JEREMIA 1:4-9
Datum: 3 Februarie 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
INLEIDING
Dit was skuins na twee die oggend toe die 26 jarige Ashley Smith besluit het om sigarette by die naburige vulstasie se 24uur geriefswinkel te gaan koop. Op pad uit het sy die man in geparkeerde voertuig gewaar maar haar nie veel daaraan gesteur nie. Sy het gedink dat dit een van die bure is wat laatnag êrens gekuier het en nou eers by die woonstelblok se parkeerarea opdaag.Vyf minute later was sy terug by haar woonstel. Terwyl sy besig was om die deur oop te sluit het dieselfde man, wie sy in die parkeerarea gewaar het, sy een hand oor haar mond gesit en met die ander hand ’n pistool teen haar kop gedruk. Ek sal probeer om jou nie seer te maak nie, het hy in haar oor gefluister. Aanvanklik het sy die aanvaller nie herken nie, maar nadat hy sy hoed afgehaal het, het sy die man voor haar herken. Brian Nicols se foto het op al die dagblaaie en TV-nuusflitse verskyn. In die hof het hy die wag oorrompel, haar pistool afgevat, die landdros, die wag, ’n federale agent en nog ’n persoon doodgeskiet en gevlug.Dieselfde man wat vroeër die dag vier persone vermoor het, was nou in Ashley Smit se woonstel. Vreesaanjaend! Ashley het ure met die man gesels en na sy verhaal geluister. Ek verdien nie om hier op aarde te wees nie. Ek Is eintlik alreeds dood.
In die vroeë oggendure het Ashley die moordenaar gevra of sy stiltetyd kan hou. Hy het ingestem. Sy begin toe hardop lees uit Rick Warren se baie bekende boek, Purpose Driven Life. Hoofstuk 33 met die opskrif. Wat is jou doel in die lewe? Stop! Stop net daar. Herhaal asb. wat jy so pas gelees het. Wat is jou doel in die lewe? En net daar, tussen al die bokse wat nog uitgepak moet word, het hulle in diepte begin gesels: Wat is jou doel in die lewe. Mislukkings en sonde. Sy het vir hom gesê dat sy lewe nog nie verby is nie. Dat hy wel ge-arresteer kan word en rekenskap moet gee daarvan wat hy gedoen het, maar dat hy nuut oor kan begin. Dat hy in die voetspore van Jesus kan begin leef. Dalk deur die Goeie Nuus in die tronk te gaan oordra. Lang storie kortverhaal, hy het homself oorgegee. Gaan Google gerus die verhaal. Hierdie storie van Ashley het nie daardie dag en later die nuusblaaie en nuusflitse gehaal nie.
WAT IS JOU DOEL IN DIE LEWE?
Wat sê ons vir mekaar? Elkeen van ons smag na ’n doel in die lewe. Brian Nicols het volgens hom niks gehad om te verloor nie. Tog kry Ashley dit reg om Brian se lewenshorisonne te verbreed. Ashley olie die ratwerke van sy lewensbestaan.
As jy al die fliek gesien het van Dominee Tienie Benade sal jy verstaan. Elkeen smag na ’n doel in die lewe. Elkeen van ons het al op een of ander stadium met die vraag gestoei: Wie is ek? Ek het al self met hierdie vraag arm gedruk. Ek het die afgelope paar maande met hierdie vraag geworstel. Het ek nog ’n doel in hierdie gemeente? Is my en jou werk voltooi in die gemeente? Min mense woon die eredienste by. Kommissies sukkel om lede by te kry. Aksies word nie bygewoon nie. Ons sukkel om ’n aandvoorsanggroep bymekaar te kry. Mense kanselleer op die nippertjie wanneer hulle iets moet doen in die gemeente. Gemeet teenoor ander gemeentes is ons nie suksesvol nie, het ek vir myself gesê. Passie ontbreek. Is ek dalk die oorsaak van die probleem nie.
En weereens het ek besef dat die regte antwoorde in die Bybel gevind word. Ek moet ophou om na mense te luister. Jesus se lewe het aan my nuwe perspektief gegee.
Johannes 17:44Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen.
En ek het myself afgevra: Wat beteken ware sukses? Sukses is nie wat ander mense bereik en ervaar nie. Sukses is nie gelyk aan rykdom of uitnemende prestasies nie. Sukses is nie waar jy staan op die gewildheids-leer nie. Sukses is nie ’n roemryke loopbaan en wat jy al alles in jou lewe bereik het nie. Sukses is om ’n unieke doel in die lewe te vind en om ’n impak in die lewe van ander te maak. Jesus het verklaar dat Hy Sy werk op aarde voltooi het wat aan Hom gegee was om te doen. Vriende, ek het besef dat ek presies is waar ek moet wees. Dit is waar jy moet wees. Om jou unieke talente te deel en diensbaar te wees.
