Rom 12:1-8
Datum: 8 Januarie 2023 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Toe ons laas so hier bymekaar was, het ons Nuwejaarsdag gevier. Ons het 2023 saam afgeskop in die kerkgebou. Maar dit onthou jy darem seker nog. Wat jy dalk al wel vergeet het, is dat ons toe gesels het oor wie ons eintlik is, en hoe die manier waarop ons onsself sien, bepaal wat hierdie jaar vir ons gaan inhou. Onthou jy, ek het by herhaling verwys na die gemeente se visie en missie. En omdat ek bang was jy het dalk al daarvan ook vergeet, het ek jou daaraan herinner dat De Eike die wingerd is wat die Here hier in Kuilsrivier geplant het, om vrug te dra deur na mekaar om te sien en ‘n verskil te maak in die wêreld waarin ons lewe.
Ek wonder of jy ooit die week weer daaraan gedink het, toe jy met die Bottelarypad of Polkadraai langs tussen die wingerde gery het op pad Stellenbosch of dalk Paarl toe. Ek wonder of jy ooit in die chaos van die nuwe jaar kans gemaak om stil te word by die Here en jou lewe opnuut aan Hom te wy vir hierdie nuwe jaar?
- Die nuwe jaar
En so is die eerste week van 2023 verby. En vir baie mense is die vakansie verby. Ek hoop die huis het darem nog gestaan toe jy terugkom. En ja, soos jy kan sien is beurtkrag steeds in volle swang, nes toe jy weg is. En het die vakansiestof begin gaan lê. Teen volgende naweek gaan dit waarskynlik vir jou voel of dit nooit vakansie was nie. Trouens, oor nog ‘n week gaan jy dalk klaar begin uitsien na die volgende een.
Maar wag. Kom ons dink net ‘n oomblik oor hierdie nuwe jaar, 2023. Hoe dink jy, gaan hierdie jaar anders wees as enige vorige een? Gaan ons maar tevrede wees om presies net so voort te gaan soos altyd? Gaan ons in dieselfde slaggate trap as vantevore, dieselfde foute maak, ja, gaan ons die Here op dieselfde maniere teleurstel as in die verlede? Is jy regtig tevrede daarmee dat jou verhoudinge maar net so aangaan? Of is dit tyd vir ‘n verandering? Gaan dit dié slag anders wees?
Jy weet waarvan ek praat, want dit gebeur elke jaar. As die branders van die nuwe jaar eers op ons koppe begin breek, gebeur dit verskriklik maklik dat ons die Here so half verloor langs die pad. Gaan dit vanjaar anders wees? Gaan ons dié jaar werklik naby aan die Here lewe, ingeënt op die ware wingerdstok, soos ons verlede week gehoor het, sodat ons baie vrug kan dra? Gaan ons vanjaar werklik vir Hom en vir sy koninkryk ook iets beteken, regtig ‘n verskil maak in die omgewing waarin Hy ons geplaas het? ‘n Ou vriend van my het altyd gesê jy kan maar net blom in die akkertjie waarin jy geplant is – en dis wat ek jou vanoggend moet vra: gaan jy vanjaar regtig blom vir die Here, in die akkertjie waarin Hy jou geplant het?
Een ding is baie seker, hierdie jaar gaan nie sommer vanself anders wees nie. En dit help nie ons wag nie – oor ‘n paar weke, of ‘n maand, gaan ons so opgeneem wees in die jaar se dinge dat die patroon maar net weer homself gaan herhaal. Hoe gaan hierdie nuwe avontuur wat hulle 2023 noem, anders wees? Hoe gaan ons vanjaar afskop? Wat moet ons uitgangpunt, ons vertrekpunt wees? En dis toe wat die Here my die week weer ‘n slag by Paulus se brief aan die Romeine uitbring. Hoofstuk 12. Wat sê dit vir ons hier op die drumpel van die nuwe jaar?
- Onthou die groot ontferming van God!
Nes verlede week, laat Paulus ons eerste van alles ‘n oomblik eers terugkyk. Hy herinner ons aan wat agter ons lê. Onthou van die groot ontferming van God, sê hy. Onthou waarvandaan jy kom - hoe God sy genade en sy seën sonder maat oor jou uitgegiet het toe Hy het jou sy kind gemaak, jou uit genade verlos en aan jou die ware lewe gegee het. Onthou hierdie afgelope Kerstyd, en hoe jy weer die groot ontferming van God by die krip ervaar het. Paulus kom herinner jou, want hierdie herinnering maak al die verskil aan ons lewe. Dit maak dat ons dinge anders ervaar, dat ons onsself totaal anders sien, dit maak al die verskil aan hierdie nuwe jaar. Kom ons herinner mekaar dan, eerste van alles, vanoggend aan die groot ontferming van God.
Eers dan kan ons vra: wat dan nou? Wat volgende? Hoe gaan ons nou reageer op hierdie groot ontferminge?
