Efesiërs 4:30
Datum: 5 November 2017
Prediker: Hannes Burger
In een van sy boeke vertel die groot teoloog Karl Barth die verhaal van ene Herr Keuner. Hy loop een mooi dag na baie jare weer ‘n ou vriend raak, en raak aan die gesels. Tipies soos ons maak, klop die vriend vir Herr Keuner op die skouer en sê: “Haai weet jy, jy het sowaar na al die jare nog niks verander nie!” Dit laat Herr Keuner geskok verstar. Hy het doodsbleek geraak. Al wat hy kon uitkry was: “O...”
Want jy sien, dis die laaste ding wat enigiemand van ons as kinders van God moet kan sê – dat ons nog niks verander het vandat ons tot bekering gekom het nie – nie ons gedagtes nie, nie hoe ons dink of hoe ons praat met mense nie. Dat daar steeds weinig teken van die vrug van die Gees by ons is. In een woord: dat daar geen geestelike groei in ons lewe was nie. Dat ons nog presies lyk en klink, presies dink oor goed en reageer op goed, soos nog maar altyd...
Herr Keuner het verbleek. Want hy het geweet dis die heel ergste ding wat jy van ‘n gelowige kan sê. En as die Gees vanoggend die verhaal soos ‘n spieël vir jou ophou, om jouself daarin te sien, wees dan eerlik: In watter opsig lyk jy anders as tien jaar gelede? Hoeveel het jy geestelik gegroei? Of lyk jy nog net soos altyd? Want dan behoort jy ook vanoggend soos Herr Keuner daar in die bank te verbleek...
Woensdagaand wat kom, gaan ‘n baie spesiale aand in De Eke wees. Hulle noem dit ‘n dag van verootmoediging en voorbidding. Ek noem dit ‘n dag van nuwe begin, ‘n terugkeer vir die verlore seun na sy pa se huis toe. Dit kan ‘n baie spesiale dag in jou lewe wees. En as die Here wil, gaan dit ‘n nuwe begin in hierdie land wees. En weet jy, ek glo ook dan sal dit weer begin reën...
Dink jy dis moontlik? Dis mos wat ‘n joernalis eendag vir Dorothy Sölle gevra het. Sy was waarskynlik die grootste vroulike teoloog ooit. Op ‘n nuuskonferensie het sy die verslaggewers entoesiasties vertel wat die Here alles in mense se lewens doen, en dat die evangelie mense nuut maak, en hulle lewens verander. Maar dis toe wat een van die persmanne haar sommer so half uit die dwarste in die rede val. En reguit vir Dorothy Sölle vra: "Maar kán mense verander?"
Daar was ‘n geskokte stilte. Want dis nie eintlik die soort vraag wat jy vir ‘n beroemde teoloog vra nie. Maar weet jy, dis ‘n baie goeie vraag. Glo jy regtig dat God lewens kan verander? Glo ons regtig dat God ons regtig nuut maak, soos ons in die kerk glo en bely? Is óns regtig nuwe skepsels, soos ons sê en bely?
As die antwoord “Nee” is, moet ons sommer nou al Woensdagaand se byeenkoms afstel. Want Woensdagaand gaan nie oor God wat moet verander nie. Die fout lê nie by Hom nie. Hy is die Getroue wat sy beloftes nooit vergeet nie. En ons? As jy wonder, moet jy dalk enige ongelowige vra of hy dink dat God mense nuut maak. Hy sal vir jou sê: Nee wat, ek dink nie so nie. Want ek sien niks daarvan nie. Ek sien net verdeeltheid. Julle Christene sê julle is nuut, maar eintlik is julle presies net soos ons. Nog net so ingestel op julleself en nog net so selfgerig. Julle is nie regtig nuut nie. Julle is eintlik nog presies dieselfde....
- Die Indikatief lê ten grondslag.
Wat nou? Wat gaan ons maak? Lê die oplossing daarin om vanoggend te besluit dat ons almal harder moet gaan probeer om beter te vaar? Sal dit ons lewens nuut maak? Ek vrees nie. Dit sal niks help en sê vir jou vanoggend: Gaan verander jouself nie – want jy kan nie. Net God kan dit doen.
Daarom begin ons teksgedeelte: “Die Gees van God het jou beseël met die oog op die verlossingsdag...” Die Gees het jou beseël... Dis darem ‘n vreemde uitdrukking. Dis geen wonder Petrus kla self dat Paulus darem moeilike goed skrywe nie. Waarvan praat Paulus?
