Jes. 60: 1 3, 17-22
Datum: 27 Desember 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
- Daar is donkerte oor die hele aarde
Het dit jou ook opgeval wat Jesaja hier sê oor die tyd waarin hy lewe? “Daar is donkerte oor die hele aarde” skrywe hy. Mense sien nie meer lig voor in die pad nie, alles lyk vir hulle net neerdrukkend en verstikkend donker. Nes jy dink dit sal nou begin beter gaan, begin alles maar net weer van voor af. Die moeilikheid en die bedreiging het net geen einde nie... En nou lees ek en jy hierdie woorde vandag lees, is dit amper moeilik om te glo dat hy die woorde nie in 2020 geskrywe het nie. Want Jesaja se opsomming oor die wêreld waarin hy lewe dis inderdaad ook die storie van ons wêreld, hier waar ons nou amper aan die einde van 2020 gekom het. Ek en jy kan ook vanoggend sê: Daar is donkerte oor die hele aarde.
Wie sou dit sien kom het? Wie sou kon dink dat daar ‘n nuwe, nog dodeliker weergawe van die Corona-virus voor die einde van 2020 sy opwagting sou maak, wat al klaar die syfers van vroeër vanjaar in die skaduwee stel. Ek moet erken, ek het self gedink ons sou teen Kersfees al amper vergeet het van Covid, as ‘n onaangename ervaring wat verby is, sodat ons ‘n heelike Kersfees saam kon vier, en vol entoesiame kon vooruit kyk na die nuwe jaar wat ons oor ‘n week ingaan. Maar helaas toe nie. Die liggies van Kersfees was dwarsoor die wêreld moedig probeer het om die donkerte te verdryf kon nie eintlik regtig daarin slaag nie. Ons moes maar net weer met ‘n baie seer hart ons eredienste afstel. Maar weer begin wegskruip vir die virus, samekomste van mense begin vermy. En steeds klim die getalle van infeksies, en styg die dodetal as gevolg van die virus. En hoe sinies jy ook al oor die hele Covid-storie dink, al die amesweringsteorië vervaag as jy met bedroefte families te doen kry wat die realititeit moet verwerk dat hulle geliefdes deel van die Covid-statistieke geraak het.
Niemand van ons het dit sien kom nie, maar hier gaan ons nou sowaar 2020 uit op presies dieselfde noot as wat ons ook dwarsdeur die jaar ervaar het. En steeds staan ons absoluut magteloops oor iets wat geheel en al buite ons beheer is...
- Vir jou het die lig gekom
En in hierdie donker atmosfeer het ek en jy in 2020 Kersfees gevier. En ja, dir was anders as ander Kersfese. Om mee te begin kon ons nie as gesinne en families die kerk volpak soos ons gewoond is, om die ou Kersgesange saam te sing nie. En dit was al klaar vir ons baie sleg. En al het ons hard probeer, was dit amper onmoontlik om dieselfde blydskap as ander jare te ervaar terwyl die wolk van Covid oor ons almal gehang het. Ons kon in elk geval ook nie lekker saamkuier soos ons wou nie, want baie families is opgebreek deur lede wat nog in kwarantyn was, of siek was. Dit was regtig nie die ideale Kersfees wat jy jou sou voorstel nie.
En tog was dit Kersfees. Selfs al kon ons nie hard in die kerk saam met die engele sing nie, het ons tog so onderlangs saamgeneurie oor die “Ere aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het”.
Maar vanoggend wil ek tog vra dat jy net weer ‘n oomblik saam met my sal terugdink oor die afgelope Kerstyd. En dan nie om te kla omdat dit so anders was as wat ons sou kies nie. Nee, ek wil jou iets anders vra om vandag oor na te dink. Sê my bietjie, wat beteken dit wat God hier deur Jesaja vir sy mense sê? Wat beteken dit dat die lig vir hulle gekom het? Wat is hierdie nuwe dag waarna Hy verwys, wat aangebreek het?
