8 Februarie 2019
Die Bybel is ‘n bilblioteek!
Hersiening: Verlede week het ons ontdek dat ‘n mens nie alle dele van die Bybel op dieselfde manier kan lees nie – die Bybel bestaan uit verskillende literatuursoorte (“genres”), en jy kan nie ‘n fabel lees asof dit ‘n stuk geskiedskrywing is, of ‘n gedig lees asof dit ‘n wettekodeks is nie. Dan gaan jy dit heeltemal misverstaan!
Ons het ook gesien dat ‘n mens nie die Bybel as ‘n boek moet beskou nie (alhoewel dit tog ook ‘n wonderlike eenheid is, met goue drade wat dwarsdeur loop) maar dit eintlik eerder as ‘n biblioteek van boeke moet sien. Vandag gaan ons hierdie gedagte bietjie verder ondersoek. Hoe lyk hierdie biblioteek van naderby?
Wel, soos enige biblioteek die boeke op verskillende rakke uitstal, waarop die verskillende genres saamgegroepeer is, so sou ons ook die Bybelboeke kon groepeer. Ons vind in die Bybel die volgende genres:
- Geskiedskrywing (Jos., Rigt. Kon., Kron, ens)
- Profesie (Jes., Jer., Eseg, ens.)
- Poësie (Psalms)
- Wysheidsliteratuur (Spreuke, Hooglied, Pred.)
- Wette en voorskrifte (Lev., Numeri)
- Evangelies (Mat, Mrk., ens)
- Apokaliptiese geskrifte: (Op., Dan., ens)
- Ander kleiNeré eenhede: Biografië
Gelykenisse
Fabels
Reisverhale
Dis belangrik dat jy elkeen van hierdie verskillende literatuursoorte volgens sy eie reëls lees en verstaan – anders gaan jy dit heeltemal misverstaan! ‘n Klassieke voorbeeld hiervan is die eerste drie hoofstukke van die Bybel. Baie mense verkies om die skeppingsverhaal en die verhaal van die sondeval letterlik te lees – asof dit ‘n stuk geskiedskrywing is, of ‘n wetenskaplike uitseensetting. As jy egter hierdie teks mooi bekyk (veral in die oorspronlike taal) kom jy gou agter dat jy hier met ‘n gedig te doen het. En ons weet almal dat jy nie ‘n teks so letterlik kan lees nie.
Om dus reg te laat geskied aan Genesis 1-3 moet jy dit soos ‘n gedig lees – en dit skep heeltemal nuwe verstaansmoontlikhede! En presies net so raak dit die uitdaging vir die verstaan van enige Bybelgedeelte. Die heel eerste vraag wat ek myself moet afvra, is: met watter soort teks het ek hier te make? Voor watter rak in die Bybelbiblioteek staan ek vandag?