- Die Logiese reaksie
Daarmee wil Paulus jou help. Daar is net een logiese reaksie op soveel genade, sê hy: “Gee jouself!” Dis al hoe jy kan reageer op soveel genade. En dis eintlik heel verstaanbaar. Want jy weet mos al van kleins af om mooi en reg te reageer op mense. Jy is geleer om, as iemand vir jou ‘n guns doen, mooi “Dankie” te sê en vriendelik te wees. Om vriendelik op iemand se groet te reageer. Om vriendelik te wees met iemand wat jy ken, wat vir jou vriendelik glimlag. En as God Homself aan jou oorgegee het, om jou vry te maak van die sonde en die dood? Dan is die vanselfsprekende reaksie om jouself ook so aan Hom te gee.
God wil niks anders van jou hê nie. Miga sê Hy soek nie duisende offers van jou nie. Na alles behoort al die diere in die wêreld aan Hom! Hy wil hê jy moet jouself aan Hom toewy soos Hy aan jou toegewyd is. Een honderd persent. Dis “die wensentlike van die godsdiens wat julle moet beoefen” sê Paulus. Dis wat godsdiens is. Vergeet godsdiens wat enigsins anders lyk. Vergeet godsdiens wat jy as ‘n bysaak kan beoefen, sonder dat dit te veel inbreuk maak op jou lewensstyl. Vergeet van godsdiens wat jy een maal in ‘n week kan beoefen, en ook net as jy die slag lus is. Vergeet godsdiens wat meer op jouself en jou eie behoeftes ingestel is as op die Here. Want dit is nie godsdiens nie.
Ware godsdiens is om jouself weg te gee vir God. Totaal aan Hom toegewy, want dis wat die woordjie “heilig” beteken wat Paulus hier gebruik.
God het immers self die eerste stap geneem. Hy het van sy kant af gekom, en ons aangeraak. Dis wat Paulus hier noem "Die groot ontferming van God". En daar het alles vir jou begin. Jy het nie sy liefde en genade verdien nie, maar dit het Hom nie gekeer nie. Hy het ons uit genade gered, en aan ons 'n nuwe lewe gegee. Dit is God se kant van die verbond.
Kom gee dan nou jouself. "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir God aanneemlik is. Dit is die wesentlike van die Godsdiens wat julle moet beoefen". Hierdie woordjie “wesentlike" kan jy ook vertaal: "die logiese". Enige ander reaksie is absurd, absolute dwaasheid. Enige ander reaksie is ‘n beleding vir God. God vra van jou jou alles. Jou totale bestaan, jou hele lewe. In elke enkele faset daarvan. En natuurlik is dit ‘n hoë eis, want dit kom nie vir ons natuurlik nie. Dis vir ons veel meer natuurlik om onsself te dien. Dáármee sukkel ons glad nie. Dis maklik om op jouself ingestel te wees, en jou eie belang en gerief te soek!
Maar omdat Paulus dit weet, gee hy self vir ons die oplossing hiervoor. Hy sê in vers 2: "Laat God julle verander." Letterlik staan hier: "Jy moet in die hande van God 'n metamorfose ondergaan." Dis nie net vir bo?langs nuut word nie. Jy moet nie net beter lyk nie. Jy moet heeltemal splinternuut word. 'n Ander, nuwe mens. Jy moet leer om weg te kyk van jouself, op te hou om op jouself ingesteld te wees. En dán is jy eers reg vir 2023. Vergeet van jouself regruk met die regte Nuwejaarsvoornemens – daarmee gaan jy niks bereik nie. Net een ding kan 2023 anders maak. ‘n Wonderwerk. ‘n Ingrype van God in jou lewe. "Laat God julle verander".
Dit maak 2023 anders, want dit maak jóú anders. Paulus teken dit vir ons in Romeine 12: 3?8. Onder beheer van die Gees, is die nuwe jy nie meer net op jouself ingestel nie. Jy behoort na alles nie meer aan jouself nie! Daarom kan jy ook nou ook by ander betrokke raak, by jou mede?gelowiges wat jou nodig het. En dan raak die mooi woorde van ons gemeente se visie en missie ook vir jou waar, wanneer jy jouself weggegee het vir God, en begin dien. Jy is nou ‘n loot aan die wingerd, wat ingeënt is op die stok, en wat baie vrug dra. Dis waarvoor God jou uniek gemaak het, met unieke gawes. Begin dit terugploeg in sy gemeente, tot voordeel van ander. Begin die plek wat God vir jou bedoel het in sy Kerk, vol te staan.
Maar dit lê nog alles in die toekoms. En daarvoor moet jy vandag nuut begin. By Romeine 12:1. Gee jouself werklik aan die Here, en dien Hom met alles. Dán eers leer Hy jou wat ware godsdiens is. En dan wag ‘n onbeskryflike avontuur op jou in 2023...
AMEN