12 Junie 2020

Na ‘n laaaaaaang tyd is ons weer terug by die skool en volstoom aan die gang.

 

Dit was heerlik om almal weer te sien … kollegas en daarna die kinders. Ek het opnuut besef hoe ons almal mekaar nodig het en wat dit is om afgesonder te wees. Ons leerders lê ons baie na aan die hart. Elkeen in ons klasse vul ‘n spesiale plekkie in ons harte … elkeen het sy/haar eie persoonlikheid wat op sy/haar manier waarde toevoeg tot jou lewe, en eers wanneer hulle nie daar is nie, mis jy daardie ‘morning ma’am’, ‘have a nice day ma’am’, of daardie een wat sien wanneer jy ‘n afdag beleef en jou ‘n drukkie kom gee.

 

Hoe ervaar ek en ook my ander kollegas die leerders na hierdie inperking?

 

Hulle het groot geword, volwasse, stil, ja, veral stil. Hulle beleef ‘n onsekerheid oor wat die toekoms vir hulle inhou. Ons maak gereed vir nog ‘n ‘inperking’. Notas word vir die res van die jaar vir elke leerder (ook vir grade 8 tot 11) afgerol … hulle sluitkaste moet leeg gemaak word … alles moet huistoe gaan, sodat hulle alles by hulle het, indien dit sou gebeur dat die skool weer sluit.

 

Ons klasse is in groot lokale … die saal, VIP-vertrek in die Aktiwiteitsentrum, personeelkamer. Kleiner klasse word verdeel in twee groepe. Die eerste groep het onderrig in die eerste tydgleuf van die periode terwyl die ander groep in ‘n toesigklas sit. Sodra die klok lui, ruil die twee groepe … dan het die ander deel van die klas weer onderrig.

 

Ons kinders is ongelooflik. Hulle kom alle reëls t.o.v. maskers dra en distansiëring na. Hulle luister aandagtig in die klas. Hulle is maar tevrede as die juffrou meer werk doen as normaal in ‘n lang periode van bietjie meer as ‘n uur.  Hulle kla nooit … al is dit hoe moeilik om konsentrasie te behou.  Hulle is dankbaar.

 

Hoe ervaar die kinders hierdie hele nuwe manier van skool?

 

Ek praat vanoggend met twee van my kinders. Die een sê vir my … ‘Ma’am my stress levels are super high’. En dadelik dink ek  … wat ek ek geweet van stress levels toe ek in matriek was? Niks in vergelyking met wat ons kinders vandag ervaar nie.

 

Een van my ander kinders is in afsondering. Hy het nie Covid nie, maar het ‘n mediese kondisie wat maak dat hy in isolasie is. Hy het egter vandag ingekom skool toe om van sy onderwysers te sien. Hy bly in ‘n lokaal totdat almal uit die gange is na wisseling, dan gaan hy na die volgende onderwyer toe. Toe ek hom vra wat sy ervaring is, is sy antwoord …’Ma’am, I saw my friends this morning for the first time, but could not talk to them’. Dit het my hart gebreek. HOE alleen moet hy wees?

 

Van die kinders is bang … baie bang. Van hulle het nooit hulle huise verlaat tydens hierdie hele inperking nie. Hulle trek daai hoodie oor die kop, die masker is groot … jy sien letterlik net twee ogies wat vir jou kyk. … en dan weet jy nie wat die naam is wat by die ogies pas nie, want alles is toe, bot toe.

 

Ek is ‘n drukkie-juffrou, en ek huil maklik saam met my kinders wanneer hulle seer is … maar ek mag hulle nie druk of vashou nie.

 

Ek sê vanoggend vir ‘n klein groepie wat by my gestaan en gesels het dat hulle die EERSTE matriekgroep in die wëreld, in die ganse geskiedenis is, wat hierdie volwasse-word ervaar. Baie vinnig moes hulle groot word, weet hulle het nou ‘n groot verantwoordelikheid wat op hulle skouers rus, weet hulle matriekpret gaan nie wees nie,weet interskole is afgestel, weet daardie uitdraf as eerstespan gaan nie gebeur nie. My hart breek vir ons kinders, maar ten spyte daarvan sit hulle skouer aan die wiel, werk hard want 2020 is nog nie klaar nie. Hulle gee nie op nie. Ekl is so so trots om ‘n Kuilie te wees.

 

Ek tree die einde van die jaar af … na 32 jaar by De Kuilen Hoërskool … en nooit, nooit het ek gedink my laaste jaar sou so verloop nie.

 

Bid, bid asseblief vir ons kinders … op die naam, dié wie julle ken en ook vir die wie julle nie ken nie. Bid asseblief vir ons onderwysers, ons het julle gebede SO nodig.

 

Groete.

 

Ronél Sadie