Matt 4: 18-22

Datum: 27 Februarie 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

DIE BELANGRIKHEID EN DIE AARD VAN DISSIPELSKAP

 Inleiding. Wat gaan ons doen? Kan ons die wêreld verander? Hoe gaan ons die wêreld verander?

’n Vorige orrelis van De Eike, Nataniël, sê in ’n televisieonderhoud die volgende:  “Mense het vandag keuses tussen dobbelplekke, ’n magdom televisiekanale en aktiwiteite wat nooit voorheen daar was nie. So as ons lidmate wil betrokke maak in die gemeente moet ons kompeteer met ’n hele wêreld. Want ons het in die ou dae die kerk laat groei en aktief gehou met ons gewete. As die kerk ons regtig wil bemagtig en met ons goedjies wil doen, commit hulle. Commitment sê gaan groot of gaan huis toe. Ek is in of ek is uit. Jy kan nie ’n halfgebakte storie doen soos wat ons gewoond is nie. Jy moet hom begin, jy moet hom groot doen en dwarsdeur vat.”

In Nataniël se woorde is die tyd vir halfgebakte stories soos waaraan ons gewoond is verby. Ons kan nie ’n wêreld verander deur nie ons voete nat te maak in die water nie. Jy is in of jy is uit. Tog bly dit jou en my keuse. Net soos Petrus, Andreas, Jakobus en Jakobus wat ’n keuse daardie dag by die meer gemaak het toe hulle alles net so gelos het en vir Jesus begin volg het. Wat sien ons in hierdie roeping van die dissipels?

 

  1. Jesus bedien nie op Sy eie nie. Jesus kies gewillige mense om in Sy voetspore te volg. Jesus roep mense om saam met hom dienswerk te verrig. Jesus is nie ’n een persoon produksie nie. Jesus versamel die twaalf rondom Hom om Hom te help in Sy bediening. En wanneer ons kyk na die eerste vier wat reageer op Jesus se roepstem, is hulle volgens ons standaarde nie die skerpste messe in die messelaai nie. Eenvoudige mense afkomstig van die werkersklas. Vissermanne sonder uitsonderlike prestasies en kwalifikasies. Mense wat heeltyd na vis ruik en met growwe hande en vuil naels langs jou by die etenstafel gaan inskuif. Daardie mense wat jy nie deel van jou vriendekring wil maak nie. Jesus kyk verby al hierdie “side shows” want al waarna Jesus soek is ’n gewillige hart, gekruisigde hande wat gee en gekruisigde voete wat loop. Net dit. Hoe klop jou hart vanoggend. Het jy gekruisigde hande wat gee en gekruisigde voete wat loop? Of voel jy nie opgewasse vir die taak nie?

 

  1. Jesus gee toerusting vir die bedieningstaak. Dissipelskap beteken om te leer. Jesus sê: “Ek sal julle vissers van mense maak.” Dit beteken dat Jesus hulle gaan bemagtig en toerus. Jesus stuur nie die manne “clueless” na die wêreld nie. Jesus gaan hierdie mense toerus vir hulle taak. Hulle is elke dag in Jesus se teenwoordigheid. Hulle sien waarmee Jesus besig is. Hulle leer deur naby Hom te wees. Hulle sien hoe mense kos gegee word uit niks. Hulle sien hoe Jesus mense gesond maak. Hulle sien hoe Jesus mense uit die dood opwek. Hulle luister na Jesus se preke en die gelykenisse wat grondvat in hulle lewens. Jesus bou ’n verhouding. Dissipelskap beteken ook om lief te hê en om te te gee. Hulle sien vir Jesus huil. Vertroue word versterk. Hulle word bemagtig vir die taak wat vir hulle lê en wag.

En jy? Hoeveel tyd bestee jy per dag in Jesus se teenwoordigheid? Is jy gereed om jou vangnet onvoorwaardelik te werp en mense in te trek na die koninkryk van God? Of voel jy “clueless”? Die Alpha-kursus begin weer binnekort. Indien jy onseker voel en wonder wat jy moet doen wil ek voorstel dat jy sal inskakel. Daar word weer ’n uitreik beplan na Nuwerus. Kom saam met ons. Elsabe het hande nodig in Green Park. Meld aan. Miems en Jakkie soek gekruisigde hande en voete by Aksie Samaritaan. Steek jou hand op en bel hulle. Hulle wag vir jou oproep. Kyk gerus waar De Eike se gekruisigde hande en voete betrokke is. Want.......

  1. Dissipelskap vra dat jy onmiddellik dinge sal agterlaat. Dit vra dat jy onmiddellik sal reageer. Ware dissipelskap beteken dat jy dadelik in Jesus se voetspore sal volg en dienooreenkomstig sal leef. Wanneer Jesus jou roep vra Hy ’n radikale omdraai en dat jy jou prioriteite sal herbesoek. Wanneer jy ja sê vir iets nuut, sê jy ook nee vir iets oud. Want die koninkryk word tasbaar en sigbaar in jou waardes en gedrag wanneer jy in Jesus se voetspore begin lewe.

Aanvaar die uitdaging en die risiko’s en reageer soos die dissipels reageer het op Jesus se roepstem. Om skielik, sonder huiwering weg te draai van dit wat tussen jou en Jesus staan.

  1. Slot. In hierdie tyd waarin ek en jy lewe is daar ‘n baie definitiewe keuse wat ons moet maak. Die keuse vir vandag se Christene is nie of ons ons harte vir die Here gaan gee nie. Ons keuse vandag is of ons vir Jesus die koning gaan maak van ons hande en voete. Die keuse is of ons bereid is om, ten spyte van die koste, die hande en voete van Jesus se stukkende wêreld wil wees. Die wêreld is gebroke. Die wêreld is honger. Honger vir Jesus se liefde en so bitterlik dors vir lewende water wat ons het om vir die wêreld te gaan gee. Die oorgawe wat Jesus van ons vra is:

Is ons bereid om vir hom te lewe?

Is ons bereid om vir Jesus te werk?

Is ons bereid om vir Jesus te sterwe?

Is ons bereid om in sy voetspore te leef en die wêreld te verander?

Ek sluit af met die teksvers waarmee ek begin het: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.(Matteus 4:17)

AMEN