Hy die Here is, in beheer is. Dat die einde van die wêreld vasstaan - Christus kom weer!
Petrus sê ook ten laaste hoe ons rekenskap moet gee van die hoop wat in ons leef. Ons getuienis “moet met beskeidenheid” wees. Ander vertalings sê sagmoedigheid, taktvol, met goeie oordeel, die Boodskap sê “sonder om windmakerig te wees”. Vriende, laat ons elke geleentheid gebruik wat oor ons pad kom om rekenskap te gee van die hoop wat in ons leef.
Maar laat ons dit nie op ‘n beterwetige manier doen nie, of meerderwaardig, uit die hoogte doen nie. Laat ons tog ook nie veroordelend wees as ons rekenskap gee van ons geloof nie. Maar laat ons ons getuienis gee met beskeidenheid, in nederigheid, sagmoedigheid, as diensknegte en diensmeisies - soos Christus self gedoen het.
Ek sluit af met ‘m beeld wat ons help verstaan hoedat hoop in ons lewens funksioneer. Ons het sekerlik almal op 2 November 2019 die Rugby wêreldbeker eindstryd tussen die Springbokke en Engeland gekyk. Ek onthou hoe ek vasgenael voor die televisie gesit het. Hoe gespanne ek was, veral toe Engeland vir ‘n lang tyd op aanval was, hoe bly, hoe verlig ek was toe die eindfluitjie geblaas en ons gewen het! Ek het die afgelope tyd na ‘n heruitsending van die eindstryd gekyk. Toe was dit heeltemal anders. Ek was heel ontspanne, ek was rustig, ek het gekyk sonder enige “stress”! Hoekom? Omdat ek die eindtelling geweet het, geweet het die Springbokke het gewen!
So werk die hoop ook. Ons weet Christus is in beheer. Ons weet wat die einde gaan wees, die einde staan vas. Ons weet niks kan dit verander nie. Daar sal wel op die speelveld van ons aardse lewe benoude oomblikke wees(soos tans), beslissings teen ons wees, aanvalle van die vyand wees. Maar ons kan rustig wees, ons kan lewe vanuit die hoop dat Christus die Here is, dat Christus in beheer is. En ons kan met beskeidenheid teenoor ander van ons hoop getuig.
Amen