Kolossense 3:5-11
Datum: 12 Julie 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
PREDIKING
Ek het besluit dat my klerekas ’n drastiese regruk nodig het. My wintersklere is uit die motbol-tas gepak en het hangplek in die klerekas gekry. Carina het voorgestel dat ek dalk ontslae moet raak van die klere wat nie pas nie. Volgens haar is die kanse skraal dat ek in die seisoene wat kom weer daarin sal pas. Ek het stilweg daarmee saamgestem. Nie een nie, maar twee sakke vol klere het naderhand voor die kas gelê. Op ons gesin se whatsapp-groepie het dit begin gons. Boodskappe soos: Raak tog net ontslae van daardie swembroek waarmee pa ons name met ’n plank slaan. Ons middelkind was meer diplomaties en het voorgestel dat sy saam met my ’n draai in die winkels wil gaan maak. Ons jongste het nie op hom laat wag nie en voorgestel dat al die goeters wat dateer uit die dae toe Paul Kruger skrumskakel vir Diggers gespeel het, vernietig moet word. Moet asb. dit nie vir die klerebank skenk nie, ons het ook ons trots was ’n ander ongevraagde opmerking.
Nou moet ek erken dat ek ’n opgaarder is maar ek het nooit besef dat my klerekas soveel ongemak en verwydering in die gesin veroorsaak nie.
Dalk is daar ook ’n kledingstuk of twee in jou klerekas wat jou gesin teen die mure uitdryf. Daardie uitgerekte trui of langbroek of braaibaadjie waarvan jy bitter moeilik van ontslae wil raak? Het jy al daaraan gedink dat daardie kledingstuk werklik ’n verleentheid veroorsaak?
RAAK ONTSLAE VAN DIE KLERE WAT NOG DEEL IS VAN ONS LEWE
In vanoggend se Skrifgedeelte staan Paulus ook voor ons klerekaste en wys vir ons uit wat nie pas by ’n kind van die Here se leefwyse nie. Hy sê daar is klere wat ons aantrek wat nie pas by die styl van Christenwees nie. Onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. Daardie woede-trui en haat-serpie, die braaibaadjie vol nyd, vuil taal en liegstories. Alles kledingstukke wat mense rondom jou ongemaklik maak en in ’n verleentheid plaas. Gewoontes en gedrag wat interpersoonlike verhoudings skade berokken en meer nog, wat ons verhouding met die Here in oneer bring. Wanneer mense sien dat ons hierdie kledingstukke dra vertel dit vir hulle ’n storie. Dit sê dat daar ’n verhoudingsprobleem met die Here is.
Ek het onlangs na ’n video gekyk waarin vertel word hoe die aangrypende skildery van Leonardo da Vinci, die Laaste Avondmaal, die lig gesien het. Nadat ek na die video gekyk het, het ek verder gaan lees om te bepaal of die inhoud van die video nie dalk fopnuus is nie. Baie mense sê dit is die waarheid en baie mense sê dat die waarheid nie bepaal kan word nie. Nietemin, die storie wil dit hê dat da Vinci na modelle gesoek het om die dertien persone by die tafel te skilder. Da Vinci het in sy gedagtes voorgestel hoe die dertien moes lyk en so het sy soektog begin. ’n Lid van die klooster se koor was eerste genader om geskilder te word. Hy het gelyk soos wat Da Vinci vir Jesus voorgestel het. Daarna het die soektog na die ander dissipels maklik verloop. Andréas, Jakobus, Johannes, Filippus en die res van die manne kon hy maklik identifiseer. Maar hy kon nie iemand kry wat volgens sy voorstelling soos Judas gelyk het nie. Da Vinci het selfs die opdrag vir ’n tydperk gestaak omrede ’n model vir Judas nie gekry kon word nie. Maar op ’n dag het Da Vinci ’n persoon tussen die mense raakgesien wat sy voorstelling van Judas soos ’n handskoen gepas het. Daar was ’n hardheid aan sy gelaatstrekke te bespeur. Haat, nyd en woede het uit die man gestraal. Innerlike ongelukkigheid en ontevredenheid was duidelik waarneembaar op die man se gesig. Na baie smeek en soebat het Da Vinci toe die Judas model begin skilder. En op ’n dag, terwyl hulle besig was, het die man troosteloos begin huil. Da Vinci het besorg gevra wat fout is. Die man antwoord toe: Herken jy my nie? Ek was ’n paar jaar gelede een van jou modelle gewees toe jy met hierdie skildery begin verf het. Jy het my destyds gebruik om vir Jesus te skilder.
