30 November 2018

FOR THE LEAST OF THESE…

Matthew 25:31-46

Rahul en Lorette – Gebedsbrief Nr 4/2018

Liewe Vriende,

Ons groet julle weereens hartlik vanuit Suid-Afrika en Indie. Ja, ons as gesin is tans weer op twee verskillende vastelande, maar ons is dankbaar om te kan se dat dit met ons almal goed gaan. Hierdie is heelwaarskynlik ons laaste brief vir 2018 en aan die einde van elke jaar kyk ons mos maar terug oor wat was en wat alles gebeur het. Vir ons was 2018 beslis ‘n jaar met vele uitdagings – en die storm is nog nie verby nie… Ons bootjie skommel maar nog woes in die branders, maar ten spyte van baie onsekerhede en vrae, afskeid en trane, kan ons getuig dat Jesus ons nie een maal alleen gelaat het nie. Almal van ons beleef storms, trouens, in hierdie ou gebroke wereld sal ons seker nooit volkome windstiltes beleef nie. Dit is goed om te weet dat ons mekaar kan bemoedig en “bebid”, want more is ons waters dalk rustiger en iemand anders klou weer vir lewe en dood!

Rahul het in September SA toe gekom en was vir ‘n maand en ‘n half hier. In daardie tyd kon hy heelwat werkies in en om Lorette se ouerhuis doen, tyd met sy gesin spandeer, en vir ons lekker vleis braai! Hy is tans weer terug in Indie en daagliks by die Sorgsentrum en Wassery. By die Sentrum begin hulle nou voorberei vir die jaarlikse Kersprogram en Winterprojek. Elke winter koop ons warm klere en komberse om onder ons kinders en ander persone wat in die slumgebiede of op straat woon, te versprei. Ons winters kan baie koud raak en dit is hartverskeurend om te sien in watter haglike omstandighede mense die koue moet trotseer! Die Kersprogram is natuurlik vir ons kinders een van die hoogtepunte van die jaar, en Rahul is opgewonde om daar te wees vir dit. Bid dat elke kind ‘n diepe wete sal he waaroor Kersfees werklik gaan en dat hulle sal reageer op die uitnodiging van die Een wat vir hulle na hierdie wereld gekom het.

Rani, een van ons ouer meisies (nou al ‘n jong vrou van 20), is swanger met haar tweede baba. Sy is nie gesond nie en ondergaan tans toetse om te probeer vasstel wat fout is. Tydens ‘n sonar is daar ook uitgevind dat haar baba nie behoorlik groei nie en dat haar vrugwater gevaarlik min is. Bid asb vir Rani en haar ongebore baba.

By die Wassery werk die personeel soos gewoonlik hard. Ons bly dankbaar vir die Here se seen op die besigheid, dit is alles net genade en ons Loof Hom vir dit! Ons bid dat Rahul die nodige wysheid en geduld sal he om sy personeel te lei terwyl hulle voortgaan om die besigheid volgens God se beginsels te bedryf.

Priyanka en Nadia het hulle skooljaar voltooi en na ‘n asemskeppie van ‘n week sommer weer ingeval met hulle volgende jaar se werk. Wanneer hulle later erens ‘n behoorlike ruskans kry, sal ons reeds ‘n entjie weg wees met die werk, wat goed is.

Julle sal dalk onthou dat Sushma, wat by ons in die huis werk, nou al vir baie jare probeer om ‘n huwelik vir haar oudste dogter te reel. Agv geweldige sosiale druk (iets wat moeilik is vir ons wat nie in Indie grootgeword het om te verstaan), het Sushma begin om Hindoe mans vir haar dogter te oorweeg. (Dit is sal ‘n gereelde huwelik wees.) Daar was al ‘n paar keer tot ‘n huwelik ingestem, maar deur die Here se genade het daar nog elke keer iets gebeur en is dit weer gekanselleer. Vir Sushma (en natuurlik vir Sunita, haar dogter) is dit elke keer ‘n verleentheid en baie traumaties, maar ons bly vertrou die Here vir ‘n Christen man vir Sunita. Ons glo dat Sushma diep in haar hart weet dat sy ook op God moet bly vertrou, maar dit lyk asof sy desperaat genoeg is om ‘n kompromie aan te gaan. Ons het almal reeds ons se gese… nou kan ons net bid dat die Here sy wil sal laat geskied.

Die toekoms vir Lorette se ouers is steeds nie duidelik nie. Hulle huis is nog nie verkoop nie; ook hiermee bly vertrou ons die Here vir sy perfekte wil en leiding tov die pad vorentoe vir hulle twee. Ons vra dat julle asb sal voortgaan om saam met ons hiervoor te bid.

Ons wil afsluit deur vir julle opgreg dankie te se vir nog ‘n jaar se voorbidding en ondersteuning. Dankie vir elke bemoedigende briefie of oproep. Dankie dat julle omgee en dit wys – ons is so geseend om julle in ons lewens te he!

Ons wens vir elkeen van julle ‘n besondere Geseende Kersfees toe en bid dat die nuwe jaar Voorspoedig sal wees. En dat ons almal bowenal nog nader aan ons Vader sal wees…

Kontak ons asb terwyl ons hier in SA is. Ons sal so graag van julle wil hoor. En onthou, ons bid ook baie graag vir julle!

Mag die Here julle elkeen baie ryklik seen!

Rahul, Lorette, Priyanka en Nadia

Selnr in SA: 0761149812

Lanlyn nr in SA: 023-4151637

Whatsapp nr: +919935012009