Hier by die Jeugkommissie lê kinders ons uit die aard van die saak baie na aan die hart, en het ons ‘n opwindende projek aan die gang by die Susan La Poorta kinderhuis in Sarepta. In die proses saai ons liefde, en leer ook ons kinders om dit te doen.

Ons projeknaam is mos Voetspore, en ons loop dan in Jesus se voetspore, waar ons telkens kan vra: WWJD “What Would Jesus Do?”

Ons WEET dat kinders vir Jesus ook baie na aan die hart was en in Sy voetspore wil ons graag die Susan La Poorta kinderhuis ondersteun deur te help met die volgende:

  • Beddegoed vir enkelbeddens (duvet oortreksels, “inners”, kussings, slope en lakens)
  • Handdoeke
  • Skoolklere (julle kan Rietta kontak vir groottes)
  • Speelgoed (ouderdomme wissel van babas tot 18 jaar oud)
  • Leesboeke (Afrikaans en Engels)

Ons beoog ook om met ons kerkkinders en al op ‘n uitreik te gaan en te help met onderhoud van hulle klimrame, geboue, ensovoorts. Laat weet as jy daar ‘n handjie kan gee, hetsy met materiaal of kundigheid.

Ondersteun ook asseblief ons koffieprojek (bestellings kan by die kerkkantoor geplaas word). Die wins word weer teruggeploeg in ons projekte in Kuilsrivier. Jy kan ook ‘n swart klippie met wit voetspore koop teen R25. In ‘n donker wêreld (swart klippie) bring ons lig met ons spore (wit voetjies)!

En so, met almal se hulp, loop ons LIGVOETS, in Jesus se spore!