Genesis 24

Datum: 9 Julie 2017

Prediker: Hannes Burger

Isak was een van die groot geloofshelde van die Ou Testament. Dis opvallend hoe baie keer die Here in die Ou Testament “die God van Abraham, Isak en Jakob” genoem word. Sy naam staan ook in die groot gallery van geloofshelde in Hebreërs 11, tussen al die manne en vroue wat ons vandag nog aanmoedig om vol-uit vir die Here te lewe, net soos ‘n skare langs die atletiekbaan die atlete aanpor. Isak is ‘n rolmodel. Hy was vir seker ‘n groot figuur in die Ou Testament...

En tog weet ons eintlik bitter min van hom. Ons weet wel dat hy as seuntjie amper geoffer is, maar daardie storie gaan eintlik meer oor Abraham as oor hom. Verder meld Hebreërs 11 net één ding oor hom, en dis dat hy kort voor sy dood sy seuns geseën het. Daarby kom die heelwat minder vleiende storie dat hy twee maal gejok het en gesê het sy vrou is sy suster, omdat hy bang was vir hulle veiligheid. Eerder as om op God te vertrou, het die geloofsheld daardie slag op leuens staat gemaak. Maar daarby kom ook een van die mooiste getuigskrifte in die Ou Testament, as sy vyande die dag na hom kom om met hom te kom vriende maak, omdat hulle kon sien die Here is by hom. Daardie verhaal staan in Genesis 26.

Maar dis dit. Hy het wel baie oud geword, maar ons weet eintlik niks van hom, en wat hy alles gedoen het nie. Ons weet wel baie van sy beroemde pa, en ook van sy berugte tweelingseuns. Maar dis al.

En dan kry jy hierdie pragtige storie in Genesis 24. ‘n Pragtige, anderse liefdesverhaal. Dit voel so half iemand kon ‘n baie mooi romantiese fliek gemaak het hieroor. Of ‘n reeks op die TV. “How I met your mother” of so iets. Ek kan net dink hoe het Isak en Rebekka baie keer hulle kinders in die koue winteraande vergas op die mooi verhaal van hoe hulle bymekaar uitgekom het.

1. Abraham stuur sy slaaf

Wat ek wel van die verhaal onthou, is hoe ek my as tiener altyd daaraan verwonder het. Stel jou voor jou pa stuur sy slaaf om vir jou te gaan vrou soek. Met wie dink jy, sou hy daar aankom? Ek kon nie verstaan hoe Abraham dit kon doen nie. .

Hoe kon hy sy slaaf, wie se naam die Bybel nêrens eers noem nie, vertrou met so ‘n verantwoordelikheid? Hy het basies sy enigste seun se hele lewensgeluk op die spel geplaas!

Maar wag net ‘n bietjie. Jy moet onthou dis Abraham dié. Dieselfde Abraham wat die dag net “Ja!” gesê het vir die Here en alles net so gelos het en God gevolg het. Dieselfde Abraham wat kans gesien het om sy enigste seun te offer, want sê die Hebreërskrywer, hy was seker God sou hom weer lewend maak. Abraham het God op sy woord gevat. En in die jare daarna het Abraham ‘n lang pad saam met die Here gestap, en elke tree van daardie pad geleer dat jy die Here kan vertrou.

Dis die sleutel van hierdie vreemde verhaal. Jy hoor dit soos ‘n refrein in Hebreërs 11. Elke keer as Abraham ter sprake kom word oor en oor vir ons gesê: “Omdat Abraham geglo het...” Hy kon nie glashelder sy eindbestemming sien nie, maar hy het geweet hy kan God op sy woord neem. Dit het oor sy hele lewe geskrywe gestaan. Abraham het geglo. En so het hy die vader van al die gelowiges geword...

En dan begin daar ‘n lig vir jou opgaan oor hierdie verhaal. Begin jy verstaan dat hierdie hele verhaal net een onderdeeltjie is van Abraham se lewensstorie, en dit staan in presies dieselfde teken as Abraham se hele lewe. Abraham het geglo. In eenvoudige Afrikaans: Abraham het God vertrou. Onwrikbaar en onvoorwaardelik.

En dan begin jy verstaan. Begin jy te verstaan hoekom Isak rustig by die huis kon bly tewyl sy pa se hoofslaaf vir hom in ‘n verre land ‘n vrou gaan haal. Hy het die hele tyd gewéét: God weet presies wie Hy vir hom wil gee. En Hy sal nie vir hom die verkeerde een stuur nie. En om hierdie selfde rede kon hierdie naamlose slaaf die vreemde invaar met hierdie haas onmoontlike opdrag. Ook hy was gelowig, en ook hy het geweet dat God nie vir hom of sy eienaar in die steek sou laat nie.

2. Die voortgang van die verbond.

En dan besef jy skielik dat hierdie verhaal eintlik baie hoofstukke vantevore al begin het. Dit het al begin daardie nag toe God Abram se naam verander het. En toe vir Abraham gesê het: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as ’n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.” Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte.”

Dit het begin by die kontrak wat God met Abraham gesluit het, dat Hy altyd sy God sal wees en dat Abraham net hoef te glo. En omdat God nie met ons een-een werk nie, het Hy van dag een af Abraham se mense daarby ingesluit. Vir Sara, al het sy die eerste keer gedink dis skreeusnaaks dat sy ‘n babatjie kon kry op die ouderdom wanneer meeste mense net na ‘n kleinkind uitsien. En Isak, al het sy ma toe nog nie eens geglo dat sy hom ooit sou kon verwag nie.

