Datum: 26 Julie 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

‘n Vrou het haar man op ‘n jong ouderdom aan die dood afgestaan. Sy het alleen met die kinders agtergebly. Sy was ontnugterd, magteloos, kwaad. Sy het ‘n stukkie papier geneem en Rom.8:28 in haar Bybel toegeplak. Daarmee het sy te kenne gegee: ek soek nie Rom.8:28 in my Bybel nie, ek kan sonder hierdie vers klaarkom, ek glo nie daar kan enige iets goeds uit hierdie hooplose situasie vir my voortkom nie!

 

Is dit so dat ons dalk beter sonder Rom.8:28 oor die weg sal kom? Kom ons kyk na hierdie vers van nader. Paulus spel in Rom.8 van die wonderlike beloftes van die Here aan

sy kinders uit. Maar Paulus praat ook van die voortdurende stryd wat ons met ons sondige natuur het(v.8), van die sonde - die sondige praktyke/werke wat steeds in ons lewens neerslag vind(v.13) en van die lyding wat ons op aarde sal verduur(v.8) - ook ter wille van ons geloof. Paulus praat ook van die skepping wat saam met ons sug of verlang na die dag van die finale verlossing van hierdie stukkende wêreld(v.26). Aan die einde van die hoofstuk praat Paulus oor dinge soos lyding(swaarkry), benoudheid en vervolging, honger, naaktheid (vertaling: te kort aan klere), gevaar en swaard(mens kan ook sê: geweld of doods-dreigemente).

 

Paulus berei die gelowige voor dat die geloofslewe nie ‘n lewe van net maanskyn en rose is nie, ‘n lewe van net voorspoed en welvaaart nie, van noodwendige gemak en gerief nie. En dit geld vir alle gelowiges. Die eerste gelowiges, die vroeë kerk het dit inderdaad beleef - hulle het lyding en vervolging ervaar. So ook gelowiges deur die eeue heen. En ook ons, ook ons beleef tans of het al op verskillende maniere in die verlede beleef hoedat ons geloof aangeveg word. Ons maak ervarings deur of het al ervarings deurgemaak wat aan ons geloof kom ruk het: teleurstellings, teenspoed, dinge wat ons - soos hierdie weduwee - nie kan verklaar nie.   Hierdie ervarings, hierdie swaarkry wat deel van die geloofslewe is, sou gelowiges kon moedeloos maak, kon laat tou opgooi. En nou het die H.G. vir Paulus gelei om vir ons Rom.8:28 neer te skryf: God laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet. Kom ons kyk wat hierdie vers vir ons beteken.

 

Eerstens die woordjie “alles”. As goeie dinge met ons gebeur, is dit maklik om “ja en amen” op Rom.8:28 te sê. Ek lees in 1950 sou ‘n kerkkoor in Beatrice in Nebraska die Saterdag om

19:15 ‘n kooroefening hê. Die predikant se dogter se rok was vuil, sy moes ‘n ander rok gaan aantrek en was laat. ‘n Skooldogter van die koor wou eers haar wiskunde huiswerk klaarmaak. Twee koorlede wat sou saamry, se motor wou nie vat nie. ‘n Vrou was laat omdat sy haar dogter eers moes gaan aflaai. Een van die koorlede wou ‘n brief klaar skryf en nog een was te lui om te gaan oefen. Die orrelis het aan die slaap geraak en sy en die dirigent was laat. Om 19:25, 10 minute nadat die oefening sou begin, het ‘n gassilinder in die kerk ontplof en die mure van die kerk en dak het inmekaar gestort. Maar daar was niemand in die kerkgebou nie! Toe sê die mense, sien julle: God laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet.

