Datum: 3 Januarie 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Ek wil vanoggend begin met ‘n vraag: Wat was die seuntjie se laaste woorde aan sy ma voordat hy met sy fiets geval het? “Look Mommy, no hands!” Kyk Mamma, loshande! Dit is presies wat die gelowiges aan wie Jakobus skryf, ook gedoen het. Hoor weer wat sê Jakobus vir hulle in v.13, “Kom nou, julle wat sê “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Hoor jy ook hierdie mense se selfversekerdheid? Die Here en die wil van die Here speel geen rol in hul lewens nie. Hier is geen sprake van dat hulle in afhanklikheid van die Here leef nie, dat hulle die Here in ag neem in hul toekomsbeplanning nie. Hulle leef nie met hul hand in die hand van die Here nie! “Look Mommy, no hands!”
Doen ons nie maar dikwels dieselfde nie? Ons haal so maklik ons hand uit God se hand! Ons begin “los hande” leef - sonder die Here! Ons wil ons eie ding doen. Ons sien God as Pretbederwer en wil ons hande vry hê om alles te kan omhels wat die wêreld ons bied. Of ons reken - soos die mense aan wie Jakobus skryf - ons kan ons eie ding doen, ons eie planne maak: besigheid doen, geld maak, sukses najaag. So haal ons in die proses ons hand uit God se hand. Ons het die Here nie regtig nodig nie. Kyk Mamma, loshande!
Jakobus se lesers het die oggendmis in Palestina geken. Dit gebeur somtyds dat die mis vroegoggend swaar oor die valleie van Palestina lê - soos dit ook maar soms hier in Kuilsrivier gebeur. Maar sodra die son opkom en sy strale oor die aarde uitsprei, verdwyn die oggendmis in ‘n oogwink - is dit opgeklaar! Jakobus gebruik dié beeld om sy lesers oor hul lewenshouding aan te spreek. Hy sê “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre gaan wees nie. Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en weer verdwyn!” Jakobus wys hulle hiermee op die onsekerheid van die mens se bestaan op aarde. Hoe waar is hierdie woorde van Jakobus nie, vriende! Ons(die mens) ken nie die toekoms nie, ons weet nie wat die dag van môre vir ons inhou nie, ons lewens op aarde is kortstondig, verbygaande.En daarby weet ons ook nie wanneer ons lewe op aarde verstryk nie!
Hoe het 2020 nie hierdie waarheid vir ons kom onderstreep nie? Hoe het die Covid 19 pandemie nie ons broosheid, ons nietigheid vir ons kom uitwys nie? Geen een van ons(geen mens) het begin verlede jaar geweet wat in 2020 op ons wag nie. Geen een van ons het onaangeraak deur 2020 gegaan nie! Geen een van ons het geweet in 2020 gaan hierdie pandemie maak dat mense hul werk verloor, swaarkry, siek word en verarm nie. Ons het nie geweet ons gaan geliefdes aan die dood afstaan nie, mense gaan vir dae en weke alleen in hospitale veg om hul lewe nie. Ons het nie geweet ons lewens gaan so drasties verander nie: ons gaan elke dag met maskers rond loop, sosiale afstand moet behou en oral waar ons gaan, sal ons ons hande met hAndréinigers moet spuit nie. Dink net hoe ons as gemeente geraak is. Vir die grootste deel van 2020 kon ons nie eredienste in die kerkgebou hou nie, in groepe bymekaar kom nie, troosdienste hou vir mense wat afgesterf het soos ons dit al die jare doen nie en lekker saamsing nie – veral in Kersstyd het mens dit so gemis! 2020 het v.14 in hoofletters oor ons lewens kom skryf: Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre gaan wees nie. Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en weer verdwyn!
Wat nou gemaak, vriende? Wat staan ons te doen as ons eerstens besef ons trap dikwels in dieselfde slagyster as die mense aan wie Jakobus skryf? Ons skakel gerieflikheidshalwe die Here uit as ons besluite neem oor ons lewens, oor die toekoms. Ons word selfvoldaan en selfversekerd. Ons haal ons hand ongesiens, sonder dat ons dit agterkom, uit die hand van die Here. Wat staan ons nou te doen? Wat staan ons te doen as ons tweedens ook besef ons lewens is in der waarheid soos oggendmis - kortstondig, verbygaande. Dit wat 2020 vir ons kom highlight het?
Hoor wat sê Jakobus in v.15 “Julle moet eerder sê “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Jakobus sê: julle moet terugkeer na die Here, mense! Julle moet julself, jul toekoms, ondergeskik stel aan die Here. Julle moet lewe volgens die wil van die Here. Dit is waartoe die Here ook vir ons roep vir hierdie nuwe jaar. Dit is wat die Here vanoggend vir ons aan die begin van 2021 kom sê: Julle moet eerder sê: As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen. Sien jy kans hiervoor? Ek wil hê jy moet die verskil hoor tussen v.13 en v.15. (Ek vervang “ons” met “ek”). V.13 ”Ek sal na dié stad gaan, ek sal sake doen, ek sal geld maak” en v.15 “As die Here wil, sal ek lewe en sal ek dit of dat doen.”
Die eerste wat van ons gevra word, is om hierdie “ek” te kruisig(ek gaan dit doen, ek gaan dat doen, ek, ek, ek). Om ons eie-ek, ons eie-wil af te sterf, ondergeskik te stel aan die wil van God. Om vir die Here te sê: ek is bereid om afstand te doen van my eie wil, my eie planne, my eie begeertes en behoeftes, die “EK” in my lewe! En die tweede is, dat ons bereid sal wees om oor ons lewe die woorde te skryf “as die Here wil!” Ons ken die woorde D.V. - Deo Volente - as die Here wil. Die ou mense het mos graag bv. gesê, “dan maak ons so, D V.” - as die Here wil. Ons moet bereid wees om 2021 in afhanklikheid van die Here in te gaan(dit is ook wat die opskrif van die gedeelte is: Afhanklikheid van God.) Ons moet bereid wees om die Here se wil te soek en te gehoorsaam, om die Here te ken in alles wat ons praat, wat ons besluit, wat ons doen. Só vriende, hoef ons nie bang te wees vir 2021 nie! So gaan ons die nuwe jaar tegemoed met ons hand in die hand van die lewende God, die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.
AMEN