En nou is dit 8 hoofstukke later, en sien ons in Genesis 25 die vrug van daardie kontrak. Want God vat ook nou verantwoordelikheid vir Abraham se seun.

3. Die wonder van Genesis 24

Maar weet jy, die groot wonder van Genesis 24 is nie eintlik dat Abraham genoeg vertrou het om sy slaaf te stuur om ‘n vrou vir Isak te gaan haal nie. Ook nie dat Isak rustig tuis kon wag, of dat Rebekka net geweet het dat sy dit maar kan waag om saam met die vreemdeling te gaan nie. Of selfs dat die slaaf so fyn ingestel kon wees op die stem van God nie.

Die eintlike wonder van Genesis 24 is dat dit vandag nog waar is. Want God het niks verander nie. Natuurlik het daar baie intussen gebeur. Onder andere die grootste gebeurtenis van die mens se geskiedenis: die Woord het vlees geword en tussen ons kom woon. Maar God het niks verander nie. Hy werk nog presies dieselfde met mense. En as ek vir Hom Ja gesê het, aanvaar Hy nie net vir my alleen verantwoordelikheid nie. Op ‘n manier wat ons verstand te bowe gaan, neem Hy ook verantwoordelikheid vir hulle wat vir ons die héél belangrikste is: ons mense. Ons kinders...

En dis presies waarvan julle vanoggend getuies is. Hier kon staan ‘n trotse pa en ma met die oulikste brose kleine mensie in die arms, verwonderd oor die goedheid van God en verwonderd dat sy liefde nie net groot genoeg is om hulle twee in te sluit nie, maar ook hulle hele gesin omarm. Natuurlik beteken dit nie dat almal wat hierdie teken ontvang het, sommer outomaties en vanselfsprekend hemel toe gaan nie. Jy moet self ook iewers langs die pad vir God “Ja!” sê. God se aanbod aanvaar en alles wat Jesus verdien het, jou eie maak. Maar die doop kom verseker jou dat dit alles reeds daar is. Dit wag nie tot jy groot genoeg is om self hier te kom staan nie. God het klaar alles gedoen.Vir klein Jamie-Lee ook. En vir jou...

Watter wonderlike wete, vir ons as ouers. Watter stuk gemoedsrus. Ek en jy is geen geloofshelde nie. Maar ons kan ook maar vir God vertrou. Want God aanvaar verantwoordelikheid ook vir jou kind...

DOOPFORMULIER

Liewe vriende

Daar is ‘n paar goed wat ons oor die doop moet weet en glo.

Waarom ons doop:

Om mee te begin, is die doop die teken van die ooreenkoms wat God met ons en ons kinders sluit. Net soos destyds met Abraham, toe die Here gesê het: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.” So kom sluit God ook met ons ‘n verbond. En soos enige verbond het dit twee kante. Aan die een kant belowe God om ons God te wees en ons te seën, en aan die ander vra Hy ons om Hom regtig die Here van ons lewe te maak. Om te wys hoe ernstig Hy daarmee is, het die Here vir sy volk die tekens van die besnydenis en die pasga gegee.

Toe kom Jesus, en deur sy kruisdood lui Hy ‘n nuwe verbond in. Met nuwe tekens: die doop en die nagmaal. Dit was dan ook omtrent Jesus se laaste opdrag op aarde aan sy dissipels: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Wat is die doop?

Ons bedien vandag nog net soos Hy ons beveel het, die doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en dis ‘n uiters heilige oomblik. Daarmee erken ons dat ons almal as sondaars gebore word, en op één manier in die koninkryk van God kan ingaan: as ons weer gebore word. In die doop kom sê die Here vir my, op my naam, dat die verlossing en seëninge in Jesus ook vir my bedoel is, dat ek deur Jesus sy kind kan word. Hy doen dit, omdat die kinders van verbondouers die Here baie spesiaal is.

Die doop is die simbool van ‘n nuwe lewe. Dit herinner ons daaraan dat ons ou lewe van sonde verby is; ons het in Jesus ‘n nuwe lewe ontvang. Ons is vir die sonde dood, en lewe vir God, soos Romeine 6:11 sê.

Met ons doop word ons ingelyf in die kerk van die Here Jesus. Daarom herinner dit ons wat getuies daarvan is elke keer weer aan ons eie verantwoordelikheid om voluit vir die Here te leef, Hom bo alles lief te hê, en ons plek in sy kerk vol te staan.

Verbondskinders moet gedoop word.

Maar waarom doop ons dan kindertjies wat nog niks verstaan daarvan nie?  Dis juis wat die kinderdoop so wonderlik maak. Die doop is nie iets wat ons van óns kant af doen nie, dis God wat die eerste tree gee om ons te red!

Hy wag nie vir ons nie - daarom sluit Hy al van Abraham se dae af kindertjies in in sy verbond. En daarom is hele gesinne dan ook in die Nuwe Testament gedoop wanneer die ouer(s) tot bekering gekom het.

Natuurlik plaas dit ‘n groot verantwoordelikheid op ons as ouers. Ons moet met ons kinders praat oor die Here. Ons moet hulle sodra hulle kan begin verstaan, leer, en verder moet hulle in ons voorbeeld sien wat dit beteken om die Here te dien.