Dit is ’n diepgaande insig wat ons vanoggend moet onthou.
SUKSES WORD NIE GEMEET AAN PRESTASIES OF OM JOUSELF MET ANDER MENSE TE VERGELYK NIE.
SUKSES IS OM DIE DOEL TE BEREIK WAARVOOR GOD JOU GEROEP HET.
JEREMIA GEE AAN ONS PERSPEKTIEF
Jeremia het aanvanklik nee gesê toe God hom roep. In die kerk is dit een van die maklikste dinge om te sê wanneer jy gevra word om betrokke te wees: NEE. Maar God vat nie NEE vir ’n antwoord nie. Dit het Jeremia baie vinnig agtergekom. En God aanvaar nie verskonings nie. Jeremia het met ’n mond vol tande gestaan. En Jeremia het gegaan en in God se koninkryk gaan dien. Jou en my doel in die lewe is om God te verheerlik in alles waarmee ons besig is. En as jy nog sukkel om by hierdie antwoord uit te kom gaan jy nog baie lank met hierdie vraag stoei. Jeremia het geweet wat sy doel in die lewe is. Hy skryf dat die Here die volgende vir hom gesê het: 5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. Duideliker as dit in die verstaan van jou roeping kan mens nie kry nie. Geen wonder dat Jeremia so ’n ontsettende impak op die lewens van die volk gehad het nie. Dis moeilik om iemand te stop wat presies weet waarvoor hy/sy gestuur is. Jeremia het van die begin af geweet wat van hom verwag word. Daar is baie Jeremia’s in die lewe. Mense wat God se stem duidelik gehoor het. Dit is ’n wonderlike gawe. Maar met baie van ons gebeur dit nie so nie. Baie van ons wonder. Soms twyfel ons. Ons swerf rond. Sommige van ons voel asof ons op die verkeerde planeet gebore is. Dit is ’n verskriklike gevoel. As die Here net duideliker aan my wil wys wat ek moet doen vir Hom.
WAT IS MY ROEPING?
Die belangrikste ding wat ons kan doen, is om na Jesus te kyk. Ons hoef nie mense in Japan of of Mosambiek te gaan versorg nie. Dit kan ons roeping wees, maar waarskynlik nie.
Waarna ons moet kyk is na Jesus se voorbeeld van opofferende liefde. Jesus het nie sy lewe daaraan spandeer om nommer een te wees nie. Dit is die tragiek in die samelewing. Ons word ’n ek-gesentreerde samelewing. Al wat saak maak is dat ons moet kry wat aan ons behoort. Ons het selfsugtig geword op ons tyd en alles wat ons besit. Ons dink om mooi goeters te hê is die rede waarvoor ons hier is. Die een met die meeste speelgoed in die buurt is die wenner. Nee daar is meer in die lewe as dit. Kom ek gee julle ’n voorbeeld van ’n persoon wat my verstaan van die lewe verander het.
Ek lees ’n artikel waarin ’n baie bekende teoloog skryf dat hy Albert Schweitzer se boek, Die Soeke Na die Historiese Jesus, gelees het. Albert Schweitzer sou vandag as ’n liberale teoloog uitgekryt word. Iemand wat vreemde dinge in die erediens sou aanvang. Hy was Iemand wat hom deur Jesus laat lei het en nie deur mense nie. Hy was allermins die skoothondjie van die gemeente wat presies moes doen wat die gemeente wil hê hy moes doen. Hy sou nie lank in baie NG Gemeentes gehou het nie. Maar kom ons laat dit daar. Bewapen met ’n potlood het hierdie teoloog Schweitzer se boek uitmekaargetrek. Kantaantekeninge, vraagtekens, noem maar op. Dis mos ons kos! Om kritiek te lewer en alles te bevraagteken!
Op ’n dag lees hierdie teoloog in die koerant dat Schweitzer in Cleveland ’n orreluitvoering in een van die groot kerke gaan gee. Na die uitvoering sal tee en en iets te ete in die kerksaal aangebied word en Schweitzer gaan dan geleentheid gee dat vrae aan hom gevra kan word.
Vir die agtergrond wil ek net noem dat Albert Schweitzer ’n mediese dokter was, filosoof, teoloog, dosent, skrywer. En ’n orrelis by uitnemendheid. Hy was alles. Mens kan sê dat hy al die beste speelgoed in die buurt gehad het.
