16 November 2017

n Paar jaar gelede kyk ek een aand op die televisie na ‘n woordvoerder vir die een of ander groep wat weer chaos in een van ons stede se strate veroorsaak het. “Ons is ‘n radikale beweging” het hy ewe selfvoldaan kwytgeraak, “en ons het radikale doelstellings!”

Ek het summier die kanaal verander. Want jy weet nie waarvan jy praat nie, het ek gedink. Wat jy doen is nie radikaal nie – dis die norm. Om selfsugtig en geweldadig op te tree, is nie radikaal nie. Om jou volgelinge te beveel om hulle vyande lief te hê en te bid vir dié wat hulle vervolg – DIS radikaal. Om terug te staan en ander te dien, en om die vrug van die Gees te vertoon waar jy ook al gaan, dis radikaal. Want dit druis in teen alles wat vir ons natuurlik kom. Dis totaal anders….

En dis die kern van dissipelskap. Want Jesus roep ons nie om Hom te volg met geringe aanpassings in ons leefpatroon nie. Jy kan nie sy dissipel wees en eintlik maar net aangaan soos altyd nie. Dis mos wat dit beteken as Jesus sommer baie reguit vir sy volgelinge sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry” (Matteus 16:24-25). Geen wonder dat ‘n klomp van sy meelopers sommer net daar en dan besluit het dat hulle regtig nie daarvoor kans sien nie!

Natuurlik is dit tipies mens, dat jy alles vir jouself so gemaklik as moontlik gaan probeer inrig. Ons almal is geneig om Jesus te probeer volg soos dit ons pas, en vir ons gemaklik kom – kruis opneem klink darem regtig nie lekker nie! Die probleem is net dat daar nie regtig so ‘n opsie bestaan nie. Kyk maar weer mooi wat sê Jesus in die versie wat ek hierbo aangehaal het: dissipelskap is radikaal. As jy agter Jesus aan wil kom, is dit die enigste opsie – daar bestaan nie ‘n “Light” weergawe daarvan nie!

Die volgende jaar gaan ons ‘n bietjie hierop fokus. Ons wil dissipels wees soos Jesus dit van ons verwag. Ons wil ‘n kerk wees wat tot sy eer sal wees. Ons wil Hom kompromieloos volg. Dís mos nou ‘n radikale doenstelling!