Kan mens so vêr wegdwaal? Kan mens so vêr verwyderd raak van Jesus dat jou lewe, jou menswees, jou alles heenwys na ’n lewe vol hardheid, ongenaakbaarheid, haat, nyd en woede? Ja, mens kan so vêr val wanneer jy jou rug draai op Jesus. En dit is waaroor Paulus ons waarsku. Paulus sê, raak ontslae, vernietig, daardie dinge wat afstand tussen jou en die Here veroorsaak.
TREK JOU KONINGSKLERE AAN!
Paulus sê vanoggend dat ons van daardie sondige gewoontes en afbrekende gedrag wat afgode word, van ontslae moet raak. Daardie dinge wat ons en die mense rondom ons so verrinneweer. Ons moet daardie onaantreklike en afstootlike klere uittrek en dit vernietig. ’n Verhouding met die Here vra dat jy kies om koningsklere te dra.
Vers 10: God het egter ook vir julle ‘n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy.”
Word meer en meer soos Jesus. Dit is ‘n eenvoudige waarheid. Hoe meer tyd jy doelbewus inruim vir die Here, hoe meer leer jy van sy wil en hoe om te leef. Ons raak al hoe meer soos Hy. Ons begin dinge doen soos Hy dit sou doen, natuurlik deur die Heilige Gees in ons. Die vrug van die Gees raak al meer in ons lewens sigbaar. So verhoog ook ons invloed in die wêreld ter wille van sy Koninkryk.
Van invloed op die wêreld gepraat. Die afgelope tyd het De Eike die verlies beleef van vier geliefde lidmate wat afgesterf het. Ek dink aan tannie Kobie Hanekom, tannie Elsa Müller, Johan van Rensburg en Kosie Steenkamp. Vier mense wat eindeloos lief is vir die Here en diep spore in ons gemeente getrap het. Hulle nalatenskap in die gemeente is onbeskryflik. Op soveel terreine in die kerk en in die samelewing het hulle hulself laat geld en hul stempels afgedruk. Hulle het koningsklere gedra. Hulle het die merk van Jesus op hulle voorkoppe gedra. Dit was vir hulle geensins nodig om te vertel dat hulle koningsklere dra nie. Mens kon dit sien. Ons kon sien dat dat hulle meer en meer soos Jesus word. Jesuskinders by uitnemendheid. Ons kon dit sien in hulle alledaagse lewe, ons kon dit beleef in die manier hoe hulle met mense omgegaan het. Hierdie vier Jesuskinders was soos koeltebome waaronder ons rus kon vind by die voete van Jesus.
SLOT
En dit het my weer laat besef. Om meer en meer soos Jesus te word beteken dat ek saam met Hom tree vir tree gee op die lewenspad.
Jy begin dink soos Hy. Praat soos Hy. Doen soos Hy. En dit is juis God se plan vir ons. Elke mens op aarde moet meer en meer soos Jesus leef.
Vers 10 sê verder: “...So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees.”
Dan kry jy hope energie om te leef waarvoor God jou hier geplaas het. Om jou roeping uit te leef. En hoop en vreugde en vrede vloei uit jou! Mag ons doelbewus soveel tyd in die teenwoordigheid van die Here leef, dat ons meer en meer soos Hy leef! Mag ons meer en meer dink soos Jesus, praat soos Jesus, doen soos Jesus.
AMEN