Efesiërs 6:10-20
Datum: 22 Augustus 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
STAAN VAS, HOU JOU LYN – MOENIE ’N DUIMBREEDTE TERUGDEINS NIE! – 13de Sondag in Koninkrykstyd
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
- Inleiding. Die duiwel is ’n duiwelse ding! Daarom moet ons nie die duiwel te veel erkenning gee nie. Daarmee wil ek nie die bestaan van die duiwel misken nie. Allermins. Maar gelowiges se kosbare tyd om erkenning aan Jesus te gee word van hulle ontneem wanneer daar te veel oor die duiwel uitgebrei word. Ons moenie agter elke bos ’n duiwel gaan soek nie, want die duiwel is ’n duiwelse ding. Hy is die oorsprong van bose handelings wat dikwels in menslike optrede uitdrukking vind. Hy is die hoof van die vyandelike magte en sy taktiek is gebruikmaking van mense en skemas. So word mense mislei en onkant gevang. Sy aanslae is boos (6:12). Hulle is slinks en fyn uitgewerk. Die duiwel is ’n konkelaar. Daar is geen beginsels en norme nie. Ons hoor die gebulder van sy G5 kanonne op strukture om God daaruit te weer. Ons sien dit in politieke ongeregtigheid. Ons sien dit teen die kerk van Jesus Christus wanneer eenheid tussen gelowiges verbreek word (Ef 2 en 4). Ons sien dit in die liefdeloosheid binne huwelike Ons sien dit in afbrekende gedrag binne gesinne. Geweld, versoekings, magsmisbruik en siekte het die vermoë om ons geloof te knak. Agter alles, sê Paulus, is daar een outeur: die duiwel! Hy is ’n wolf in skaapsklere wat verkies om in die donker te kom. Soms is hy ’n leeu wat brul (1 Pet 5:8), soms ’n listige slang (Gen 3:1). Hy doen hom voor as engel van die lig (2 Kor 11:13, 14). Hy is nie oorspronklik nie, Hy is God se groot na-aper (2 Kor 2:11).
Maar liewe vriende, hierdie na-aper moet ons nie van stryk af bring nie want hy is in sy spore gestuit. Hy is ‘n nekslag toegedien. Onthou julle nog die Golgota veldslag met die doods-akker, waar drie kruise geplant was. Onthou julle dat dit gelyk het asof die Bose oorwin het? Maar Jesus in die graf was God se tydbom in die dood. Op Paassondag is dood en hel die lug in geblaas. Vir die een wat verloor het, is dit net die laaste stuiptrekkings, beseringstyd. Dit is finaal te laat. Sy brul is die laaste geroggel van ’n verslane vyand.
Tog moet ons nie fokus verloor nie. Tog moet ons kennis neem en bedag wees op sy handelinge want as gelowige loop jy met ’n teiken op jou rug.
- As navolger van Jesus het jy ’n teiken op jou rug! Navolgers van Jesus is dikwels juis brose mense. In hierdie uiters ongelyke stryd, is gelowiges besonder kwesbaar. Soveel keer moes ek al hoor: “Ek het dit nie sien kom nie. Ek is onverhoeds betrap. Ek was stadig maar seker in hierdie ding ingedwing. Dit het as ’n eksperiment begin en nou is daar nie uitkomkans nie” Vriende, die vyand is nie ons portuur nie. Ons knieë knak maar maklik. Die vraag is: Hoe gaan ons weerstand bied? Hoe gaan ons die aanslae afweer?
- Hoe gaan jy die aanslae afweer? Staan vas. Hou jou lyn. Moenie ’n duimbreedte terugdeins nie. Ek wil die beeld gebruik van van ’n persoon wat ek nooit sal kan vergeet nie. Sy was saam met my in matriek. Haar naam was SMASH. SMASH was ons skool se eerste meisie-hokkiespan se doelwagter. SMASH was duidelik en SMASH was onverskrokke binne daardie doelhok. SMASH was van kroontjie tot toontjie beskut en geklee met beskermde toerusting. As doelwagter was SMASH nie aanvallend nie. SMASH het gewag. Sy het vasgestaan en die doelhok met alle mag beskerm. SMASH sou alles in haar vermoë doen om te verhoed dat die opponente ’n bal in die doelhok inslaan. Hoekom was SMASH nie bang nie? SMASH was nie bang nie, want...sy het die regte toerusting gedra wat verhoed dat ernstige beserings plaasvind. Net soos die wapenrusting waarvan Paulus praat, net so word ’n doelwagter in ’n hokkiewedstryd toegerus om hom of haarself te beskerm.
En dit is ons taak. Om vas te staan en op ons pos te bly met die wapens wat die Here vir ons gegee het. Ons moet al die wapens gebruik wat God ons gegee het, sodat ons onsself kan verdedig wanneer ons aangeval word. En wanneer die geveg verby is, sal ons nog onoorwonne wees. Laat ons nie ons pos verlaat nie. Dit is ons posisie van krag in die Here. Geloof is ’n eienaardige stryd. Al wat ons moet doen, is om te bly glo dit is klaar gewen! Vanuit hierdie posisie van krag is daar drie dinge wat ons kan doen:
- Leer om op God staat te maak. Moenie dink dat jy die geveg op eie vermoë gaan wen nie.
- Vra vir die Here om jou toe te rus met moed en vertroue. Gebed
- Wees elke dag voorbereid deur jouself oop te stel vir die krag en teenwoordigheid van die Heilige Gees
AMEN