Psalm 19:1-14

Datum: 8 Maart 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

Die branders breek oor ons. Een na die ander. Politieke Rampokkers onder die vaandel van sogenaamde demokrasie, ontstel en ontwrig baie mense. Sommige van ons land se mense dink dat as politiek so kan uitspeel in die parlement, dit aan hulle ’n vrypas gee om te maak en te breek in ons land se dorpe en stede. Om die kragstasies aan die gang te hou wil daar daar van ons pensioene gebruik gemaak word. Ons moet nou twee keer betaal vir die ander se foute. Staatskaping kan nie met pensioenkaping reggestel word nie.

Die SAL staan met een voet in die graf maar die staat hou eenvoudig aan om geld in die donker gat af te gooi. Die enigste pot geld wat oor is in die land blyk pensioene te wees en ’n sekere party wil met alle mag beheer daaroor verkry.

En dan is ons land se eerste pasiënt met die Coronavirus gediagnoseer. Wat wag vir ons? Dinge wil maar net nie glad en reg verloop nie.

Ek vermoed dat ons mekaar kan besig hou met vele ander tsunamis wat ook oor ons breek. Tsunami’s in ons persoonlike lewens. Hoe bly ons staande?

Ek wil die aanname maak dat: Die manier waarop ons vir God sien, bepaal hoe ons na hierdie uitdagings in die lewe kyk.

Beskou jy vir God as daardie afwesige Pa? God is nêrens teenwoordig nie. Kyk rondom ons. Waar is God?

Sien jy dalk vir God as Kersvader? Hy deel presentjies uit.

Sien ons dalk vir God as die krygsman wat ons in moeilike tye sal kom red? Hierdie politieke wip-wa-rit gaan een van die dae tot ’n einde kom.

Dalk is God die Noodwiel, net wanneer ons Hom nodig kry. Here ons is nou in die moeilikheid. Here, ek het u afgeskeep. Maar asb., help met hierdie Corona Virus.

Kom ons kies vanoggend op ’n ander manier. Die Bybelse manier.

Kom ons sien vir God as IMMANUEL. God By ons. In alle tye, goed of sleg, is Hy teenwoordig. Want in my eie lewe het ek geleer dat God se teenwoordigheid my rustig maak. Dat ek met Immanuel aan my sy, geleenthede raaksien om uit die verknorsing te kom. Dat God se teenwoordigheid in my alleentye my trane afdroog. Dat God se teenwoordigheid salf is vir my wonde. Dat God se teenwoordigheid my met ’n ander bril na die lewe laat kyk.

Dat Immanuel my vrede gee wanneer my hart bokspring en bollemakiesie maak van spanning en my liggaam nie verder wil saamwerk nie. Dat Immanuel, God met ons, my uitkyk op die lewe verander en dat ek die mooi raaksien van Sy skepping wanneer die bose met alle mag en krag dit van my wil steel en my lewe wil laat lyk soos die droogste van droogste dele in ons land.

Immanuel, God met ons, help my om die Lig te sien, selfs in die donkerste tye waarin ek myself baie begeef.

Dit laat my dink aan ’n skildery waarna ek onlangs op die internet gekyk het.

In 1889, staan daar ’n man en staar deur die tralievenster van die inrigting waarin hy opgeneem is. Hy beleef een van sy hartseerste en eensaamste episodes van sy lewe. Hy kyk die donker nag in, en verwonder homself aan die sterre en die maan. Skielik begin ’n prentjie vorm aanneem in sy kop en Vincent Van Gogh skilder sy meesterwerk wat vandag bekend staan as Starry Night.

As ek reg onthou is daar ook ’n lied met naam Vincent, wat deur Don McLean geskryf is wat ook aan Van Gogh opgedra is en wat baie plate rekords oortref het.

Maar terug by van Gogh en Starry Starry Night. Vandag word hierdie skildery as van Gogh se grootste, sy “magnum opus” beskou.

Van Gogh het in die jaar voordat hy die eerste kwas streep van Starry Starry Night getrek het die volgende geskryf: “Die hemelse sterrelig behoort aan God.” Ek glo dat die sterrelig van daardie donker nag vir die sukkelende kunstenaar ’n teken van hoop en prag was in die donker landskap van sy pyn gevulde siel.

