1 Petr.1:3 - 9

Datum: 19 April 2020

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Ons leef nou al ongeveer drie weke in onseker tye, in omstandighede wat vir ons vreemd is.  Ons weet nie wat die dag van more en oormore vir ons inhou nie. Praat jy met mense, kom jy agter mense is bang, negatief, swaarmoedig oor die toekoms. Mense vra, waarheen gaan die corona virus ons nog neem?

 

Petrus skryf die brief aan gelowiges in Klein-Asië, die huidige Turkye.  Hierdie gelowiges was ook onseker en bang oor wat die toekoms vir hulle inhou.  Hulle het verspreid, vêr van mekaar in verskillende provinsies gewoon.  Hulle word as “vreemdelinge” in vers 2 aangespreek, wat vir ons iets sê omtrent hul situasie in Klein Asië. Hierdie gelowiges is vervolg en het teenstand gekry omdat hulle Christene was, hulle het nie geweet hoe om hul situasie te hanteer nie.  Petrus skryf die brief vir hierdie gelowiges om hulle te troos, om hulle moed in te praat. Wat sê Petrus vir hulle? Vers 3: God het in sy groot ontferming vir ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Petrus kies om hierdie gelowiges te bemoedig deur hul fokus weg te lei van hul huidige situasie en hulle te herinner aan wie hulle in werklikheid voor God is: Julle is mense aan wie God ‘n geskenk gegee het, die nuwe lewe!

 

Kom ons dink vir ‘n oomblik hieroor na.  Ons kan soos hierdie gelowiges, vaskyk teen ons huidige situasie, ons kan moedeloos word, in sak en as gaan sit.  Of ons kan hoor waaraan Petrus ons hier herinner: Julle(gelowiges) is bevoorregte mense, begenadigde mense!  God het aan julle ‘n geskenk gegee deur die opstanding van Jesus wat julle verlede Sondag gevier het!  God het aan julle die nuwe lewe deur Christus gegee!  As mens ‘n geskenk ontvang, stel jy tog ondersoek in omtrent wat hierdie geskenk alles behels, jy maak dit oop, jy lees die biljet wat daarmee saamkom.  Wat behels hierdie nuwe lewe wat God ons gegee het?  Dink bietjie saam met my wat hierdie geskenk van God alles behels.  Om verlos te wees van sonde, om kind van God te wees, om in watter omstandigheid ookal, God as jou Vader te hê, om al sy beloftes tot jou beskikking te hê, om of ek ‘n gelowige destyds in Klein Asië of ‘n gelowige vandag in 2020 is, te alle tye verseker te wees van God se sorg, God se beskerming, God se troos, sy nabyheid.  Dit beteken ook om mekaar te hê, om mede-gelowiges te hê.  Al kan ons nie tans by mekaar uitkom nie, kan ons vir mekaar bid, vir mekaar bel, mekaar watsap, sms.

 

Voor ek afstap van hierdie punt, sou ek tog wil hê ons moet ook hierdie vraag vir mekaar

vra: Leef ek die nuwe lewe wat God vir my deur die opstanding van Jesus gegee het?  Of gebeur met ons wat dikwels met kinders gebeur wat ‘n geskenk met hul verjaarsdag of Kersfees ontvang het?  Aan die begin is die kind baie opgewonde en entoesiasties oor die geskenk – maar na ‘n paar dae lê die geskenk verwaarloos buite op die grasperk in wind en weer.  Lê die nuwe lewe wat God vir ons gegee het nie dikwels ook êrens in ons lewe in onbruik nie?

 

Ons het as kinders met vakansies by die see “lucky packets” as kersgeskenke gekry.  In so ‘n “lucky packet” was daar meer as een speelding. As jy die eerste een uitgehaal het, kon jy weer jou hand in die “lucky packet” steek en ‘n volgende geskenk uithaal!  Die geskenk wat God deur Christus se opstanding vir ons gee, is meer as die nuwe lewe. Hier staan verder: Ons het 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwerklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word(vers4).  Die geskenk sluit ook die ewige lewe in.  As Petrus “die ewige lewe” beskryf, is dit asof hy dit nie onder woorde kan bring nie, asof menslike taal nie reg kan laat geskied aan die hemelse heerlikheid nie, asof hy dit alleen maar in negatiewe beskryf - wat dit nie is nie, dit is onverganklik,

onbesmetlik en onverwelklik!  En dan voeg Petrus nog verder by, “dit word in die hemel vir ons bewaar”.

 

Die ewige lewe, ons erfenis, is deel van God se geskenk aan ons!  En, sê Petrus, hierdie geskenk,   kan niks oorkom nie, hierdie geskenk word vir ons in die hemel in bewaring gehou.  Watter bemoediging moes hierdie versekering, hierdie vooruitsig, nie vir Petrus se lesers wees nie!  Ook vir my en jou: niks kan ons die ewige lewe ontneem nie.  Al gebeur wat ookal met ons op aarde, ons hemelse erfenis is verseker!

 

Calvyn het gevra: Is dit vir ons tot enige nut dat ons heil vir ons in die hemel bewaar word terwyl ons op die stormagtige see van die lewe rondgeslinger word?  Het dit vir ons enige waarde om te hoor dat ons heil vir ons in die veilige hawe van die hemel bewaar word, terwyl ons telkens op aarde skipbreuk ly?  Wie sê ons gaan volhard, wie sê ons gaan die geloof behou tot eendag?  Miskien voel jy om dieselfde vraag as Calvyn te vra. Dit is goed en wel dat my erfenis vir my in veilige bewaring gehou word, maar wat van intussen?  Wat van as ek dit nie maak tot daar nie?  Wat van al die lewensgevare oppad - siekte, die covid-19 virus, die bose, die sonde? Vers 5 gee vir ons die antwoord, vertel vir ons wat verder in hierdie geskenk van God opgesluit is: En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is.

 

God hou nie alleen die ewige lewe vir ons gelowiges in bewaring nie, God beloof ook vir die

gelowige sy/haar veilige bewaring.  Een Skrifverklaarder wys daarop dat 'n militêre term hier gebruik word, mens sou kon sê: die krag van God, God self is ons Lyfwag deur ons lewens. Hoor dan as kind van God saam met die gelowiges destyds in Klein Asië, wat jou omstandighede ookal mag wees, God self bewaar ons, hou ons vas, is ons Lyfwag!  Geen dood of lewe of engele of of magte of of teenswoor-dige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Rom.8:39)

 

Wat maak dit aan mens as jy ‘n geskenk ontvang?  Dit maak jou bly, dit maak jou dankbaar, dit doen jou goed!  So ook hierdie geskenk van God aan ons.  Eintlik het Petrus nie nodig gehad om vir ons te sê om bly te wees, om dankbaar te wees oor die geskenk wat God vir ons gegee het deur die opstanding van Jesus nie.  Tog doen Petrus dit.  Miskien juis omdat hy die menslike hart ken en weet hoe ondankbaar ons van nature is!  Hy doen dit driemaal: Aan God kom al die eer toe(vers3), Verheug julle hieroor(vers 6) en vers 9: En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.  Mag dit dan elkeen van ons se reaksie op die groot geskenk van God wees!  Dat ons lewe elke dag sal getuig van dankbaarheid, dat ons bly mense sal wees en dat ons onuitspreeklike vreugde sal uitstraal!

Amen