Efesiërs 5: 6-21

Datum: 19 Maart 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Die beeld wat Paulus hier in Efesiërs 5 gebruik, is een waarvoor hy nogal baie lief is. Ons kry dit verskeie kere in sy briewe, en dan natuurlik selfs nog meer dikwels in Johannes se geskrifte. En al het daar soveel jare verloop sedert hy vir die Efesiërs geskrywe het, is dit ‘n beeld wat ook vir ons almal vandag nog baie bekend is. Om die waarheid te sê, dis dalk vir ons wat in 2023 lewe, eintlik regtig hopeloos óórbekend. Want net soos ek, word jy sekerlik ook nou snags wakker en wonder so half deur die slaap hoe dit darem nou so skielik só donker geword het. En daarna begin jy wonder wanneer ons beurt dan nou eers verby gaan wees.

 

Maar dit het darem een effek op my gehad, en dis dalk hier in die jongste tyd regtig ‘n nuwe waardering ontwikkel het vir lig; ek besef nou dis vir seker nie sommer net so vanselfsprekend as om ‘n skakelaar aan te sit nie. En natuurlik het ons almal geleer dat ons daarsonder maar erg sukkel in die donker... Dis dalk die heel ergste van beurtkrag: dit laat ons so magteloos voel. Jy sit ewe soet op ‘n Donderdagoggend agter jou rekenaar en werk en voel net dat jy nou regtig begin vorder met jou preek dan is jou skerm ewe skielik donker.  En jy weet nie eens lekker vir wie jy moet kwaad wees nie, want jy is net totaal afhanklik van mense en dinge buite-om jouself. Maar dalk moet ons ook nie vanoggend te veel oor beurtkrag praat nie – ek dink soos dit is, hoor jy al klaar  hopeloos te veel daarvan. So kom: ontspan nou maar en raak rustig, blykbaar sal die krag nie vanoggend afgaan nie, en kan ek regtig oor iets anders praat. Na alles het ek darem een ding al geleer, en dis dat ek en jy tog in elk geval op dees aarde niks aan die saak kan doen nie!

 

  1. Paulus praat egter anders oor lig.

So: los eers vir beurtkrag. Ek dink ons moet ons veel eerder bepaal by Efesiërs 5, en dit wat Paulus hier vir ons wil vertel. Paulus praat ook hier van lig, maar dan meer spesifiek oor lig en donker, en die totale kontras tussen die twee. Want lig en donker is twee totaal onversoenbare goed: dit staan per definisie reëlreg teenoor mekaar, en sluit mekaar totaal uit. Dis óf donker óf dis lig. Die twee kan nie naas mekaar bestaan nie.

 

Maar nou weet jy dit al. Dis vir seker nie vanoggend vir jou aardskuddende nuus nie.  Maar dis nie al wat Paulus hier sê nie. Luister net waarmee kom hy volgende vorendag. Persoonlik sou ek verwag dat hy sou sê: Die Here is ons lig, en ons moet in sy lig lewe. Maar dis glad nie wat hy sê nie. Paulus kom in hierdie gedeelte en laat ons regop sit as hy sê: Julle is lig...! Nie julle ken die lig, of julle lewe in die lig nie. Hier staan dit glashelder: Julle is lig.

 

 

Hy kon nie duideliker vir ons die dramatiese verskil kom teken het wat God in ons lewe gemaak het nie. Daardie dag toe die Here in jou lewe ingekom het en die Heilige Gees beheer daarvan oorgeneem het, het Hy alles kom omkeer. Alles in jou bestaan het verander. Soos lig en donkerte, staan die ou en nuwe lewe radikaal teenoor mekaar: niks is nou meer soos dit was nie.

 

Ek wonder party keer hoeveel ek self regtig daarvan verstaan. En jy het self ook al soveel keer by hierdie selfde Paulus gehoor dat ons in Christus nuwe skeppings van God is, dat die oue dood en verby is, en dat die lewe wat ons nou lewe, radikaal teenoor ons ou leefpatrone staan, inderdaad soos lig teenoor duisternis. En tog het Paulus se woorde in Efesiërs 5 my hierdie week letterlik regop laat sit. As Paulus nie hier sê dat ons soos lig is nie. Maar dat ons in ons wese lig is. Lig wat ‘n verskil maak, wat dinge anders maak, meer aangenaam maak. Dis jou identiteit. Dis wie jy nou is, in Christus. Nie ligter of beter as wat jy was nie. Nee, jy IS nou lig...