Eintlik gaan dit verder. En is die diepste vraag wat jy vanoggend moet antwoord, dít: Wat presies is dit, wat jy drie dae gelede gevier het? Wat het jy op die 25ste Desember gevier?
Want jy sien, wat Jesaja 60 bietjie problematies maak, is dat lig ‘n interessante ding is. Ons almal weet niks kan lewe sonder lig nie; lig is nie verniet die eerste ding wat God geskape het nie – dis absoluut wonderlik! Maar nou weet ek en jy ook hoe maklik dit is om hier in die vakansietyd jou kamer se blindings styf toe te maak, sodat die lig jou nie vroegoggend sal pla nie. Want dan kan jy lekker aanhou slaap. Sonder dat jy eers regtig agterkom dis dag buite. Die lig het gekom, maar dit het niks in jou lewe verader nie. Jy het dit doodeenvoudig nie in jou lewe lewe ingelaat nie. Jy het aangegaan of dit steeds nag is.
En dis preises wat mense doen met Kersfees se lig ook. Lees maar wat skrywe Johannes treffend oor Kerstyd in die eerste hoofstuk van sy Evangeliebeskrywing: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”
- Die uitnodiging
Dit ís moontlik om die lig van Kersfees ook uit te blok uit jou lewe, en net te konsentreer op die dinge van Kersfees wat vir jou pas: soos op die lekker familiebyeenkomste en die mooi geskenke en die swaar gelaaide kerstafel. Terwyl jy die blindings toetrek vir die res, vir die radikale nuwe lewe en die vrede wat die Christuskind gebring het. Want hieroor laat Johannes absoluut geen twyfel nie: dis net as jy die lig met ope arms verwelkom, sodat dit dwarsdeur jou hele lewe kan skyn en al die donkerte daar uitdryf, wat jy regtig deel kry aan die lig en dit regtig deur jou huis sprei totdat dit elke hoekie verlig. Dis wat Johannes bedoel as hy skrywe: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”
Om die regtig Kersfees in jou lewe te word, vra ‘n baie bewustelike daad. Die daad wat ons die sprong van die geloof noem, om te sê: Here, ek smag na hierdie lig. Ek wil graag hê my lewe, my verhoudinge, my vriendskappe, my werk, my alles moet lig word. Ek wil hê U moet oorneem en die duisternis daar verdryf. En as jy dink dis ‘n eenmalige ding, dis genoeg dat jy dit eenmaal bokjare gelede by ‘n CSV-kamp gedoen het, slaan jy die bal mis. Dis ‘n daaglikse daad van hernuwing, en daar is geen beter tyd as Kersfees om dit weer met die Here te herbevestig nie. Daar is geen beter tyd as nóú nie.
Wat vier ons met Kersfees? Ons vier die nuwe lewe wat Jesus vir ons moontlik kom maak het, ‘n lewe waarin God jou ewige lig is waarin God jou son en jou maan is wat nooit ondergaan nie, en wat geen Covid-storm ooit kan verduister nie. Ons vier met Kersfees ‘n radikaal nuwe lewe, waarin alles nuut geword het.
As dit nie is wat jy gevier het vier dae gelede nie, het jy nog nie Kersfees gevier nie. Dan is jy nog nie vanjaar klaar met Kersfees nie. Dan nooi ek jou vanoggend om Kersfees te herbesoek voordat hierdie donker jaar 2020 enigsins verder gevorder het, of dalk verby is. Maak die Covid-jaar die jaar van lig in jou lewe – dis jaar waarin die lig regtig deurgebreek het, waarin dit regtig Kersfees geword het. Want jy sien, die wonder is dat Jesaja 60 geen leë belofte is nie. Dis geen ydele droom nie. Dis presies waaroor Kersfees gaan.
Mag God self deur die werking van die Heilige Gees hierdie boodskap in jou lewe waar maak, sodat elke dag van nou af Kersfees sal wees, selfs in hierdie tyd van Covid... En al is dit nou al twee dae laat: Mag jy en jou mense ‘n besonder geseënde Kerstyd beleef...
AMEN