25 Januarie 2019
Inleiding: Is dit ooit nodig?
Ek het al oor die jare heel dikwels lidmate hardop hoor wonder of eksegese regtig waarde het. “Ek lees die Bybel soos ‘n kindjie” sê hulle dan gewoonlik, asof dit eintlik verkeerd is om té diep in ‘n teks te delf. Nou kom laat ek sommer reg aan die begin sê: hulle het wel ‘n punt beet. Die kerk ontdek al meer die waarde van ‘n kinderlike lees van die teks, sonder om jou met ingewikkelde vrae besig te hou – of om net eenvoudig “stil te word voor die teks”. Dit het vir seker ook waarde in ‘n gelowige se lewe! Dis na alles Woord van God, en die Gees kan in die stilte baie duidelik met jou praat uit sy Woord.
Maar daarmee het ons ook al iets baie belangriks oor die Bybel gesê. Juis omdat dit God se Woord is, wat die rigsnoer van ons lewe is, wil ons graag weet presies wat die Bybel vir ons sê. Ons weet immers hoe maklik ons mekaar verkeerd verstaan, al het ons die beste bedoelings. Enige getroude persoon sal vir jou kan vertel hoe dikwels ons by mekaar verbypraat, vinnige (verkeerde) afleidings maak en dan eindelose onnodige spanning ervaar. Dis niks anders met die Bybel nie – behalwe dat jy nie hier luister na iemand wat jy goed ken, wat elke dag in dieselfde wêreld as jy lewe nie. Dele van die Woord is amper drie millennia gelede op skrif gestel, en is selfs nog baie ouer as dit, omdat dit vir eeue mondelings oorgedra is. Jy kan dit eenvoudig nie lees soos vanoggend se koerant en dink jy sal dit regtig verstaan nie!
Dis waar “eksegese” vandaan kom. Dis ‘n sistematiese proses waardeur ons die Bybel (of eintlik enige ander teks) probeer verstaan. Dis eintlik ‘n wetenskaplike dissipline. En natuurlik is dit aansienlik meer moeite as om net ‘n teks bo-langs die lees! Maar omdat die boodskap van die Bybel vir ons so belangrik is, wil ons dit juis nie bo-langs lees nie. Ons WIL weet wat God vandag vir ons uit sy Woord wil sê!
Daar bestaan ‘n ou gesegde in die kerk “Elke ketter het sy letter” – jy kan die Bybel gebruik om omtrent enigiets te bewys, as jy wil. En dis presies wat ons wil vermy: dat elkeen die Bybel willekeurig interpreteer sodat dit op die ou end meer my woord as God se Woord word…
Een laaste vragie vir vandag: As ons die Skrif dan nou wetenskaplik wil verstaan en uitlê, wat word dan van die leiding van die Heilige Gees? Is dit nie baie meer gelowig om Hom net vertrou dat Hy ons sal help om die Bybel te verstaan nie?
Die antwoord is dat die twee mekaar nie uitsluit nie. Die Here lei ons juis deur sy Gees, deur ons te help om eerstens deur eksegese te verstaan wat daar staan, en dan tweedens te verstaan wat dit vir ons wil sê. Die twee sluit mekaar vir seker nie uit nie!
In die volgende paar weke gaan ons kyk na ‘n paar riglyne wat ons kan help om makliker te verstaan wat die Bybel vir ons sê. Ek beloof dit gaan nie te tegnies raak nie (eksegese, as ‘n wetenskap, kan nogal!) maar dit gaan vir seker jou insig in jou hantering van die Bybel aansienlik aanhelp.
Gordel vas, hier kom ‘n heerlike reis saam!