 

Daarmee skets hy ons nuwe lewe wat ons in Christus het. Maar omdat hy seker weet dis vir ons bietjie abstrak, begin hy sommer dadelik verduidelik. Hy vat drie ou Bybelse terme om daardie nuwe lewe te beskrywe. Dis vir ons almal baie bekend – drie terme wat dwarsdeur die Ou Testament weerklink. Ons lewe, skrywe hy, word gekenmerk met alles wat goed en reg en waar is. Dis drie goed wat in die Bybel verskriklik belangrik is – dink maar aan Miga 6. Paulus gebruik hierdie woorde nie soos sy Griekse lesers dit sou verstaan het nie, maar hy vat hierdie sleutelwoorde reguit uit die Ou Testament. Laat ek verduidelik:

 

In die Ou Testament beskrywe hierdie drie woorde die lewe van die gelowige. Dit spel uit hoe die lewe lyk van iemand met wie God ‘n verbond gesluit het, iemand wat naby aan die Here lewe en met oorgawe en gehoorsaamheid die Here se pad stap. Dis só iemand wie se totale lewe gekenmerk word deur alles wat goed en reg en waar is.

 

Verstaan jy watter totaal unieke mens dit jou maak? Iemand wat sal uitstaan in enige skare! Ek hoef nie vir jou te vertel watter uiters skaars artikels hierdie is in die lewe om ons nie. Waneer laas het jy iemand gesien wat eerste van alles homself afvra of iets goed is, voordat hy juis dit doen? Almal om ons is min gepla oor wat reg is – hulle vra veel eerder net watter voordeel hulle self uit enige situasie kan haal. En wat die waarheid betref, hoef ek nie vir jou te vertel dat waarheid ‘n totaal bedreigde spesie is nie.

 

Maar jy is anders. Jy is lig! Ek en jy lewe in ‘n verhouding met die Here, binne die verbond wat Hy met ons gesluit het, dat Hy ons God sal wees en dat ons sy volk sal wees. En daarom dra jou lewe dan ook die kenmerke dat jy ‘n verbond met God het, dat daar iets met jou gebeur het wat jou lewe op sy kop omgekeer het. Jy het die duisternis agtergelaat, met al sy bedrog en onreg en liefdeloosheid. Jy is ‘n nuwe skepping van God. Jy is lig...

 

 

Daarom tel daar nou in jou lewe net een allesoorheersende toets, en maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie, dís wat jy jouself afvra voordat jy enigiets doen: die vraag van vers 10: Is dit vir die Here aanneemlik? Want as dit is, gaan ek voluit daarvoor, en as dit nie is nie, as ek weet dis iets wat die Here nie goedkeur nie en wat nie tot sy eer is nie, wil ek niks daarmee te doen hê nie. Dan draai ek letterlik my rug daarop. Want dis wie ek is. Ek is nie meer die ene duisternis nie. Ek is lig!

 

  1. Dit plaas ons egter midde-in ‘n stryd.

Maar dit stop nie daar nie. Ek en jy is nie net geroep om ons te distansieer van die duisternis en die dade wat daarmee geassosieer word nie. Nee, jou roeping is om toe te tree tot die stryd teen die duisternis. Jy moet dit aktief beveg, sê vers 11. Oral waar jy gekonfronteer word deur die duisternis, moet jy aktief jou lig daarteen laat skyn, sodat die duisternis al meer kan wyk.

 

En voordat jy dalk sommer vooraf net besluit dat dit tog in elk geval futiel is om een ou liggie teen die oorweldigende duister van ons wêreld te laat stry, kom herinner Paulus jou daaraan dat jy nie deel van ‘n verloorspan is nie. Jy is deel van ‘n wenspan, wat ons Rolmodel volg wat reeds die duisternis verslaan het!

 

Jy is deel van ‘n stryd wat klaar gewen is! Daarom kan jy weet dat die donkerte om ons nie die laaste woord sal hê nie. En kan jy waag om saam met Jesus die duisternis aan te vat. Dalk gaan jy nou nie persoonlik vir Eskom regruk nie – al sou ek dit nogal waardeer as jy kan – maar as jy ‘n klein verskilletjie in een enkele mens se donkerte maak, het jy die donkerte bloedneus gegee. Begin sommer in jou eie huis. Moenie dat die donkerte julle daar oorweldig nie, maar laat jou lig helder skyn sodat jou lewensmaat en jou kinders en jou kleinkinders weet waar jy staan. Sodat almal kan sien dat jy lig is. En dis net die begin. Vat dit dan verder. Laat alles wat goed en reg en waar is, jou visie en jou missie wees, en vra jouself heeltyd af wat God wil hê en wat tot sy eer sal wees.

 

  1. Wees dan baie versigtig hoe julle lewe...

Ten slotte, stuur die Here jou vanoggend hier uit met die oproep van vers 15: wees dan baie versigtig hoe jy lewe. Dit máák saak. Een van die grootste foute wat Christene maak, is om oorgerus en blasé te raak, en ongeërg te begin lewe omdat hulle weet dat hulle verlossing seker is. Dis nie hoe ‘n mens ‘n stryd stry nie! God roep jou om dinamies en effektief lig te gaan wees, waar jy ook al beweeg, en watter uitdagings jy ook al moet trotseer. Gaan lewe die lewe van dankbaarheid onder leiding van die Gees en gaan dra die lig al verder.

 

Ek dink waarop dit op die ou end neerkom, is dat daar hoegenaamd geen plek is vir beurtkrag in ‘n gelowige se lewe nie. Jy IS lig...

AMEN