As ’n skildery die paradoks van donkerte en hoop kan uitstraal, dan sê Starry Starry Night alles. Kyk vir ’n oomblik daarna:

Kan jy die donkerte aanvoel van die heuwels,

ervaar jy die stilte,

die donker landskap,

die donker sipres aan die linkerkant,

die geritsel van die wind?

En tog, in die middelpunt sien ons die kerk, die sentrum van die gemeenskap van gelowiges en die sentrum van die kunstenaar se siel.

Die kerkie se lang dun toring wat uitsyg in die hemel in lyk soos ’n spuitnaald wat helder lig trek vanaf die hemelse bron en dan hierdie lig inspuit sodat die vensters verlig word.

Sodat dit kan dien as ’n baken van hoop aan die omliggende gemeenskap.

Lyk dit nie ook so vir julle nie? Die lig word getrek vanuit die kosmiese kolkende uitspansel. Die son, maan en 11 sterre vul die res van die skildery. Dit is ’n kragtige weergawe van die skeppingsverhaal. Mens kan amper die asem van God sien en voel wat oor die stil landskap blaas. Die lug verskaf ’n kragtige teenwoordigheid en energie aan die skildery. Die skildery praat met ons. Dit sê dat die Gees van God aan die werk is in die wêreld. Die Gees skep en hernu hoop en lig.

Hierdie is ’n skildery van verlange. Waar en wanneer ons staar na die uitspansel van God verlang ons, verlang ons na betekenis, vrede en verlossing.

En tog is hierdie skildery ’n skildery vol beloftes. Dat selfs daar in die donker dieptes, is God se Gees teenwoordig. God se Gees beweeg en skep betekenis in die wêreld. Hoop word vanuit die hemel in die lewens van mense ingeblaas. God skep ’n alternatiewe wêreld vir ons.

Met die liefdevolle hand van die hemelse kunstenaar skep God hierdie wonderlike dinge om ons wisselvallige harte tot rus te bring. Elke pragtige kleur, elke kwasstreep, is ’n belofte. God se hoop is onuitblusbaar en skyn selfs tot in die donkerste plek van ons menswees. Dit skyn tot binne-in my wat soms dink dat dinge hooploos lyk in ons land.

Ons kan net so wel vanoggend ’n Van Gogh wees. Sy storie, ons storie. As ons dalk net voel asof dit donker in ons lewens word , hoef ons net na die sterre te kyk, terwyl die lig, God se lig, in ons hartkamers inskyn.

In vanoggend se Skrifgedeelte sien ons God se meesterstuk, God se “magnum opus”. God se skepping  en God se teenwoordigheid in die skepping waaraan ek en jy verbind is. Want so lief het God die wêreld gehad, word in die Bybel aan ons bevestig. Die Skepper, die kunstenaar van die lewe, het die wêreld so lief gehad, SY skepping en alles daarin, Sy meesterstuk, Sy kunswerk, deurdat Hy Sy kosbare Seun Jesus na die wêreld gestuur het en na Hom, vanuit die hemel gewys en gesê het: Dit is my geliefde Seun.

Die prag van die uitspansel skyn op Jesus se gesig wat vreugde en hoop oor die hele wêreld uitstraal. Dit is wat God aan ons openbaar. Die liefde van die Skepper. Ons Skepper wat so verweef is met liefde vir Sy Skepping, en as ’n baken van hoop op die mensdom skyn.

Vandag het die kerk hoop nodig. Ons moet in staat wees om te glo, om te vertrou dat God aan die werk is en in die wêreld beweeg en teenwoordig is. Ons moet glo in die wonderwerk van die baba Jess, in die lewe en dood en opstanding van Jesus, en in die hoop dat Jesus terugkom ons ons te kom haal. Soos van Gogh se skildery, ontvang die kerk steeds sy Lig en Sy Hoop van die Gees van Christus. Hierdie Gees is teenwoordig  en openbaar Homself tussen ons.  Dit fluister vir ons dat selfs in die donkerste tye in ons lewens skyn God se Lig steeds. En die donkerte kan dit nie uitdoof nie.

AMEN