Romeine 6:5

Datum: 19 April 2019

Prediker: Hannes Burger

Twaalfuur daardie middag het dit helder oordag pikdonker geword. Dit was of God nie langer die lyding van sy Seun kon aanskou nie, is al geskrywe. Asof dit nie God self was wat in Jesus Christus aan die kruis gehang het nie! Ander meen weer Hy wou nie langer nuuskierige toeskouers toelaat om te sien hoe sy Seun aan die kruis ly nie. Maar ek glo daar is ‘n dieper rede. Want die Lig wat gekom het na ons wêreld toe, was besig om uitgedoof te word. Hy het na sy eie mense toe gekom, en hulle het Hom nie aangeneem nie. Hulle het die duisternis liewer gehad as die lig, vertel Johannes. En oorweldig die duisternis hulle. En word dit helder oornag stikdonker. En vanuit die donkerte hoor hulle toe sy laaste woorde aan die kruis, toe Hy sy gees aan sy Vader oorgee en sterf. Die Lig was weg uit ons wêreld.

 

Dis waarom vanoggend se erediens al een op ons kalender is wat nie ‘n feesgeleentheid is nie. Hier is nie vanoggend plek vir lig en vrolike musiek nie. Want al weet ek en jy in ons agterkop dat Sondagoggend wag, en dat die graf Hom nie sou kon vashou nie, staan ons tog vanoggend verslae. Ja, ék kos Hom die slae, die smarte en die hoon. Dis vir my sonde wat Hy daardie bittere kruisweg gegaan het. Ek kan nie vanoggend eenkant staan as ‘n onbetrokke toeskouer nie. Ek kan nie my skouers optrek en die Jode blameer, soos Christene vir soveel eeue gedoen het nie. Want daarvoor spel Romeine 6 dit net eens te duidelik uit. Ek is self deel van daardie verskriklike gebeurtenis op Golgota...

 

  1. Saam met Christus gesterwe

Paulus sê hier reguit: “Ons het saam met Christus gesterwe...” Sy dood was plaasvervangend; dit was in my en jou plek wat Hy daar hang. Dis vir my sonde wat Hy, die sondelose, so wreed gestraf word, van God verlate is. Vanoggend as ek daardie broodjie op my lippe neem en daardie slukkie wyn proe, is dit ‘n bietjie anders as ander Nagmaalsgeleenthede. Want vanoggend weet ek meer as ooit tevore dat dit in my plek is. Dat ek skuldig staan langs die kruis, selfs nog meer skuldig as hulle wat Hom daar vasgenael het. Want hulle het een verskriklike dag die ondenkbare gedoen, maar dis vir ‘n lewe van sonde van my, wat Hy daar hang. En dit breek my hart. Dat dit nodig moes wees. Dat ek  dit nodig gemaak het...

 

  1. Saam aan die kruis

Maar daar gebeur meer nog. Op Golgota neem Hy in sy groot genade my as’t ware onder sy vlerk. Hy tel my saam met Hom op aan die kruis, sodat ek daaraan deel.

Nie aan die verskriklike lyding daarvan nie, maar aan die onuitspreeklike wonderlike vrug daarvan. So goed asof ek self betaal het vir al my sonde, asof ek self my skuld by God gedelg het.

 

In daardie verstikkende duisternis, neem God die skuldbrief vir my sonde, wat ek vermoed al etlike bundels beslaan, en spyker dit saam met Jesus aan die kruis vas. En as Jesus roep: Dit is volbring! dan is daar niks meer van oor nie. Dan is die versoening volkome. Die prys is betaal. Die houvas van die duiwel oor my is gebreek.

 

So word die dag van duisternis ‘n Goeie Vrydag. Nooit weer sal ek en jy hoef te betaal vir ons sonde nie. Nooit weer sal die duiwel ons kan beskuldig en vir ons vertel dat hy met ons na die hel op pad is nie. Want my prys is betaal. Jesus het nie halwe werk gedoen nie – Hy het nie opgegee voordat alles nie volbring was nie.

 

Jy mag dit vanoggend glo. Jy mag dit vir jou vat – dit is waar. Die Here het dit al in die doop vir jou toegesê, voordat jy nog eens ‘n woord daarvan verstaan het. Want selfs nog baie lank voor dit, is die prys al betaal. Jy kan vry wees. Jy is nie meer ‘n slaaf van die sonde nie. Jy is dood daarvoor. Jy lewe nou vir God.

 

  1. Die pad vorentoe

Wat my bring by die ander ding aan Goeie Vrydag, wat ek en jy nie kan miskyk nie. Enersyds staan ons eers oorweldig deur ons eie skuld voor die kruis, om dan die wonder van verlossing te ervaar, wanneer ons besef dat daar aan die kruis ons totale menswees herskep is. Dat die slawebande afgegooi is, en dat ons vry is. Maar aan die ander kant moet ons ook weet dat die pad nie eindig by die kruis nie. Die verhaal van Jesus eindig nie wanneer Hy sy laaste asem uitblaas nie. Want dan sou ons vanoggend en elke Sondagoggend ‘n roudiens moes kom hou, vir ‘n gestorwe leermeester. Maar nou kom dien en eer ons die lewende Here, want selfs nou hier in die donker weet ons al, Hy het opgestaan! Hy lewe tot in ewigheid en Hy is vanoggend saam met ons hier aan die tafel teenwoordig.

 

Maar ook jou pad eindig nie by die kruis nie. Hier begin ‘n nuwe lewe. Want hoe kan jy dood wees vir die sonde, en dan nog daarin voortlewe? vra Paulus. Hoe kan ons, oor wie die sonde geen mag het nie, nog steeds telkens weer daaraan toegee asof dit ons steeds in sy mag het? Dis tog ondenkbaar! “Julle moet altyd onthou dat julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” sê vers 11. Geen deel van ons liggaam mag meer die duiwel s’n wees nie. Geen enkele deel mag meer in diens van die sonde en die ou mens staan nie.

 

Hoe kan ek en jy hier opstaan van die tafel af en aangaan met ons lewe asof daar op Goeie Vrydag niks gebeur het nie? Hoe kan ek en jy voortlewe asof die kruisdood van Jesus geen waarde het, en niks vermag het nie? Dis tog ondenkbaar.

 

Dis waarom Goeie Vrydag ons tot stilte dwing. Dit bring ons op ons knieë. Dit konfronteer ons met die vraag: Here, in watter opsig lyk ek nog soos die ou mens? In watter opsig het ek verlossing nodig, het ek nodig dat die bloed van Jesus my nuut maak, hier aan die voet van die kruis? Watter deel van my lewe is nog nie nuut nie, lyk nog op geen manier tot u eer nie. Dis ‘n geweldig riskante oomblik. Want as jy daardie soort vrae vra. stel jy jouself oop vir God. Jy neem die risiko, want jy weet nie waarop Hy deur sy Gees sy vinger gaan lê nie.

 

Maar dis al manier. Dis al manier hoe jy die volheid van dit wat Jesus aan die kruis vir jou verdien het, sal ervaar. Waag dit daarom vanoggend. Kom sê vir die Here: Ek kom smeek U vandag om vernuwing, van my totale wese. Dankie dat ek in alle opsigte dood is vir die sonde. Help my nou om ook iin alle opsigte so te lewe...

AMEN