Johannes 21 : 1 - 19
Datum: 25 April 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Weet nie van jou nie, maar self is ek maar half bly ek was nie daardie oggend op die strand nie. Daardie ontbyt waarvan Johannes 21 vertel, moes maar ‘n bra ongemaklike affêre gewees het. Ek is seker niemand het regtig geweet hoe hy moet lyk, of wat hy moet sê nie. Vandag sou ons dit ‘n olifant in die kamer noem. ‘n Voor-die hand-liggende vraag wat niemand waag om te vra nie: Here, is dit regtig U? Want aan die een kant het hulle gewéét dit ís Jesus, wat opgestaan het en lewe. Maar tog ook nie. Onthou nie eens Maria Magdalena wat vir Jesus só goed geken het, kon Hom herken die oggend in die tuin nie. En net so was die dissipels ook nie seker nie. Iets aan Jesus was anders, was vreemd.
Ten minste het Johannes geweet dis Hy, toe hy daardie óórvol nette sien. En Petrus, toe hy sy oorkleed oorgegooi het en in die water geduik het. Aan die een kant omdat hy nou maar een maal die impulsiewe Petrus was, maar aan die ander kant het iets hom gejáág. Daardie kyk van Jesus, daardie aand by die vuur toe die haan kraai, het by Petrus gespook... Hy het snags rondgerol en gewonder: Hoe nou? Hoe voel Jesus oor een wat Hom verloën voor ‘n diensmeisietjie? En die ergste is, ek sal nooit weet nie. Want Hy is dood...
En nou staan Jesus daar voor hom op die strand. En toe is daar nie ‘n manier waarop hy net op die boot kon sit en wonder nie. Maar selfs toe hy al op die strand was, het hy nie geweet hoe om die saak aan te roer nie. Later was almal al op die strand en steeds het die saak in die lug gehang...
Ek moet sê, ek ís jammer vir die dissipels. Want dit was net so ‘n bisarre situasie. Dat hulle Here terug is, is net te goed om waar te wees. Maar hoe hanteer jy dit? Hoe praat jy met iemand, wat nog die merke aan sy hande dra van hoe Hy deur sy vyande vermoor is? Wat jy self help begrawe het? En nou sit en eet julle ewe saam op die strand asof daar niks gebeur het nie...
En Jesus eet lekker saam aan die vars vis. Natuurlik nie sonder rede nie. Want die feit dat Hy hier voor hulle oë vis braai en eet, maak dat hulle nie meer kan wonder nie. Want spoke braai nie vis op die kole en eet dit dan saam met brood met ander mense nie. Dis toe dat dit tot die dissipels regtig begin deurdring: dis sowaar regtig Hy, en Hy lewe!
En Petrus? Ek dink daardie ontbyt was vir hom selfs nog meer ongemaklik as vir die res. Aan die een kant kon hy seker nie sy oë van Jesus afhou, wat na alles nou léwe nie; maar aan die ander kant kon hy sekerlik nie vir Jesus in die oë kyk nie. Hy kon nie eens raai hoe Jesus oor hom voel nie. Sal dinge ooit weer normaal kon wees na daardie verskriklike nag toe hy Jesus verloën het? Sou die Here hom kon vergewe – selfs al sou hy natuurlik nooit weer die leier van die groep kon wees nie - hy was ‘n verraaier...
- Jesus stel aan Petrus ‘n sleutelvraag
Maar uiteindelik was die ongemaklike ontbyt verby, en kon hulle bietjie begin ontspan. En toe kyk Jesus Petrus vierkantig in die oë. Hy weet goed Petrus het geen idee hoe om terug te kom na die Here toe nie, en daarom help Jesus hom uit, en vra hom: “Petrus, het jy my baie lief, meer as hulle hier?”
Petrus, jy het net ‘n paar dae gelede nog vol bravade gesê jy is liewer vir My as enigeen van hierdie ouens. Jy sal by My staan, en selfs vir My sterwe, al vlug hulle ook almal weg. Petrus, dit was toe, en intussen het baie gebeur.
Intussen het jy jouself wérklik leer ken, daardie nag by die vuur toe jy teruggedeins het vir ‘n diensmeisietjie. En so, Petrus, het jou bravade, jou grootdoenerigheid, platgeval. En nou, Petrus? Nou moet jy kies. Kyk rondom jou. Jou vriende. Die see waarvoor jy as visser so hartstogtelik lief is. Die visserskuite, die enigste lewensonderhoud wat jy ken. Sien jy regtig kans om dit alles prys te gee? Is jy seker jy sien regtig kans om My te volg?
Want natuurlik het jy nie die afgelope paar dae net jouself leer ken nie. Jy het My nou ook eers regtig leer ken. Jy het gesien hoe lyk my koninkryk. Jy het gesien hoe Ek my oorwinning aan die kruis behaal, ter wille van my mense. Jy het gesien dat Ek ‘n dienskneg is. Hoe Ek ly. En nou is die vraag: is jy regtig nog lus om My te volg, Petrus? Sien jy regtig kans daarvoor...?