 

Maar vriende, haal ons ewe maklik Rom.8:28 aan as slegte dinge met ons gebeur? As teenspoed ons tref soos ‘n uitmergelende droogte, die skielike afsterf van ‘n geliefde, die Covid 19 pandemie en die gevolge wat dit meebring? Sê ons dan ewe maklik: God laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet? Of raak dit dan vir ons moeiliker? Ons sal moet sê “alles” beteken alles! As hier staan dat God alles gebruik, dan is dit ‘n aanduiding van God se Almag. Dan beteken dit niks in die skepping, niks in hemel en op aarde, is groter as God nie, is bo God verhewe nie. Niks in die hemel of op aarde kan maak dat God sal moet sê “Jammer, Ek kan niks hieraan doen nie” of “Jammer, Ek kan nie dit tot jou beswil laat meewerk nie”. As hier staan dat God alles gebruik, sluit dit ook die negatiewe in, ook die erge rampe of teleurstellings wat ons al oorgekom het, ons grootste mislukkings wat ons gemaak het, die onverwagte, onvoorspelbare gebeure soos wat hierdie vrou getref het. So ook lyding en swaarkry, my hardkoppigheid, my sonde en die foute wat ek gemaak het.

 

Die feit dat God bo alles is, is ten diepste vir ons ‘n troos, ’n sekuriteit, gee vir ons gemoedsrus. Die Heidelbergse Kategismus sê: Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as 'n almagtige God kan en ook as 'n getroue Vader wil doen.

 

Kom ons kyk na die woordjie “ten goede”. Ten goede beteken nie God sal alles vir ons materieël gesproke ten goede laat uitwerk nie. Ten goede beteken nie God sal alles so laat uitwerk dat as iets met my gebeur, ek daarna finansieël beter daaraan sal toe wees nie of in ‘n aangenamer, sorgvryer posisie sal wees nie. Nee vriende, ons het gesien Paulus begin Rom.8 by verlossing(vryspreek) en eindig by verheerliking. Dit gaan dus oor wat vir ons ten goede is op die pad tussen die eerste tree van die geloof en die einde van die geloofspad. V.29 spel dit duidelik uit, “om gelykvormig aan die beeld van die Seun te word”. Ten goede beteken wat goed is vir ons geloofslewe, goed is op ons geloofspad, goed is vir ons geestelike groei, vir ons vorming na die beeld van Christus. Ek is seker ons het almal al ervaring hiervan gehad. Ons lees nie net in die Bybel hoedat lyding gelowiges gevorm het nie, ons het dit ookal self beleef hoedat die Here teenspoed, teleurstelling, verliese gebruik om geloofsgroei in ons lewe te bring, ons nader aan die Here te bring, ons vertroue in die Here te verdiep en te versterk.

 

Die vrou wat Rom.8:28 in haar Bybel toegeplak het, het by ‘n punt aan haar lewe gekom waar sy die papiertjie van hierdie vers afgetrek het. Daarmee het sy te kenne gegee, ek aanvaar wat in Rom.8:28 staan, ek kan nie leef sonder die rykdom van hierdie belofte nie. God is die God wat alles vir my ten goede laat meewerk!

 

Dit bring ons by die Nagmaal. Nagmaal herinner ons aan die grootste onreg wat die mensdom ooit gedoen het. Herinner ons aan die kruisdood van die Seun van God, Jesus Christus, die Sondelose. Nagmaal herinner ons aan hoedat Jesus onskuldig gely het, gekruisig is en aan die vloekhout op Golgota gesterf het. Tog het God Jesus se kruisdood vir ons ten goede laat meewerk. God het deur Jesus se kruisdood vir die mensdom vergiffenis van sonde, kindskap van God, die ewige lewe bewerk.

Laat ons dan, as ons Nagmaal gebruik, eerstens vir die Here dankie sê dat Hy nie sy rug op ons gedraai het na wat sy Seun aangedoen is nie, maar dat Hy die kruisiging van Jesus tot ons beswil laat meewerk het. Maar laat ons onsself terselfdertyd aan die Here toewy, “Here, gebruik alles in my lewe om my almeer na U beeld te vorm.”

AMEN