1Johannes 5:1-5
Datum: 9 Mei 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
- INLEIDING
Daar is ’n virus wat die wêreld se bevolking al eeue lank besmet en infekteer. Ons het vanoggend daarvan in 1 Johannes gelees. Johannes het in sy lewe dit sien gebeur. Johannes het gesien hoe hierdie virus mense aftakel en die wêreld besmet. Hierdie virus en sy variante is sigbaar binne die sondige wêreld. Daarom waarsku Johannes sy broers en susters hieroor want Johannes is terdeë bewus van die magte en kragte van die wêreld waaraan ons blootgestel word. Mense word meegesleur deur die sondige wêreld se invloede en praktyke. Die wêreld probeer heeltyd om ons in sy vorm te giet. Die wêreld probeer gedurig om ons in sy bepaalde vorm saam te pers. (Rom 12:2). Daarom kan ons vanoggend gerus kennis neem wanneer Johannes ons waarsku: Pasop om soos wêreldlinge te leef en te dink.
Ek dink onmiddellik aan Norman Rockwell. Norman Rockwell skep onbeskryflike kuns wat stories oor die lewe vertel. In een van sy skilderye vat hy hierdie virus waarvan ons vanoggend praat en waaroor Johannes eeue gelede mense gewaarsku het, vlymskerp raak. Dit is ’n skildery wat die waarheid oor onsself uitbeeld Die waarheid oor ’n onpersoonlike, liefdelose samelewing waar interpersoonlike verhoudings nie sigbaar is nie.
In die skildery sien ons die onbeskryflike ingang tot ’n katedraal. Hoog bokant die Gotiese deure sien ons ook die marmerbeelde van die profete, apostels en martelaars.
Op die sypaadjie onder die katedraal se trappe sien ons die besige skare van mense, midde-in die verkeer, op pad na ’n volgende vergadering of wat ook al.
Op die boonste trap staan die koster op ’n leer, besig om op die kennisgewingbord iets te verander terwyl die dominee in sy toga staan en toekyk.
Die nuwe kennisgewing vir die mense wat verby die katedraal stap se oë bedoel. Die kennisgewing lui: “Lift UP Thine Eyes.”
KYK OP!.
Die ironie kan natuurlik in die onderste gedeelte van die skildery gesien word. Elke persoon wat verbyloop is besig met sy eie gedagtes. Niemand kyk op nie. Mense steur hulle nie aan mekaar nie. Meeste mense lyk somber, neerslagtig en afgerem. Met hang-skouers ploeter hulle voort. Uitsigloos met oë vasgenael op die yskoue sementblad van die sypaadjie, terwyl hulle hul aktetasse soos meulstene agter hulle aansleep.
Mense sukkel om op te kyk! Soveel dinge dra daartoe by dat ons nie ’n flenter omgee wat rondom ons aangaan nie.
Kyk Op..... Wat ’n kragtige uitbeelding van vandag se lewe.
Kyk op..... en sien die “Entstof” raak. Kyk op en sien die entstof wat hierdie afbrekende en verwoestende virus en al sy variante ’n nekslag sal toedien.
- KYK OP EN LEEF ’N ALLESOMVATTENDE LIEFDE
Kyk op en sien vir Jesus! Kyk op en bevestig jou identiteit in Christus en span al jou hulpbronne in as ’n kind van die Here sodat jy in Sy voetspore kan leef. Leef ’n allesomvattende liefde. Liefde sonder voorkeure, voorwaardes en grense. Moenie liefde in kompartemente plaas nie. Ons liefde vir die Here word sigbaar in hoe ons liefde aan ons broers en suster betoon. Laat God se liefde sonder voorwaardes en beperkings deur jou na ander mense vloei met wie jy in verbinding kom. Wanneer ons gehoorsaam is en binne God se wil leef, is daar nie ander opsies nie, want liefde = gehoorsaamheid.
- KYK OP EN BESEF LIEFDE = GEHOORSAAMHEID
Vertrou die Here om ons te lei in ons daaglikse roetines. Dalk was Johannes se gedagtes doer vêr in die bo-vertrek toe hy hierdie woorde geskryf het. Want Jesus het uitdruklik gesê: Liefde vir Hom beteken gehoorsaamheid teenoor God (Joh. 14:21) Liefde en gehoorsaamheid kan nie verdeel word nie. Baie mense sê: “Hoe is dit moontlik! Hoe kan ek heeltyd gehoorsaam wees teenoor die Here? Ek vind dit so moeilik. Johannes het so ’n vraag verwag, daarom sê hy dat dit nie moeilik is om God se gebooie te gehoorsaam nie. Kyk na jou eie lewe en sien die waarheid hiervan in jou eie lewe raak. Dink vir ’n oomblik terug na die tyd toe jy en jou pasmaat mekaar ontmoet het. Jy sou waarskynlik alles in jou vermoë gedoen het om jou pasmaat tevrede te stel. En jy het dit met ’n vrygewige hart gedoen. Liefde soek altyd daarna om tevrede te stel. Is jy vanoggend bereid om alles in jou vermoë te doen om die Here tevrede te stel? Kyk net op!
- SLOT
Kyk op en fokus op Christus as ons geloofsvoorbeeld binne hierdie sondige wêreld. (Joh. 16:33 en Heb. 12:1-2). Begin elke dag deur jou vertroue in die Here te her-bevestig en om Sy oorwinning te vier. Kyk op wanneer ons vanoggend saam brood breek. Kyk op wanneer jy vanoggend die tekens in jou hande neem. Kyk op en wees dankbaar dat Jesus se dood en lewe aan jou nuwe lewe gee.
Ons kan nie met geloofsoë vaskyk teen die koue sement nie. Geloof in Christus is ons vryheid en oorwinning oor die sondige wêreld met al sy afbrekende magte en kragte en al die verskillende variante wat daarop uit is om ons lewens te verwoes.
Kom ons lig die kenne, kyk op en leef in geloof!
AMEN