22 Februarie 2018

Ons het op dié stadium groter duidelikheid omtrent ons kwartaal uitstappie!  Die uitstappie sluit twee stoppe in.  Ons gaan eers Bellevue Landgoed besoek.  Ons wil graag die seniors die geleentheid gee om van naderby te sien hoe die prosesse werk om by dit uit te kom wat ons gewoonlik net in die glasies sien en geniet!  Ons gaan die kelder besoek waar ons gaan sien hoe die druiwe ingebring word, “getip” word, die druiwekorrels en die stingels geskei word en die sap gepomp word na die tenke.  Hopelik sal ons darem ook van die mos kan proe (ek sal vir Dirkie mooi vra)!  Daarna vertrek ons na Groenland (Kosie Steenkamp) waar Helene vir ons iets te ete en te drinke gaan aanbied.

Julle sal sien dat die vertrektyd 09:00 is.  Dit gee ons geleentheid om teen ongeveer 11:00 op Groenland te wees (tensy van julle ons ophou by die kelder?).  Alle senior burgers is uitgenooi!  Bespreek asseblief by die Kerkkantoor.  Dui aan of jy met die bus gaan ry of op jou eie.

Datum: Dinsdag 6 Maart 2018

Tyd: 09:00 vanaf De Eike kerkgebou

Kostes: Sal op Sondag se aankondiginge wees.

Ons sal voor etenstyd terug wees by die kerk.

Johan Morkel

Ns. Ongelukkig bots hierdie uitstappie met ons Senior Bybelstudiegroep se byeenkoms. Dit kon nie anders nie. Moenie dat dit jou te veel ontstel nie – ons sal volgende Dinsdag daaroor gesels. Hannes.