En hierdie teoloog kon nie wag om vir Schweitzer na die orreluitvoering uit die water te skiet nie. Gewapen met die boek oor die Historiese Jesus en al sy vrae en kritiek wat hy netjies voorberei het, het hy na die orreluitvoering uitgeglip en reg voor in die kerksaal gaan sit. Schweitzer het die saal stadig, gebukkend ingestap, met ’n koppie tee in die hand, ’n groot wit snor. Vyf en sewentig jaar oud. Hy het ’n fantastiese uitvoering gegee. En daar staan hy voor die gehoor. Hy bedank almal. Julle is so goed vir my. En gasvry. Dankie,. Ek wens ek kon langer bly, maar ek moet terug Arika toe. My mense is arm, siek en hulle gaan dood. Ek moet teruggaan. Ons het ’n mediese stasie in Lambarence. As daar iemand is wat regtig in Jesus se spore wil leef en vir Jesus hartstogtelik liefhet, wil ek jou nooi om saam met te soontoe te gaan. En my te kom help.
Die bekende teoloog sê dat hy op sy notas met al die vrae gekyk het en besef dat hierdie vrae absoluut “stupid” vra is. En hy het net weer geleer wat dit beteken om in die voetspore van Jesus te leef. Wat dit beteken om ’n Christen genoem te word. En gehoop dat hy eendag ook so kan wees. Hierdie teoloog was in die teenwoordigheid van ’n man wat geweet het wat sy doel in die lewe is. Om Jesus te dien en om diensbaar te wees.
Wat is jou doel in die lewe? Ek kan vir jou vanoggend net dit sê. As jy vir jouself leef, mis jy die punt. En al die speelgoed in die wêreld sal niks kan verander wanneer die dag kom wanneer ons rekenskap moet gee nie. Elkeen van ons het ’n doel in die lewe nodig.
My liewe vriende, as julle my dalk soek in die gemeente, gaan julle my in die loopgrawe kry. As jy dalk wonder waar julle dominee homself bevind gaan julle my by die gebrokenes kry. My doel in De Eike is twee weke gelede herbevestig deur ’n whatsapp boodskap wat ek van Charles Wolvaardt af ontvang het. Dankie, my broer. En toe ek ’n gesinnetjie se pasgebore baba moes begrawe. Ek wonder wie van ons die hardste gehuil het, ek of Tim ons koster. Toe daardie pappa met klein Karike Li in die wit kissie lykswa toe stap en sy trane op daardie kissie val, toe weet ek hoekom ek hier geplaas is. Julle sal my by daardie mense kry as jy weer wonder of jou dominee sy werk doen. As jy weer kla dat jou dominee afwesig is by eredienste of wat ook al. Onthou net, ek kry een naweek in ’n kwartaal af sodat ek kan herlaai om daar in die loopgrawe besig te wees waarvan baie mense nie eers van bewus is nie.
Wanneer laas het jy die aankondiginge in hand geneem en geblaai na die DANKSEGGING EN VOORBIDDING. En gelees dat Koot van Greunen uit die hospitaal ontslaan is, hom toe gebel het, of nog beter na hom toe gery het en jou hand op sy skouer gesit en hom GEESTELIK versorg het? Nee wag, dis mos die dominee se werk? Hoeveel van ons het al ’n draai gaan maak by daardie gesinnetjie wie se dogtertjie twee weke gelede gesterf het? Of is dit net dominee se werk?
Ek wil julle vanoggend innooi in mense se lewens wat sukkel om verby hulle trane te kyk. Ek wil julle uitnooi om saam met my om hulle laer te trek. Is jy bang oor wat die mense sal sê? Moenie wees nie. Doen wat die Here van jou vra. Vergeet vir slag van wat mense sal dink of sê. Ek lees ook in Jeremia die volgende raak: Moenie bang wees nie. Jou eerste tree is net om in beweging te kom. Dit is wat die Here van jou vra.
Staan op uit die bank en gaan sit of staan langs hierdie gesinnetjie, of by Koot van Greunen, Of Anchen van Wyk of Theresa Swart of George Fullard. Wys daardeur dat jy saam met George en Cathy bly is omdat hy na lang siekbed weer kan gaan werk. Wys daardeur dat dat jy nie sal toelaat dat hierdie gesin deur ons hande val nie. Dis jou doel in die lewe. Om mekaar te versorg en daardeur die Here te verheerlik.
TERWYL EK ’n GEBED DOEN
AMEN