In ‘n neutedop: Paulus praat hier heel waarskynlik van die doop. Van vroeg af in die kerk, was die doop bekend as “die seël van die Heilige Gees”. So, as Paulus sê: Die Heilige Gees het ons beseël, bedoel hy eintlik: Julle is mos gedoopte mense... God het sy seël, sy onuitwisbare eiendomsmerk, op jou voorkop geplaas. En dáár het alles begin. Jy is gedoop. Een dag lank terug, het die Here hier voor die kansel sy hand na jóú toe uitgesteek en jou aangeraak. Hy het op jou naam vir jou kom sê: “Jesus se bloed is ook vir jóú gestort. Die verlossing is vir jóú ook bedoel. Jy KAN nuut word, want Ek het alles gedoen om dit moontlik te maak...”
As dit nie dáárvoor was nie, was ons verlore. Maar nou is die doop jou waarborg dat jy deel is van God se plan. Die deur na die nuwe lewe toe, staan vir jóú ook oop. Want jy is mos gedoop.
Maar ongelukkig kan jy wel ook jou doop deur jou lewe loën. Al hét Jesus alles vir jou gedoen, en vir al jou sonde betaal, kan jy deur jou lewe die Heilige Gees bedroef, sê vers 30. Jy kan Hom seermaak, as jy lewe asof God se genade-aanbod niks werd is nie. Al ís jy ‘n kerkmens, kan jy nog altyd ver van God af wees. Dalk besef jy dit nie eens nie. Want eintlik maak dit mos niks sin nie. Na só ‘n geweldige genade-aanbod behoort ek en jy mos vol-uit net vir die Here te lewe. As gedoopte mens behoort jy anders te praat, anders op te tree, selfs anders te dink, as die ongelowiges.
- Die Imperatief wat daarop rus.
Maar doen jy dit? Kom toets jouself, nooi Paulus jou. Kom beantwoord hierdie toetsie van 5 punte. Kom meet jouself daaraan vanoggend.
Punt Een, sê hy: 'n gedoopte vertel nie leuens nie. Hier staan dit in vers 25. Maar dit oor meer as om net te jok. Dit beteken: 'n gedoopte mens lewe die waarheid. Ons speel nie meer 'n rol nie. Sy lewe is die ware Jakob. ‘n Gedoopte lewe elke dag in die teenwoordigheid van God. Hy probeer nie net lyk of hy die Here ken en dien nie. Hy lyk ook nie anders by die huis as in die kerk nie. Hy lewe oral net vir God. Kan jy dit sê? Is jy die ware artikel? Of hou jy jou maar so vroom as moontlik?
Ten tweede gee 'n gedoopte nie toe aan woede nie. Hoor jy dit? 'n Kind van die Here gee nie meer vrye teuels aan sy humeur nie. Hy raas en skel nie, want die Gees beheer sy lewe. Hy wys die selfbeheersing wat die Gees as deel van sy vrug in ons dra. Buitendien is dienaars mos nie liggeraak en gee toe aan woede nie!
Daarby steel 'n gedoopte nie. Hy werk soos een wie se lewe aan die Here behoort. Hy is eerlik, betroubaar en toegewyd. Hy werk hard, nie om gou baie ryk te word nie, maar sodat hy sal hê om te gee aan ander wat dit nodig het. ‘n Nuwe mens is nie ‘n slaaf van aardse goed nie.
Die vierde toets lui só: Vuil taal kom nie uit ‘n gedoopte se mond nie, maar hy praat wat opbouend is. Is dit van jou waar? Hoe klink jy? Bou dit wat jy sê, mense op? Is jou praatjies tot eer van God? Onthou, alles wat nie tot God se eer is nie, is sonde. Vuil taal pas nie by jou nie.
Volgens toets 5 mag daar in ‘n gedoopte se lewe geen plek wees vir bitterheid of opvlieëndheid nie. Dis wel tipies van ons tyd. Maar jy moenie een van die verbitterdes wees nie. Jy is dan gedoop! Wees dan soos Jesus. Om "moeilik" en "dwars" te wees is sonde. Nee. "Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het."
Hoe lyk dit? Is jy anders? Lewe jy soos ‘n gedoopte mens? Of maak jy ook die Gees van God so dikwels seer...?
"Kan mense verander?" het die verslaggewer vir Dorothy Sölle gevra. Sy het nie twee keer gedink nie. Dis die mees ateïstiese vraag wat ‘n mens kan vra, het sy gesê. Want as jy glo, moet jy glo dat dat niks vir God onmoontlik is nie, en dat Hy in sy Seun alles nuut kom maak het. En dan, het sy geantwoord, móét jy sê JA! Goddank! Mense kán verander. EK kan verander. Nie myself nie ? maar God kan my verander...
Ek weet jy het net soos ek, die toets gedop vanoggend. Maar hier maak dit nie regtig saak nie. Want sien, die Here is bereid om jou druipsyfer te vergeet. Jou weer van vooraf te laat begin. Goddank, Hy kan mense verander. Vra Hom net. Láát jou tog net deur Hom verander...