Dis die vraag van Johannes 21, vanoggend vir jou ook. Want sien, hierdie afgelope Paasnaweek het jou ook opnuut weer herinner wie ons Koning Jesus is. Hy is die Gekruisigde. Verstaan jy regtig wat dit alles beteken? En watter verreikende implikasies dit vir jou het? Jy kan nie vir Jesus aan die kruis sien, en maar net aangaan soos eers nie. Jy kan nie hierdie andersoortige Koning, hierdie nederige Dienskneg sien en steeds aangaan asof jy steeds die belangrike een is, na wie almal moet opsien nie. Die vraag vir jou ook, is: Sien jy regtig kans om hierdie Jesus te volg, soos Hy gevolg wil word?
- Petrus se antwoord bring hom ‘n opdrag
Ons weet almal wat was Petrus se antwoord toe. Drie maal sê hy vir Jesus: “Ja, Here. U weet dat ek U liefhet.” En elke keer sê Jesus dan: Ek het werk vir jou. Gaan sorg vir my gemeente. As jy My regtig liefhet, soos jy sê, sal jy my kudde versorg.
Dís soos dit werk. Ware liefde vir die Here bring vir jou ‘n opdrag. Dit help niks jy is vrééslik lief vir Jesus, maar jy is by niemand betrokke, en jy lewe eintlik maar net vir jouself nie. Ons liefde vir Jesus bind ons onlosmaaklik aan ander mense. As jy My liefhet, sê Hy, sal jy help toesien dat my kudde versorg is, dat my lammertjies wei, en sal jy my skape help oppas. My liefde sal jou leer wegkyk van jouself, en jy sal ander begin raaksien. Mense wat jou nodig het. Eensames, wat swaar kry en ‘n skouer nodig het om op te huil, of ‘n arm om op te leun. As jy My liefhet, sal jy nie meer vir jouself leef nie. Jy sal leer om dáár te wees vir ander.
Dis ongelukkig een van die slegste nadraaie van Covid in die kerk. Mense het geleer om op hulle eie kerk te wees, hulleself begin wysmaak jy het nie regtig ander nodig om die Here te dien nie – jy kan dit ewe goed in jou sitkamer voor die TV doen. Maar dis ongelukkig maar ‘n baie klein deeltjie van kerk-wees wat jy só beleef. Jesus het ons geleer dat kerk véél meer as dit is. So kom ons vergeet maar die baie gemaklike post-Covid sitkamer-manier van kerk-wees. As jy regtig die Here liefhet, regtig vir Jesus kies, gaan Hy jou hele lewe omkeer. Liefde vir God is nie abstrak nie - dis prakties! Jy is vir God lief, as jy vir mense begin omgee.
As jy regtig vir Jesus liefhet, stuur God jou na sy kudde toe. Om sommer daar by jou eie adres te begin, by jou maat, die man of vrou wat Hy vir jou gegee het. Lewe so dat hy of sy kan sien dat jy die groot Dienaar-koning dien. En begin dan ook verder kyk. Want as jy My regtig liefhet, sê Jesus, sal jy ander begin raaksien...
- Petrus se antwoord bring egter ook vir hom ‘n kruis
Maar daar is nog iets. Jesus waarsku vir Petrus dat hierdie pad nie net maanskyn en rose gaan wees nie. Voor Petrus dalk te vinnig kies, moet hy onthou, daar wag vir hom ‘n kruis. En dis waar vir elke volgeling van Jesus. Jy kan Hom net volg as jy jou kruis opneem. Dís dissipelskap. En as jy vir Jesus lief is, sal jy ook jou kruis moet opneem. Om Jesus te volg, bring opoffering en teenstand, dalk selfs vervolging. Jy sal jou eie gerief ‘n bietjie op die agtergrond moet skuif. Jy moet sterf aan jouself, sodat jy ook sal kan sê: Nou lewe ek nie meer nie, maar Jesus Christus lewe binne-in my!
Dán eers, volg jy regtig vir Jesus. Daarom kyk Jesus ook vandag vir jou vierkantig in die oë en vra: Sien jy dáárvoor kans? Het jy Jesus wáárlik lief, selfs meer as alles en almal hier rondom jou?
Dis ‘n besonder aangrypende verhaal wat die oggend daar op die strand afspeel. Jesus herstel ou Petrus teen alle verwagting in, weer in ere. En Petrus kan die vuur in die hoëpriester se binneplaas vir goed agterlaat. Nóú is hy reg vir die groot taak wat op hom wag.
En jy? God het vir jóú lewe ook ‘n plan. Dis hoekom Hy baie jare gelede al aan jou die teken van die doop gegee het. Die ewige lewe is vir jou ook bedoel. Maar eers moet jy ook kies. Sien jy regtig kans vir die volle implikasies daarvan? Sien jy regtig kans vir wat dit alles van jou gaan vra? Sien jy regtig kans om Jesus se dissipel te wees?
AMEN