8 Februarie 2019
n Bietjie hersiening: Verlede week het ons gesien dat dit nie altyd so maklik is om die boodskap van die Bybel reg te hoor nie – daar het na alles al etlike millennia verloop sedert dit geskrywe is! Vandag gaan ons bietjie verder, en gesels oor die eerste vraag wat jy jouself moet afvra oor die taks wat voor jou lê:
- Watter soort teks is dit hierdie?
Het jy al ooit die verleentheid ervaar, dat jy iemand net heeltemal verkeerd gelees het? As jy byvoorbeeld aangeneem het hy het ‘n grappie gemaak terwyl hy doodernstig was oor iets, of omgekeerd, as jy hom ernstig geneem het as hy eintlik net ‘n grappie gemaak het? Dan sal jy goed verstaan hoe belangrik dit is, dat ‘n mens iets verstaan soos die persoon bedoel het.
‘n Goeie voorbeeld uit die Bybel is Rigters 9:8-15, die storie van die bome wat vir hulleself ‘n koning gekies het. As jy dit nog nooit gelees het nie, hier is dit:
“Die bome het op ’n dag gegaan om vir hulle ’n koning te salf. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Wees koning oor ons!’ Maar die olyfboom het vir hulle gesê: ‘Moet ek my olie prysgee waarmee eer betoon word aan gode en mense? Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’ “Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Kom, wees jy koning oor ons!’ Maar die vyeboom sê vir hulle: ‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee? Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’ “Toe sê die bome vir die wingerdstok: ‘Kom, wees jy koning oor ons!’ Maar die wingerdstok sê vir hulle: ‘Moet ek my wyn prysgee, my wyn wat gode en mense bly maak? Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’ “Toe sê al die bome vir die doringbos: ‘Kom, wees jy koning oor ons.’ En die doringbos sê vir hulle: ‘As julle my werklik wil salf sodat ek koning oor julle kan wees, moet julle almal in my skaduwee kom skuil. As julle dit nie kan doen nie, sal daar ’n vuur uitgaan uit die doringbos uit en dit sal die seders van die Libanon verteer.”
Hoe dink jy moet ‘n mens hierdie teks verstaan? Moet jy dit letterlik opneem, soos wat jy die notule van ‘n kerkraadsvergadering sou lees? Natuurlik nie – jy kry sommer dadelik die gevoel dat ons hier met iets heel anders te doen het, en dat dit ‘n onreg aan die teks sou doen as jy dit letterlik sou opneem! Dis duidelik nie ‘n stuk geskiedskrywing hierdie van iets wat so gebeur het nie. Ons noem dit ‘n fabel (‘n verhaal waarin diere of plante menslike eienskappe toegedig word, en bv. met mekaar kan praat). Om die waarheid te sê, hierdie is die enigste fabel in die Bybel, maar as jy dit nie so verstaan nie, gaan jy ‘n klomp vreemde afleidings maak, en in verleentheid kom.
Dis dan die eerste belangrike ding wat jy oor eksegese moet leer: die Bybel bestaan uit verskillende soorte letterkunde (“Genres”). Jy moet dit eintlik nie soseer as ‘n enkele boek beskou nie, maar eerder as ‘n biblioteek vol verskillende soorte boeke. Daarin sal jy geskiedenisboeke vind, poësie, wetboeke, lewensbeskrywings, Evangelies (wat heeltemal ‘n genre op sy eie is), briewe en openbaringsgeskrifte (soms “apokaliptiese boeke” genoem). En natuurlik een fabel!
Dis dan vraag een, as jy die Bybel probeer verstaan: watter soort teks het ek hier voor my? Op watter rak van die biblioteek pas hy in? Dan het ek al ver gevorder in my poging om die teks regtig te verstaan…