Jesaja 60

Datum: 5 Januarie 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

Die afgelope week laat ek my sowaar ompraat om saam met my vrou ‘n draai in een van die winkelsentrums te gaan loop. Nie dat ek regtig al gereed gevoel het daarvoor nie – ek onthou nog net al te goed die chaos van die tyd voor Kersfees. Maar het my mond oopgehang. Net een enkele wekie na Kersfees is daar in daardie winkelsentrum regtig geen enkele teken van Kersfees meer oor nie. Dis asof dit nooit Kersfees was nie. In plaas van die geklingel van Jingle Bells wat blykbaar veronderstel is om jou net nog méér geld te laat uitgee, was in elke winkel nou net “Terug-Skool-Toe”-aanbiedings te sien.

 

Kersfees het inderdaad gekom en gegaan. En in die proses is ons almal ‘n klein bietjie armer, en hier en daar loop nog een met die oorblyfsels van ‘n glimlag op sy gesig, wat vertel hoe lekker hy weer ‘n slag ‘n kans gehad het om met sy kleinkind te speel. Maar van Kersfees is daar geen teken nie.

 

En dis nou presies op hierdie punt wat ‘n moedswillige jou dalk sou kon vra: En wat nou daarvan? So what? Vir weke was dit al waaroor julle in die kerk gepraat en gedink het, al vandat die Adventtyd vroeg in Desember begin het. Elke Sondag het jy eintlik voor die tyd al geweet waaroor die dominee gaan preek, en wat julle in die kerk gaan sing. Selfs nadat die wêreld opgehou Kersfees vier het, het die kerk nog die week tussen Kersfees en Nuwejaar aangegaan met Epifanie, so al asof Kersfees vir ons darem net eens te lekker is om sommer net te laat gaan.

 

Maar nou is alles regtig verby. Die mooi geskenkpapier waarin die presente so sorgvuldig toegedraai is, is weggegooi en gister het ek selfs die pastorie se liggies ook weer weggebêre. Die hope kos is opgeëet en ek vermoed baie van die speelgoed is dalk al stukkend. Dis daarom ‘n baie goeie vraag: Wat daarvan? Watter verskil het Kersfees in ons lewe gemaak? En as niks anders is na Kersfees nie, waaroor dan al die opgewondenheid in die kerk? Dan is die wêreld mos reg, en is Kersfees niks anders as ‘n inkopiefees, en ‘n lekker kuiergeleentheid saam met familie en vriende nie.

 

  1. Die wonder van Kersfees

Dis dalk ironies dat hierdie einste profeet Jesaja na wie ons vanoggend geluister het, natuurlik ook die ou is van wie ons so baie boodskappe in die Kerstyd hoor. Ek self het die laaste Sondag voor Kersfees nog die erediens begin met die aangrypende woorde waarmee hy Jesaja 9 begin: Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn...  Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

 

As jy na Jesaja luister, kom jy agter hy verstaan van God se lig wat inbreek in ons duisternis, van die kindjie wat gebore is om ons lewe te kom verander. En al skrywe hy dit eeue voor die eerste Kersnag, is dit byna asof hy daar was, want dis presies wat op Kersfees gebeur. God se lig kom na ons wêreld toe, om ons lewens te kom verlig, om Johannes se woorde van eeue later aan te haal.

 

Daardie wonderlike nag toe die helder lig ewe skielik alles rondom die skaapwagters kom verlig het, het God se lig deurgebreek in die duisternis van ons wêreld sondat niks ooit weer dieselfde hoef te wees nie. Op Kersnag breek ‘n nuwe era van lig vir ons aan. Want vir ons is ‘n Seun gebore...

 

Maar nou is Kersfees verby. En wat sê Jesaja vanoggend vir ons?

 

  1. Laat jóú lig skyn, Jerusalem!

Daar is een ding sê die Here, wat jy baie goed moet verstaan. Die fokuspunt van die stryd tussen lig en duister het nou geskuif. Op Kersnag was dit God self, wat sy lig verblindend helder kom aansteek onder ons. Maar nou is dit jou beurt. Nou is ek en jy die draers van hierdie lig. Dit staan hier in vers 1. Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid.” In eenvoudige Afrikaans: God het vir jou lig gebring. Wys dit nou net! Dra dit verder!

 

Eintlik sou dit ‘n ernstige aanklag wees as die wêreld vir ons vra: Wat nou? Watter verskil het Kersfees nou eintlik gemaak? Want ek en jy behoort hulle dadelik te kan te antwoord: Maar kan jy dan nie sien nie? Hoe kan jy die verskil miskyk wat die lig in my gemaak het, in my huis gemaak het? Hoe kan jy die nuwe vrede en vreugde miskyk, van iemand wat oor die rand van die krip geloer en die wonder van God se liefde vir my in aksie gesien het? Hoe kan jy miskyk dat ek die lig gesien het, en in die taal van vers 5 “straal van vreugde, bewe van blydskap?”

 

Daar is vandag donkerte oor die nasies. Ek en jy hoef nie eens daaroor te redeneer nie. Ons lewe inderdaad in ‘n stikdonker wêreld. Maar jy -  jy het die lig gesien!

 

  1. Wat is nou eintlik anders na Kersfees?

Sê my, wat het Kersfees nou eintlik kom verander? Want as daar niks verander wat enigiemand kan raaksien nie, het Kersfees ongelukkig inderdaad totaal by jou verbygegaan. En as Kersfees gekom en gegaan het en die kerk bly maar net presies dieselfde was Advent en Kerstyd ‘n sinnelose oefening. Daarom vanoggend hierdie dringende vraag: Wat nou? Die laaste Sondag voor Kersfees het ek vir jou gesê dat Kersfees ons kom konfronteer met die vraag na wie ek regtig is? My gebed tot God vir jou is dat jy toe regtig jouself opnuut weer voor God ontdek het in hierdie Kerstyd, om Hom met soveel meer oorgawe en nederigheid te dien.

 

Maar nou bring vandag, nou dat die stof gaan lê na Kersfees, ‘n nuwe lewensvraag. Jesaja kom konfronteer jou weer met die vraag: Waarheen is jy nou op pad, na Kersfees? Wat gaan nou anders wees? Jy het opnuut die baba in die krip ontmoet. Wat het hierdie baba aan jou kom verander?

 

Jesaja kom eindig sy hoofstuk met ‘n verwysing na die kleintjies, die swakstes. Want dis mos Kersfeesmense. Dis juis hulle wat God kan gebruik om sy lig uit te dra. Nie die selfstandiges, die selfvolDanés nie. Nie die grotes en die sterkes nie. Die kleintjies. Soos ek en jy.

 

Kom, De Eike, daag Jesaja ons vanoggend hier aan die begin van 2020 uit. Kom, laat skyn jou lig! Vir jou het God hier teen die einde van 2019 opnuut weer sy lig laat deurbreek in die Kerstyd. Gaan nou en gaan skyn dit dan in jou wêreldjie. My ma het so ‘n gesegde gehad as ek regtig iets buitensporig gevra het. “Dis nie aldag Krismis nie” het sy vir my gesê. Maar nou is dit juis jou roeping. Gaan maak dat dit elke dag van die jaar 2020 Kersfees sal wees, oral waar jy kom. Laat die lig van God deur jou skyn...

 

AMEN